Sojasaad te duur? HOF SÊ BEVELE OM OP LONE BESLAG TE LÊ, IS ‘ONWETTIG, ONGELDIG’
’N SOJABOER se saadrekening kan tot byna ’n kwart van sy veranderlike koste beloop as hy geen terughou-saad van die vorige seisoen gebruik nie, wys berekeninge deur ekonome van Graan SA.
Landbouweekblad het by die produsente-organisasie navraag gedoen oor sojasaadkoste nadat boere gekla het dat dié pryse vir hulle buitensporig hoog raak.
Mnr. Willem Engelbrecht, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (Sansor), wys daarop dat die ontwikkeling van nuwe saad gekortwiek word omdat boere te veel saad op hul plase terughou.
Mnr. Corné Louw, ’n ekonoom van Graan SA, bevestig dat die koste van sojasaad amper die duurste van al die algemene kommersiële saaigewasse se saadkoste kan wees, veral as ’n boer al sy saad koop en geen saad gebruik wat hy van die vorige jaar teruggehou het nie.
Louw sê die terughou van saad word nie aanbeveel nie. As finansiële toestande egter ’n boer daartoe dwing, beveel hulle aan dat die boer elke jaar ten minste ’n deel van sy saad nuut moet koop.
Dit is ’n algemene en gevestigde praktyk onder sojaboere om ’n deel van hul bone as saad vir die volgende seisoen terug te hou omdat dit ’n oopbestuifde gewas is.
Louw sê dit is nie noodwendig die ideaal nie, maar gegewe die koste van die saad is dit vir baie boere die praktiese werklikheid.
Die vraag na sojasaad het ook die laaste paar jaar só dramaties toegeneem dat die saadmaatskappye tans nie in die volle nasionale behoefte kan voorsien nie.
Louw benadruk dat dit belangrik is om die korrekte opbergingspraktyke te volg as sojabone wel as saad teruggehou word.
GEHALTE IN GEVAAR
Me. Petru Fourie, ook ’n ekonoom van Graan SA, se berekenings vir die komende seisoen wys dat ’n tipiese sojaboonboer in die oos- telike streek wat 60 kg saad per hektaar plant se saadkoste 23,4% (R1 716/ha) tot sy totale veranderlike koste bydra as hy al sy saad vir die seisoen nuut sou koop. Dit is gegrond op ’n saadprys van R715 vir ’n 25 kg-sak.
As hy die helfte terughou-saad en die helfte nuwe saad sou plant, daal dié persentasie tot 15,3%; en as hy net terughou-saad sou plant, verlaag dit tot net onder 5%.
Louw sê terughou-saad gaan ook met koste gepaard omdat dit eerder as kommersiële gewas verkoop sou kon word. Die koste daaraan verbonde is dus die prys wat die boer vir dié bone sou kry as hy dit as kommoditeitgewas sou bemark het.
’n Mens moet ook in gedagte hou dat die risiko wat die boer loop om die saad self terug te hou, nie in dié koste verreken is nie. Die gevaar is dat die saad se gehalte teen die volgende seisoen dalk nie meer goed genoeg mag wees nie.
Die heersende Safex-prys vir sojabone wat teen Mei volgende jaar gelewer moet word, is sowat R4 900/ton. As bemarkingskoste van R60/ton afgetrek word, laat dit ’n produsenteprys van R4 840/ ton (R4,84/kg) in die boer se sak.
’n Sak saad van 25 kg wat R715 kos, verteenwoordig ’n saadprys van R28,60/kg.
Prysstatistieke toon dat die verskillende saadmaatskappye se pryse van verlede jaar tot vanjaar gemiddeld van 2% tot 11% gestyg het. Die groter prysstygings was vir GM kultivars, waarvoor daar tegnologie-geld betaal moet word en die kleiner stygings vir nie- GM kultivars.
Louw sê Graan SA, Sansor en Agbiz Grain werk nou aan ’n eindpunt-tantieme-stelsel waarvolgens saadmaatskappye vergoed kan word vir die uitwerking wat die terughou van saad op hul belegging in die sojaboon-saadbedryf het. “Dit behoort die bose kringloop wat duur saad en die terughou van saad skep, uit te wis.”
– MARLEEN SMITH
IN
’n opspraakwekkende hooggeregshofbeslissing wat verreikende gevolge vir die kredietverskaffings- en skuldinvorderingsbedryf inhou, het regter Siraj Desai beslis 15 loonbeslagleggingsbevele teen onder andere plaaswerkers is onwettig en ongeldig.
Hy het ook bevind dat dele van die Wet op Landdroshowe (Wet 32 van 1944), wat klerke toelaat om beslagleggingsbevele te bekragtig, ongrondwetlik is. Die aansoeke mag ook net in een jurisdiksie aangehoor word (waar die saak ontstaan het, of waar die skuldenaar woon).
Dit gebeur meer gereeld in die landbou as in enige ander bedryf dat aftrekkings sonder hofbevele gedoen word, sê mnr. Clark Gardener van die finansiële welstandsfirma Summit. Een van hul ondersoeke op ’n Wes-Kaapse vrugte- en wynplaas het getoon tot 56% van die beslagleggingsbevele was onwettig.
Die filantroop en wynplaaseienaar me.Wendy Appelbaum het sowat 2½ jaar gelede besef haar plaaswerkers moet tot 80% van hul salarisse opdok weens beslagleggingsbevele. Sy het besef daar is onreëlmatige praktyke aan die gang en het kragte saamgesnoer met Summit en die regsfirma Webber Wentzel om dit aan die kaak te stel.
Die Universiteit Stellenbosch se Regshulpkliniek het in Februarie ’n saak teen die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, die Minister van Handel en Nywerheid, die nasionale kredietreguleerder, die regsfirma Flemix en Vennote en 13 kredietverskaffers (heelwat van hulle die maatskappy Bridge Debt en sy filiale) gebring. Webber Wentzel se pro bono-afdeling het namens die Regshulpkliniek opgetree.
SEGE VIR ARM MENSE
“Dít is ’n oorwinning vir die armes. Ek glo dit gaan baie geld in hul hande, en in die ekonomie, terugplaas. Dit het ook gevolge vir diegene wie se beslagleggingsbevel-sake nie voor landdroshowe gebring is nie,” het Appelbaum ná die uitspraak gesê.
Volgens haar is dit nie private individue se plig om so ’n aansoek te bring nie.
“Die Regering moet na armes omsien, maar ek het besef dit word nie gedoen nie. Ek is baie ingenome met die feit dat ek 2½ jaar se energie en tyd aan hierdie saak bestee het.”
LINKS: Me. Lucinda Bailey, een aansoeker in die loonbeslagleggingsaak, sê in die hof dankie aan me. Wendy Appelbaum, wat die dryfveer agter die saak was, nadat regter Siraj Desai in hul guns beslis het. FOTO: DEON RAATH, DIE BURGER
welkom en sê die grootste voordeel is dat personeel doeltreffender benut sal word en daar groter kruisbestuiwing van idees sal wees. “Al die betrokkenes in die bedryf ondersteun die veranderinge en boere behoort die meeste daarby baat te vind,” het De Klerk bygevoeg.