KOS AL NODIGER, SLAGGATE AL DIEPER
Voortgesette beleggings in die landbou in Afrika suid van die Sahara en goeie ekonomiese groei is noodsaaklik. Voorspellings dui daarop dat die aantal mense sonder voedselsekerheid skerp gaan toeneem.
Die getal mense wat voedselonseker is, word tans geraam op 254 miljoen, of 28,4% van die streek se bevolking. Dit gaan toeneem tot 30,4% in 2025.
Betroubare navorsing en vooruitskattings oor landbouvooruitsigte en die stand van voedselsekerheid in die volgende tien jaar toon uiteenlopende neigings. Aan die een kant word verwag dat landbouproduksie sal bly groei, hoofsaaklik gedryf deur tegnologie en verhoogde produktiwiteit. Maar ten spyte daarvan gaan die hoeveelheid mense sonder voedselsekerheid in Afrika suid van die Sahara toeneem.
As jy dus internasionaal mededingend wil wees, wat Suid-Afrika móét wees met sy oopgrens-beleid, sal kommersiële boere moet bly belê in nuwe tegnologie en hul uitset per eenheid inset verhoog.
Te midde daarvan gaan die land in ’n streek wees waar voedselonsekerheid en tekorte aan basiese voedsel gaan toeneem. Die vraag is, hoe gaan ’n mens jou besigheid posisioneer om in dié omstandighede geld te maak en aan die voorpunt te bly?
Die ANC en sy alliansievennote maak beleidsuitsprake ten opsigte van beperkings op die kommersiële landbou en ’n terugbeweeg na kommunale grondbesit. Die realiteit is egter dat hy besig is om teen die internasionale stroom te probeer swem. Dit is net ’n kwessie van tyd voor dié werklikheid oor die Suid-Afrikaanse landbou en die ekonomie gaan spoel.
Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie en die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling se landbouvooruitsigte vir die tydperk 2015 tot 2024 toon dat die reële pryse van landbouprodukte op hoër vlakke gaan beweeg as in die vorige dekade, maar dat dit nie skerp gaan styg nie.
Die rede, volgens hul ontledings, is dat
tegnologie en produktiwiteit produksie gaan bly aanvuur, terwyl die bevolkingsgroei in ontwikkelde ekonomieë gaan stagneer en die vraag na voedsel gaan verander namate die bevolking verouder.
Daarteenoor gaan die bevolkingsgroei en vraag na voedsel bly voortduur in ontwikkelende lande, veral in Asië en Afrika. Dit is volgens navorsing van die Amerikaanse departement van landbou, wat internasionale voedselsekerheid vir die tydperk 2015-2025 ontleed het.
PRYSE
Die verwagting is dat internasionale landbouprodukpryse in reële waarde ( Amerikaanse dollar- pryse) stadig gaan bly styg. Indien ’n land in Afrika suid van die Sahara se geldeenheid nie stabiel bly teenoor die dollar nie, maar bly verswak, soos algemeen verwag word, sal plaaslike pryse en dié van ingevoerde produkte al hoe meer styg in die plaaslike geldeenheid.
Aan die ander kant sal jy al hoe meer verdien met uitvoer, hoewel die dollar-prys nie veel gaan styg nie. As jy jou vaste koste vir die volgende tien jaar kan vaspen, terwyl jou produkprys in rand kan bly styg, wil dit voorkom jy moet net jou produksiekoste bestuur of in ’n bedryf wees waar direkte produksiekoste nie so groot deel van jou totale koste is nie. Koringboere moet jaarliks oppas dat hul produksiekoste (waar produksiemiddele die grootse deel van die koste is) nie vinniger styg as die koringprys nie. Onthou, die kunsmis, brandstof en masjiene word ingevoer, asook die meeste koring.
Daarteenoor sal ’n neutprodusent, byvoorbeeld, se grootste uitgawes die vestiging van die boord en besproeiingsinfrastruktuur in ’n spesifieke jaar wees. Hoewel dit aan die begin sowat 70% van die totale koste kan wees, is die koste vas in rand en gaan dit dus konstant bly. Sy lopende produksiekoste (wat sal styg) is in verhouding laag. Sy produkprys sal bly styg vanweë die verswakking van die rand.
Ons behoort baie meer gesprekke te voer oor hoe om bogenoemde tot die boer se voordeel te benut. Jy sal moet aanpas by die verwagte makro-omgewing, want kommersiële boere kan dit nie beïnvloed nie.
VOEDSELSEKERHEID
Luidens die navorsingsverslag van die Amerikaanse departement van landbou, getiteld International Food Security Assesment, 2015- 2025, gaan die persentasie mense wêreldwyd wat nie genoeg voedsel het nie, afneem. Die aanduidings is egter dat die groei in landbouproduksie in Afrika suid van die Sahara gaan agter bly.
Die GRAFIEK hieronder toon die verwagte voedselonsekerheid in verskillende streke.
Afrika suid van die Sahara is die streek met die grootste voedselonsekerheid ter wêreld, en dit neem toe. Die getal mense wat voedselonseker is, word tans geraam op 254 miljoen, of 28,4% van die streek se bevolking. Dit gaan toeneem tot 30,4% in 2025.
Die ontledings is gegrond op die feit dat ’n mens sowat 2 100 kalorieë per dag nodig het. Die ontleding werk dan volgens dit wat geproduseer gaan word teenoor wat nodig is
om die bevolking op dié standaard te voed. Die tekort is die gaping waar mense gaan honger lei of die tekorte ingevoer moet word. Dit kyk ook na lande se vermoë om in te voer en daarvoor te betaal.
Afrika suid van die Sahara se produksie gaan tekort skiet, asook die streek se vermoë om in te voer en vir ingevoerde produkte te betaal ( TABEL). Dit beteken landbouprodukpryse in die streek gaan op invoerprysvlakke bly, en met swak infrastruktuur gaan voedsel duur bly. Die ontledings is gegrond op die Internasionale Monitêre Fonds en die Wêreldbank se verwagte verloop van die streek se makro-ekonomie en die beskikbaarheid van voedselhulp aan die streek.
Hoewel Suid- Afrika as sulks nie te sleg vaar nie, is die meeste van die land se buurlande se posisie aan die verswak. So, buitelanders gaan aanhou om na Suid- Afrika te kom of voedsel sal vanaf Suid-Afrika na hulle moet beweeg.
Die lande wat die slegste daaraan toe is, is die Sentraal- Afrikaanse Republiek, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Burundi, Eritrea, Somalië, Lesotho, Swaziland, Zimbabwe en Tsjad. In Zimbabwe het 80% van die bevolking nie voedselsekerheid nie. Dit het toegeneem van 10,5 miljoen mense in 1995 tot ’n verwagte 14 miljoen in 2015. Dit is die gevolg van die “verinheemsing” van die ekonomie en die landbou.
GROEI NODIG
Ten slotte, hoewel die navorsing nie ingestel is op oplossings nie, maar aandui waarheen die streek op pad is, is die gevolgtrekking dat twee aspekte belangrik is.
Eerstens is voortgesette belegging in die landbou in die streek ’n voorvereiste.
Tweedens moet ekonomiese groei redelik stewig wees en vinniger as die bevolkingsgroei wees. Dit is sodat verbruikers die vermoë kan hê om kos te koop (wat bekostigbaar is) en sodat lande die vermoë moet hê om vir kosinvoer te betaal. Dit impliseer ’n gesonde ekonomie waar daar buitelandse valuta beskikbaar moet wees om vir invoer te kan betaal. Dit impliseer verder ’n relatief sterk wisselkoers.
Dit verg nie veel insig om te verstaan dat die ekonomiese en landboubeleid wat tans gevolg word, Suid-Afrika na die verkeerde kant van die pendulum laat swaai nie. Dit beteken ons gaan in ’n streek boer waar voedsel relatief skaars en duur gaan wees en waar invoer en of voedselhulp nodig gaan wees.
Die vraag is, hoe gaan jy jou besigheid in die volgende paar jaar posisioneer om hieruit voordeel te trek en die Regering se beleid te oorleef?
Hoewel Suid-Afrika as sulks nie te sleg vaar nie, is die meeste van die land se buurlande se posisie aan die verswak. So, buitelanders gaan aanhou om na SuidAfrika te kom.