GEVREESDE KOOLSIEKTE VERSPREI
Brassica-verdwergingsiekte is vir die eerste keer ook in die suide van KwaZulu-Natal opgemerk op ’n kommersiële kopkoolland naby Ixopo.
Dié gevreesde siekte het groenteboere in die noorde van Suid-Afrika al drie jaar aan die raai. Dit veroorsaak baie skade sedert dit in 2012 die eerste keer in die omgewing van Brits opgemerk is.
Die siekte word gekenmerk deur verdwergde, klein kopkoolplantjies, afgeplatte blare wat soms pers word, vaskulêre verkleuring van die stingel en swak wortelontwikkeling. Dit lei tot ’n laer markwaarde en veroorsaak groot oesverliese. In sommige landerye is tot 90% van die oes al verloor.
Die siekte het ses belanghebbendes in die bedryf, Bayer, Klein Karoo Seed Marketing, Sakata, Starke Ayres, Syngenta en die Saailingkwekersvereniging van Suid-Afrika, genoop om saam met die Universiteit van Johannesburg ’n navorsingsprojek te begin om die oorsaak van die siekte vas te stel en te bepaal hoe dit oorgedra word.
Me. Sherrie- Ann New doen nou ’n doktorsgraad onder die leiding van dr. Lindy Esterhuizen van die Universiteit van Johannesburg en mede-studieleiers dr. Schalk van Heerden, Sakata se bestuurder van plantpatologie en biotegnologie, en prof. Gerhard Pietersen van die Universiteit van Pretoria.
In verskeie proewe op oop lande en in insekbestande tonnels kon Sherrie- Ann tot dusver vasstel dat ’n vlieënde insek die siekte moet oordra. Die waarskynlikste is ’n blaaspootjie, bladspringer of plantluis.
Die studiegroep kon ook vasstel dat die siekte nie via saad oorgedra word nie, en dat die spesifieke patogene organisme wat dit veroorsaak, heel moontlik met ’n virus geassosieer kan wees. ’n Spesifieke virussoort is geïdentifiseer, en Sherrie-Ann ondersoek nou of dit wel die oorsaak van die verdwergingsimptome is. ’n Aankondiging daaroor word binnekort verwag.
Van Heerden sê ’n siekte wat deur ’n virus veroorsaak word, kan nie chemies genees word nie. “Die oplossing lê in ’n voorkomende spuitprogram om te verseker die vektor (die draer van die siekte) kom nie in jou lande nie. Maar uiteindelik het ons weerstandige kultivars nodig. Dit lyk of die siekte algemeen op sekere kultivars in bepaalde seisoenale omstandighede voorkom.”
Mnr. Shaun Biggs, besturende direkteur van Sutherland Seedlings in KwaZulu-Natal, sê die navorsing is goeie nuus. “Ten minste weet die bedryf nou meer as ’n jaar gelede. Hoe meer kennis beskikbaar is, hoe doeltreffender kan die siekte bestuur word, en hoe minder verliese gaan kommersiële boere ly.”
Volgens die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou- organisasie ( VLO), produseer die Suid-Afrikaanse brassica-bedryf, wat kopkool, blomkool, broccoli en ander koolgewasse insluit, sowat 63 miljoen ton produkte per jaar, en verskaf jaarliks byna 900 000 werkgeleenthede. Hoewel dié siekte veral kopkool raak, is tekens daarvan al by blomkool en ander koolgewasse gewaar.