MILJOEN TON VER VAN GENOEG
HOEWEL die plaaslike soja-oes waarskynlik vanjaar die miljoen ton-merk gaan oorskry, voorsien dit slegs in sowat 50% van die plaaslike vraag. Volgens dr. Erhard Briedenhann, uitvoerende hoof van MIDS, ’n maatskappy wat grondstowwe aan die veevoerbedryf verskaf, sal die bedryf nie binne die volgende 10 jaar in die vraag kan voorsien nie.
“Hoewel die sojaverwerkingsvermoë in Suid-Afrika bykans 2,2 miljoen ton is, verwag ons om eers teen 2024 by 2 miljoen ton uit te kom. Om in die plaaslike vraag te voorsien soos dit nou is, sal ons ons sojaproduksie moet verdubbel. Dit sal op die gouste in 2024 kan gebeur,” sê Briedenhann.
Die 12 s oj aver werkings aanlegte i n Suid-Afrika sukkel tans om winsgewend te funksioneer, juis omdat hul gesamentlike verwerkingsvermoë meer as dubbeld die plaaslike produksie is. “Dit maak ook nie finansieel sin om onverwerkte sojabone in te voer nie. Vanjaar sal daar maar ’n skamele 150 000 ton onverwerkte sojabone ingevoer word. Hierdie invoer spruit uit besendings wat om een of ander rede nie by die bedoelde bestemming afgelewer is nie en dan in Suid-Afrikaanse hawens beland en hier teen ’n diskonto verkoop word. Ons voer ook ’n bietjie sojabone uit die Suider- Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in, maar dit is baie min,” volgens Briedenhann.
Baie van die sojaverwerkingsaanlegte sukkel dus vir ses maande van die jaar om kop bo water te hou. “Van dié aanlegte is só ingerig dat hulle sojabone én sonneblomsaad kan pers, wat hulle uiteraard winsgewender maak, maar tans is die meeste van die aanlegte opgerig as langtermynbeleggings.”
Volgens Briedenhann groei die vraag na sojaboonprodukte in Suid- Afrika jaarliks met 3% tot 4%. “Indien die vraag na sojaboonprodukte volgehou teen 4% per jaar groei vir die volgende 10 jaar, sal Suid-Afrika baie na aan selfvoorsienend wees teen 2024.”