OP PAD NA GRIEKELAND
Alle oë was die afgelope weke op Griekeland en sy ekonomiese verknorsing gerig en daar was talle vrae oor hoe die probleem opgelos gaan word.
Een van die vrae wat egter die meeste gevra is, is hoe het Griekeland in hierdie gemors beland? Die antwoord is eintlik baie eenvoudig: As enige individu, huisgesin of land aanhoudend meer geld bestee as wat hy verdien, dan is bankrotskap óf ’n pynlike herstelproses die voorland.
Reeds in 2001 toe Griekeland die euro as geldeenheid aanvaar het, kon sy begrotingstekort die gevaarligte laat flikker het. Daarna het dit net jaar ná jaar vererger totdat sy skuld 175% meer as sy bruto binnelandse produk (BBP) is (meer as drie keer die EU se perk van 60%). Sommige kenners meen dit is al 200%
Daar is baie ooreenkomste met Suid-Afrika. Plaaslik is werkloosheid ook meer as 25% en die meeste werkloses is jeugdiges. Soos wat Griekeland ’n vyfde van sy inkomste aan pensioene bestee, bestee Suid-Afrika dit aan maatskaplike toelaes.
Onlangs het adv. Anton Alberts, ekonomiese woordvoerder van die Vryheidsfront, gewaarsku dat die plaaslike ekonomie op ’n “Griekeland-roete” is. Suid-Afrika se skuld-tot-BBP-verhouding het van 31,6% in 2009/’10 tot 46,2% in 2014/’15 toegeneem.
Volgens navorsing deur Solidariteit het staatsbesteding die afgelope ses jaar met gemiddeld 10,1% per jaar toegeneem, terwyl staatsinkomste met net 7,7% gestyg het. Daarby het Suid-Afrika ander dreigende krisisse, soos die kragtekort, ’n watertekort, sowel as die ineenstorting van dienste en infrastruktuur.
Suid-Afrika kan, soos Griekeland, in ’n groot skuldkrisis vasgevang word. Maar anders as Griekeland is daar nie ryk Europese lande wat tot Suid-Afrika se redding gaan kom nie. Hoe gouer die land sy besteding inkort, hoe minder pynlik sal dit wees.
gehad en het in 1968 in die staatsdiens as ekonoom begin werk. Van 1973 tot 1976 was hy landbou-attaché in Washington en daarna vir ’n jaar Suid-Afrika se landbou-verteenwoordiger in Londen voordat hy na die departement teruggekeer het. Ná die herstrukturering van die departement in 1995 het hy betrokke geraak by Suid-Afrika se internasionale handelsbetrekkinge en die land se verbintenis met die Wêreldhandelsorganisasie.
Hy was ook nou betrokke by die strategiese plan vir die landbou en het gehelp om ’n forum vir uitvoerende hoofde binne die landbou op die been te bring.
Attie was getroud en het drie seuns. Manie dra graag Landbouweekblad se medelye aan die gesin oor.
GEDULD MET WILD
Dis waarskynlik pessimisties om nou oor ’n wildborrel te bespiegel. ’n Borrel beteken tog ’n totale insinking in ’n mark, soos wat met volstruisvere gebeur het in die vroeë 1900’s toe ’n ooraanbod met die einde van ’n modegier in Europa saamgeval het.
Deesdae word vere vir afstof gebruik en is die uitspattige voltruispaleise al oorblyfsel van daardie bloeitydperk.
Wisselende pryse en ’n vraag na verskillende spesies en kleurvariante is lank reeds ’n kenmerk van die wildbedryf, en dit is waarskynlik ’n gesonde neiging. Pryse sal in die algemeen verder stabiliseer en selfs afkom, maar dis onwaarskynlik dat dit heeltemal in duie sal stort.
Manie het gaan kyk na van verlede jaar se pryse in die OosKaap – wat nog altyd effens agter die Noorde is. Die waarde van swart rooibokramme het geklim vanaf R150 000 in 2013 tot R380 000. Terwyl die prys van koper blesbokke met so ’n paar rand gestyg het (vanaf R220 000 tot R280 000), het die prys van koper springbokke byna verdubbel van R8 000 tot R15 000.
Njalas, bontebokke, geel blesbokke en goue gemsbokke was ook sterk in aanvraag. Aan die ander kant het sebras, elande en rooihartbeeste maar gesukkel. Kenners glo dat spesies soos swartwitpense en bastergemsbokke sowel as hartwaterbestande diere gewild sal bly.
DIE WÊRELD VERANDER
Die slim mense by Absa het by ’n media-geleentheid verlede week ’n bietjie vertel hoe die magdom data wat deesdae tot almal se beskikking is, die wêreld verander. Van die veranderinge in die bankwese wat ’n kenner, Ernst Janovsky, onder meer voorspel, is ’ n kontantlose omgewing waar alle betalings elektronies geskied.
Daar sal ook al hoe meer mededinging deur rentevrye krediet van maatskappye se kant af kom, soos ’n maatskappy wat nou die kunsmis gratis verskaf en ná oestyd eers sy betaling ontvang.
Banke sal hul kliënte al hoe beter ken en produkte aan hulle verskaf wat elke individu pas. Die spaarder sal ’n beter rentekoers verdien en die besteder sal meer toegang tot krediet hê.
Banke sal baie meer proaktief raak. Pleks daarvan dat jy om ’n lening kom aansoek doen en die bank dan kyk of jy kwalifiseer, sal dit andersom werk. Jou lening sal vooraf bepaal word en vir jou wag.
Hy sê finansiers sal in die toekoms ’ n boerdery, sy omstandighede en seisoenverwagtinge só goed ken dat vooruit bepaal sal word watter tipe finansiering gepas sal wees – selfs voordat ’n boer daarom aansoek doen.
Hulle sal die wenners en verloorders in elke gebied ken en sal byvoorbeeld weet hoeveel een boer se produksiekoste van sy buurman se koste verskil. Weens die magdom inligting wat beskikbaar is, sal die bankbestuurder reeds gedurende ’n seisoen weet of ’n boer in staat gaan wees om sy lening terug te betaal.
LAASTE WOORD
Manie hoor nou die dag ’ n bekende versekeringsman vra: “Hoe meet jy ’ n suksesvolle boer? Jy kyk of hy inkomstebelasting betaal.” En toe lag hy uit sy maag uit vir daai grappie.