BOKHAARMANNE DOEN DIT STIL-STIL
EN DAAR trek die land se sybokhaarboere vanjaar toe op na Graaff-Reinet vir hul jaarlikse kongres, wat vir die eerste keer in 50 jaar nie in die Baai gehou is nie. Die Wol- en Bokhaarbeurs in die Baai, waar dit gewoonlik gehou is, is ’n paar jaar gelede deur BKB gekoop, in moderne kantore omskep en die veilingslokaal is onderverdeel.
Moet egter nie ’n fout maak nie – vir die twee dae wat die kongres in die saal van Graaff-Reinet se botaniese tuin gehou is, kon daar na hartelus gesmul en gedrink word.
Maar ook anders as die dae in die Baai toe die sybokhaarmanne mekaar woes aan die baadjielapelle rondgepluk het, was dit vanjaar ’n stil affêre. Daar was net ses beskrywingspunte op die sakelys en nie eens een was omstrede nie, dus geen rede vir ’n bekgeveg nie.
Nou waarom is almal so allervriendelik, wonder Manie. “Ja,” seg ’n veldbeampte van CMW, “dis omdat die manne soveel geld maak. Al het die prys van kleinbokkiehaar dié seisoen nie waffers gepresteer nie, was die vraag na grootbokhaar uitstekend en dít is daar waar die gewig én die geld lê.”
As daar na die aanbiedings van Sybokhaar Suid-Afrika (SSA) se bemarkingsvroue geluister word, is dit duidelik dat die SSA besig is om die wêreld met sybokhaar te oorrompel. Dit is nou sedert hy ’n paar jaar gelede die kundigheid van mode- en lewenstylkenners, soos die Nederlandse Lidewij Edelkoort, ingeroep het. En dit is klaarblyklik nie ’n gier nie – dit is hier om te bly.
Hoe anders sal ’n man, soos mnr. Phillip Stucken – wie se Uitenhage-verwerkingsaanleg op Paassondag grootliks deur ’n brand as gevolg van weerlig vernietig is – besluit om nie sy versekeringsgeld te vat en terug te keer na sy heimat nie?
Phillip, nou in sy 70’s, het die hartsnare van bokhaarboere geroer toe hy vertel het hoe sy familie in Duitsland hom ná die brand gesmeek het om sy belange in Suid-Afrika tot geld te maak en daar te kom aftree. “Ek het besluit dat Suid-Afrika ondanks al die probleme, insluitende beurtkrag en die arbeidsonrus waarvan ons elke dag lees, steeds die beste land bly om in sake te doen. Volgende jaar teen Maart sal ons aanleg in volle produksie wees en sal ons die modernste toerusting hê.”
Ná die brand was daar vrese dat die bokhaarmark sou tuimel, aangesien dié onderneming meer as die helfte van Suid-Afrika se skeersel koop en verwerk. Maar toe kom sy opposisie, die Samil-groep, en bied aan om intussen sy verwerkingsgeriewe tot beskikking van die Stuckens te stel. Dit is gebare soos dié waarom sybokhaarboere maar in vrede hul bokkies kan vertroetel. Welgedaan, reken Manie.
BAKHAND LAND BANK
’n Klomp van Manie se vriende by landboubesighede het die week laat hoor van hul gesukkel om uitbetalings uit die Land Bank te kry. Dit duur glo al maande lank. Nou hoor Manie die probleem lê nie by die Land Bank nie, maar eintlik by die Regering wat nie meer genoeg geld aan die Land Bank, wat die afgelope vyf jaar sterk groei getoon het, kan voorskiet nie.