Landbouweekblad

GROEN VINGERS — ’N PLEK OM DIE VLEISPOT

- ALETTE DE BEER

anoggend vroeg, toe die koue sonstrale oor die witgerypte pluime van die boesmangra­s streel, trek die bakkies op ons werf in en die jagters kom gejas en gehandskoe­n agter wit asemwolkie­s deur die voordeur. Elkeen se koms word deur die stampstamp van swaar veldstewel­s op die deurmatjie aangekondi­g.

Kort voor lank is die kombuis vol kakie-en-denimmanne wat ’n hoopvolle kringetjie om die gasstofie met die ketel maak. In hul gedagtes is hulle reeds in die veld met ’ n vuurtjie om die yswind opdraand te gee. Hulle warm op met ou jagstories, spekuleer oor die meriete van verskillen­de teleskope, haal mekaar uit oor wie laat geslaap het en wie verlede jaar watter maklike skoot verbrou het en wie die meeste hekke vandag moet oopmaak, slyp tussendeur nog ’n mes en pak ’n ysterpan, ’n ui en ’n peperpot vir die tradisione­le lewergereg, alles met so ’n vasberade gees.

Objektief beskou, is daar geen verklaring vir die opgewonden­heid nie. Jag is eintlik nogal ’ n ongemaklik­e, vuil storie. Die manne kom uitasem terug, vaal van die stof, bloedbespa­t en poegaai van bergop en bergaf en koedoe sleep deur die haakbos.

Ons praat nou nie hier van geblikte jag nie. Dit is ’n spul wilde koedoes wat jou skaars ’n sekonde gee om te korrel voor hulle vlugvoets oor die volgende bult verdwyn en ’n halfuur se bekruip verder agter ’ n haakbos gaan skuil waar net ’ n baie geoefende oog hulle weer kan uitmaak. Of hulle spring oor die draad na buurman se grond toe en staan dan doodluiter­s op ’n gemaklike skietafsta­nd in die oopte en wei. Soms val die bok op ’n moeilik bereikbare plek, diep in ’n kloof of op ’n bergtop, dat hulle hom net daar met ’ n knipmes ( wat vergeet het hy’s pas geslyp) in stukke saag en dan die hompe vleis op hul skouers bergaf dra met bloed wat oor hul skouers en gesigte stroom.

NATUURMENS­E

So, waarom doen hulle dit, jaar na jaar? Die jagters wat hier aankom, is nie bloeddorst­ige mense of grotmanne met groot ego’s wat moet wys hulle is baas nie. Hulle het nie normaalweg ’n groot strewe om iets dood te maak nie. Dis veldmense, buitemense wat die natuur respekteer, wat wil weet van die bome en die voëls en die grasse en ewe graag ’n kamera as ’n geweer op ’n mooi dier sal rig.

Die gesprek kom weer terug na die afgelope weke se mymeringe oor die koste van kos. Nie in rand en sent nie, maar in lewens ( van luise en muise tot voëls en erdvarke, want waar trek jy nou die lyn?), in water, in brandstof, in biodiversi­teit, in besoedelin­g of bewaring, in verpakking en vervoer, in land- bouproduks­iemiddele, soos misstowwe en gif. “What’s good in a mind if you can’t change it?” het my ouma graag gesê. Sekerlik kan iemand my nog oortuig dat my keuse om vleis, en veral wildsvleis, te eet, nie eties verdedigba­ar is nie. Maar as ek kyk na die landskap waar die koedoes wei: Die klowe vol varings en olienhout, ryk aan lewe, teenoor die landskap vol plat geel sirkels waar my ontbytpap vandaan kom, en ek kyk na die soort kameraderi­e en gesprekke en bewustheid wat rondom die jag en eet van wildsvleis ontstaan, klop die skaal nog.

VLEISETER SE TOETS

Voor ek plaas toe getrek het, wou ek myself toets om te sien of ek regtig ’n vleiseter is: Of ek ’n bok in die oë kan kyk, self die sneller trek en steeds die vleis wil eet. Ek dink hierdie “dorpsmeisi­e”, wat in haar rooi kollerokki­e ’n bok bekruip en uiteindeli­k oor kêrelman se skouers aangelê en geskiet het, was een van die vreemder verskynsel­s wat die plaas nóg beleef het.

Toegegee, ek het hulp gehad: Die 2250 was seker effens lig en my “perfekte bladskoot” het nie die kanniedood-blesbok oortuig om bes te gee nie . . . Kêrel moes hand bysit met die doodskoot. Ek kan dus nie te breëbors wees oor my jagtog nie, maar dit was nogtans ’n goeie ervaring.

Ek verstaan nou die opwinding en die amperse wens jy skiet mis as jy die pragtige dier deur ’n teleskoop bekyk en die oomblik wat alles stilstaan voor jy die sneller trek. Daardie een bok was ook vir eers genoeg, die manne moet nou weer hul tradisione­le pligte nakom. Ek sal sorg dat daar lekker slaai op die bord is. Maar ek het die vreemde ooreenkoms met myself nagekom en meen ek het my plekkie om die vleispotte verdien. En daai blesbok- kwesbok se rugstring, wat ek per ooreenkoms self moes braai, was doeksag. Alette woon op ’n plaas naby Prieska. Sy is ook ’n beroepsver­taler.

Voor ek plaas toe getrek het, het ek myself deur ’n vreemde toets gesit: Ek moes self ’n v bok skiet en die vleis voorberei.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa