DIE KLEIN MAN SE LOT
Zuko Mayoli was ’n uitsonderlike werker. Hy was pligsgetrou en verantwoordelik – ’n staatmaker. Die boer vir wie hy gewerk het, het groot planne vir hom en sy jong gesin gehad.
Onlangs moes hy en sy vrou, Pamela, Queenstown toe reis vir inkopies. Net buite die dorp, op die skerp draai voor ons plaashek, jaag twee polisiemanne op pad terug dorp toe met ’n vangwa trompop in die motor vas waarin hulle gereis het. Pamela en vier ander insittendes, ook een van die polisiemanne, is op slag dood. Zuko is met ’n gebreekte rug hospitaal toe, waar hy later die aand beswyk het.
Of die polisiemanne aangeklam was, soos wyd bespiegel word, kan nie meer vasgestel word nie. Van geregtigheid is hier min sprake. Zuko se dogtertjie, Xolani, word nou as wesie groot. Haar beskeie lewe is eenvoudig nie belangrik genoeg vir ons reg nie.
Dit is hoekom regter Siraj Desai se opspraakwekkende hofuitspraak in die Kaapse Hooggeregshof so belangrik is. Want, anders as vir Zuko, het geregtigheid dié keer vir die gewone man op straat geskied. Kredietverskaffers, skuldinvorderaars en hul gewetenlose prokureurs buit plaaswerkers al jare lank uit, het regter Desai bevind. Dit ondanks die feit dat Suid-Afrika ’n staatskredietreguleerder het wat spesifiek sulke hartelose uitbuiting moet keer.
Eers word die werker deur sy eie onkunde in skuld gedompel. Dan word nóg krediet voorgeskiet teen astronomiese rentekoerse. Wanneer die plaaswerker nie meer sy skuld kán terugbetaal nie, tree die uitbuitery in. ’n Loonbeslagleggingsbevel word teen die skuldenaar aangevra in ’n landdroshof honderde kilometer van waar die skuldenaar woon en werk, en sommer deur ’n gewone hofklerk bekragtig. Só begin die plaaswerker se nagmerrie.
Die enigste rede dat hierdie onreg aan die groot klok gehang is, is omdat Wendy Appelbaum, ’n skatryk wynplaaseienaar en filantroop, sowat twee en ’n half jaar gelede met ’n skok agtergekom het haar plaaswerkers moet tot 80% van hul salaris afstaan weens loonbeslagleggingsbevele. Net daar sleep sy die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, die Minister van Handel en Nywerheid, die Nasionale Kredietreguleerder en die regsfirma Flemix en Vennote saam met 13 kredietverskaffers hof toe. En wen.
“Dit was soos ’n feeding frenzy op die armes, wat nie toegang tot die reg het nie. Daar was absoluut geen begeerte by die Regering om die proses te rig en wette in te stel wat dié tipe gedrag keer nie,” sê sy.
Dit is die kern van die saak. Die Regering wil alles beheer, van eiendomsreg tot water en krag. Hy dring daarop aan om die mag te hê om vir gewone mense voor te skryf hoe hulle hul lewens moet lei. Maar wanneer dit kom by die bestuur van daardie verantwoordelikheid, skiet hy keer op keer tekort.
’n Polisiemag wat die landswette gehoorsaam en op wie gewone burgers kon staatmaak, kon Zuko se lewe gered het. Verhindering dat armes liederlik deur skuld uitgebuit word, kon volgens baie mense grootliks bygedra het tot die voorkoming van die WesKaapse arbeidsonluste én die slagting by Marikana. Maar dit het nie gebeur nie, en op daardie Saterdagoggend was daar ook geen Wendy Appelbaum vir Zuko Mayoli nie. –