GRAANBOERE SIEN UIT NA NÓG REËN
GESAAIDES in sekere dele hou “verbasend goed” in die droogte wat vanjaar in die Wes-Kaap ondervind word. Oral sien boere egter uit na nóg reën.
Mnr. Alwyn Dippenaar van die plaas Langkloof, Riebeek-Wes, sê die 13 mm reën wat hulle die naweek van 10 Julie gekry het, het ’n groot uitkoms gebied. “Teen hierdie tyd verlede jaar het ons 360 mm reën gekry. Vanjaar is dit 160 mm, maar ons kan tevrede wees met die koring, hawer en medics wat op die lande staan.”
Hy sê wat hom opval, is hoe swak die kanola vanjaar ontkiem. Hy reken baie minder kanola is in die Swartland gesaai.
Mnr. Willem Rossouw van die plaas The Rest by Eendekuil sê hy sou vanjaar 150 ha kanola geplant het, maar toe die reën so laat kom, het hy besluit om liewer nie so ’n kans te waag nie.
SKADE EN DROOGTE
Nader aan die Weskus, by mnr. Gideon Melck van die plaas Waterboerskraal, Hopefield, het dit tot dusver beswaarlik 40 mm gereën. “Ons kry 15 mm of minder op ’n slag, wat verdwyn as dit op die droë grond val,” sê hy. Sy waarnemings in die natuur toon dat die seisoen vanjaar ses weke aangeskuif het. “Februarie was die koudste in ’n lang tyd. Ons het selfs dou gehad.”
Melck sê hy en ander boere in die omgewing het baie lupiene verloor as gevolg van wat in die omgang bekend is as “stille verdwynsiekte”. Dit word veroorsaak deur ’n swam wat floreer as daar ’n opeenvolging van min vog en warm toestande tydens ontkieming is.
OVERBERG VAAR BETER
Die Overberg het tot dusver meer reën gekry. Mnr. Hoppies Uys van die plaas Kliprivier, Swellendam, sê hulle het van Maart tot middel Julie al 210 mm reën gehad. “Ons vroeë koring was onder stres as gevolg van die droë Mei wat ons gehad het, maar die koring wat ons later geplant het, vaar beter.”
Die gars en kanola lyk baie mooi by mnr. Maartin Gildenhuys van die plaas Goedemanskraal, Heidelberg. Die vroeë koring wat met die Mei-droogte swaargekry het, het ook ná Junie se reën goed herstel, maar hy sê hulle “kan nou weer doen met ’n reëntjie. Met die 125 mm reën wat ons tot dusver gekry het, is ons eintlik baie geseënd, maar ’n mens kan ook sien die graan is beter waar daar materiaal op die lande lê.”
Gildenhuys sê die gars en koring begin in die aar kom en die kanola blom al, maar hy is bekommerd oor die uitwerking van die swaar ryp van 15 Julie. – AMELIA GENIS
’N
Suid-Afrikaanse brandewyn het vir die eerste keer konjak in ’ n vooraanstaande internasionale kompetisie onttroon as die wêreld se top-brandewyn.
Die KWV het weggestap as die beste brandewyn-en-konjakprodusent ter wêreld in vanjaar se Internasionale Spiritualieë- uitdaging ( ISC) in Londen. Dit is die eerste keer in die kompetisie se bestaan van 20 jaar dat dié eer ’n brandewyn te beurt val.
Die KWV se 20 jaar oue brandewyn is ook aangewys as die beste brandewyn ter wêreld, bo nege ander soorte konjak en internasionale brandewyne, wat almal goue medaljes gewen het.
Di e p l a a s l i k e b r a ndew y nbedryf het die afgelope jare heelwat markaandeel aan onder meer whiskey afgestaan. Brandewyn besit tans sowat 7% van die mark.
“Dis ’ n historiese oomblik vir die KWV en die wonderlikste kompliment wat ons as Suid-Afrikaanse produsente kon kry,” sê mnr. Pieter de Bod, die KWV se brandewynmeester.
Die bekroonde potketel-brandewyn is verlede jaar versny. “Die uiteindelike versnit bestaan uit ses uitgesoekte brandewyne wat ’n verdere drie maande verouder is om te trou en die vol karakter te versag.”
Die I SC word i nternasionaal as die invloedrykste spiritus- kompetisie beskou en het meer as 1 000 inskrywings van bykans 70 lande gelok.
HOË STANDAARDE VIR PRODUKSIE IN SA
Me. Christelle Reade- Jahn, direkteur van die SA Brandewynstigting, sê Suid- Afrika se standaarde vir brandewynproduksie is die hoogste ter wêreld. Slegs klein eikehoutvate en ’ n minimum verouderingstydperk van drie jaar word toegelaat.
“Ons terroir, die uitstekende basiswyn en die tipe aandag wat ons brandewynmeesters aan die produk gee, is deurslaggewend.”
In die 1980’s het brandewyn ’ n groot deel van die spiritualieë- mark besit, want groot internasionale whiskey- handelsmerke was weens sanksies nie in Suid-Afrika teenwoordig nie.