Boer, myner, legende van die Boesmanland sterf
Mnr. GERTJIE NIEMÖLLER van Pofadder, op sy dag die grootste Karakoelboer in Suid-Afrika, maar ook ’n mynentrepreneur en dadelpionier, is op 10 Julie in ’n hospitaal op Upington oorlede.
Op die kruin van die Karakoelpels- boom was hy die grootste stoetteler in Suid-Afrika, met 4 000 Karakoele waarmee hy in krale op die plaas Klein-Pella geboer het. Nadat die pelsmark in duie gestort het, het hy in 1978 en 1979 dadelsuiers in Amerika gaan koop. Van die eerste 4 000 Medjool-suiers wat hy gekoop het, het net meer as 600 gegroei, maar dit het hom nie afgeskrik nie. Hy het uiteindelik die grondslag vir kommersiële dadelverbouing in Suid-Afrika gelê. Toe mnr. Piet Karsten van die Karsten Groep die plaas in die middel-1990’s by hom gekoop het, was daar 14 000 dadelpalms.
Die ineenstorting van die mark vir Karakoelpelse was as gevolg van veranderinge in modeneigings en besware van omgewingsaktiviste. Boesmanlandse boere onthou nou nog hoe oom Gertjie Niemöller daardie tyd opgemerk het: “En toe kom Greenpeace . . .”
MARMERTAFELTJIES IN DIE BOESMANLAND
Ander mense onthou hom vanweë sy mynbedrywighede en veral die sillimaniet wat hy naby Pofadder ontgin het en ná die Tweede Wêreldoorlog na Japan begin uitvoer het. Dit is in die hoogoonde van die skeepsboubedryf daar gebruik.
Boonop was daar i n die l aat 1960’s beswaarlik ’n respektabele Boesmanlandse sitkamer sonder ’n sytafeltjie met ’n marmerblad of ’n muurhorlosie van marmer – ook uit Niemöller se fabriek wat onverwerkte halfedelstene uit Namibië gepoleer het.
Sy dogter, me. Luise Coertzen, sê Niemöller se ouers het in 1920 uit Duitsland na Suid- Afrika geïmmigreer en die Pofadder Hotel vir duisend pond gekoop. Hy is in 1928 op Pofadder gebore en het in die hotel grootgeword.
Sy ouers het die plaas Kambreek (deesdae Klein-Pella) langs die Oranjerivier gekoop, maar nooit self daarop geboer nie. Dit was die jong Gertjie wat sy universiteitstudies beëindig het om die grond met donkiekrag skoon en gelyk te maak en winsgewende, en altyd grootskaalse, boerderye daar te vestig.
PADBOUER
Coertzen het ’ n paar jaar gelede Pofadder toe getrek om haar pa te versorg. Sy sê baie mense onthou ook hoe haar pa hom beywer het om die omgewing se grondpaaie te verbeter. Volgens ’n verslag van Graham Ross, wat vele boeke oor Suid-Afrikaanse paaie en bergpasse geskryf het, het Niemöller in die laat 1950’s 3 000 pond geskenk om die pad tussen Pella en Wolftoon te bou.
Daar is ook ’n ander kant aan sy entrepreneurskap, sê Coertzen. Sedert sy afsterwe het tientalle mense van die omgewing vir haar kom sê hoe haar pa se ondernemings werk geskep en kos op honderde mense se tafel gesit het.
’ n Kaapse s akeman wie se paaie met Niemöller gekruis het, het g e s ê hy het hom geleer om groter te dink.
Coertzen o nt hou o o k haar pa as ’ n gasvrye mens. Hul huis op Klein-Pella moes immers as gastehuis dien vir oorsese besoekers. Boonop het Karakoelveilings op die plaas nes groot plaastroues gelyk soos daar vir almal kos gemaak is. Hy het ook baie aandag gegee aan detail en niks weggegooi nie. Boonop het hy ál sy klere laat maak.
Hy was ook ’n kranige fotograaf, soos die swart-en-wit foto’s wat sy dogter op haar Facebook-blad geplaas het, getuig.
MAN VAN KLIPPE
Mnr. Arno van Zyl, ’n prokureur en storieverteller van Springbok, sê Niemöller was ’n “klipkoning” wat almal altyd laat klippe optel het. “Hy was een van die groot geeste van hierdie wêreld. Deesdae word enige mens mos ’n legende genoem, maar Gertjie was ’n legende uit eie reg, ’n baanbreker en seker een van die bekendste mense hier. Sy planne het nooit opgeraak nie. Ek sal hom onthou vir sy groot menseliefde en deernis.”
Modeneigings, verbruikersvoorkeure en die eindigende mineraalbronne het twee van sy ondernemings sonder ’n toekoms gelaat, maar die dadels het bly staan. Daarop was hy duidelik trots. Toe Landbouweekblad, glo sy gunsteling-tydskrif tot sy afsterwe, in die uitgawe van 28 Junie 2013 ’n artikel oor die dadelboerdery op Klein-Pella geplaas het (“Klein Pella se dadels wêreldwyd gesog”), het hy vier Landbouweekblaaie gekoop.
Niemöller word oorleef deur sy tweede vrou, Ronel, sy kinders, Luise, Rudy en Johann, sewe kleinkinders en een agterkleinkind.
’n Groot man en pionier van die Noord-Kaap is verlede week oorlede. AMELIA GENIS het so ’n entjie op sy spoor geloop. Boesmanlandse boere onthou nou nog hoe oom Gertjie Niemöller daardie tyd opgemerk het: ‘En toe kom Greenpeace . . .’