ALBERTSWART
Die historiese plaas Rietfontein lê in die Grootriviervallei naby die Wes-Kaapse dorpie Prins Albert. Die plantegroei en topografie maak dit enige jagter se droom – of hy nou met ’n boog of geweer aanlê. Boonop word jou vleis in die moderne slaghuis op die plaas verwerk en ’n kudde Damara-skape sorg vir ’n ekstra vetjie vir wildwors of plat frikadelle. Die bestuurder en beroepsjagter Albert Swart vertel van die plaas van 16 000 ha waarop 16 soorte wild loop. Rietfontein bestaan uit vier plase en hier is ’n ryk geskiedenis met fossiele en grafte van Britse soldate wat nog te siene is. Ons boer ekstensief met wild, het ’n Boran-stoetery met 120 diere en ’n troppie Damara-ooie en Persie-ramme wat ons vir vleisverwerking gebruik. Die veld is baie uiteenlopend. In die droë rivierlope is dit ruig met soetdorings en seepgannas, maar die rante is oper, met jakkalsbossie, ghwarriebos en die gewone Karoobossies. Hier is diep klowe en rante. Dit is dus moeiliker om hier te boer as op ’n gewone, plat Karooplaas.
Met watter wild boer julle?
Ons boer met al die vlaktediersoorte, soos springbokke, gemsbokke, swartwildebeeste, blesbokke en rooihartebeeste. Die diersoorte kom natuurlik hier voor. Hier is ook koedoes, rooibokke, waterbokke, rooiribbokke, kameelperde, njalas, elande, klipspringers, steenbokke, duikers en volstruise wat goed aard. Daar is ’n jagmark vir ál die diersoorte, daarom hou ons hulle aan.
Hoe benut julle die wild?
Rietfontein is hoofsaaklik ’n jagplaas, maar ons vang ook van die diersoorte (kameelperde, koedoes en gemsbokke) en verkoop dit aan ander plase of wildreservate. Ons lok plaaslike en internasionale jagters, veral uit Kanada, Amerika en Duitsland. Hier kom jaarliks sowat 185 jagters in 37 groepe jag. Almal gaan nie veld toe nie, dikwels kom ’n jagter se gesin saam vir vakansie. Jagtery is maar ’n klein afdeling van ’n wildboer se besigheid. Dit bring wel die geld in, maar jou bestuur gaan bepaal hoe suksesvol jy is. Ons glo in die vereniging vir beroepsjagters se filosofie, naamlik: Verantwoordelike jag vir volhoubare lewe en lewensonderhoud. Ons kontroleer gereeld ons wildgetalle.
Wat maak julle met die vleis waarin internasionale trofeejagters nie juis belang stel nie?
Ek verkoop dit aan slaghuise in my omgewing om my jagkoste te dek.
Hoe lyk wildsvleispryse en hoe vergelyk dit met, byvoorbeeld, beesvleis?
Die wildsvleisprys is bestendig die afgelope paar jaar en klim stadig as jy dit met ander produkte vergelyk. Ek kry sowat R22/kg vir die gewilder diersoorte (heel karkasse). Ons kry sowat R24/kg tot R28/kg vir beesvleis. Dis vir ons winsgewender om met wild te boer, want daar is geen arbeids-, veeartsenyof doseringskoste nie. Wildboere sal verseker baat vind wanneer wildsvleis weer na Europa toe uitgevoer kan word.
Hoe dra die wildbedryf by tot voedselsekerheid in Suid-Afrika?
Hoe meer plase die wildbedryf betree, hoe meer wildsvleis gaan beskikbaar word. Daar is geen vermorsing met wildsvleis nie. Die harslag word gewoonlik deur die plaas se werknemers verdeel, maar nou sien ons daar is ’n groter vraag na organe by die slagplase. Supermarkte koop die beter snitte, wildswors, -biltong en -droëwors. Selfs die bene word deur sopkombuise benut om aan arm mense te voorsien.
Wat is jou mening oor die kleurwild wat deesdae sulke mal pryse behaal?
Dit het ’n gunstige uitwerking op die pryse wat ’n wildboer vir gewone blesbokke, rooibokke, blouwildebeeste en gemsbokke kry. Sakemanne of boere wat met kleurvariante boer, gebruik dit as “splits” in hul kudde. Almal vind baat, behalwe vir die plaaslike jagter wat nou meer moet betaal vir die bok wat hy wil skiet.
Wat is jou gunsteling-wildsvleisgereg?
Ek hou van ’n jong speenvlakvarkie op die spit met ’n tuisgemaakte sous, of springbokrugstring wat in olyfolie, worcestersous en sojasous gemarineer word en met feta en groenvye of camembert en warm mosterd gevul word, of springbokstuk in krummels, kruie en parmesaankaas gerol. As dít nie jou gaste beïndruk nie, dan weet ek nie . . .
min dinge beter as ’n taaierige, warm ribbetjie om aan weg te lê terwyl jy na ’n goeie game kyk.
Ons familie maak ’n okkasie van osslag. Dis sommer ’n groot storie en ons nooi meestal ’ n paar families oor om deel van die vleiswerk te wees. Die slag van die bees vind so twee weke vooraf al plaas en dan begin al die oproepe – resepte en idees word uitgeruil dat dit klap om die jaar se beesslag die beste een ooit te maak! Maar eers wag die kortrib, en my mond water al klaar.
Tot ons weer gesels, lekker eet!
Ons jaarlikse osslag is ’n groot gedoente vir my familie en almal wyd en syd word genooi. Maar eers moet ek met ’n paar pakkies kortrib van die vorige slagdag wat in my vrieskas vergete gebly het, afreken.