Landbouweekblad

Plaasdiere op die dorp P

-

a het op ’n plaas grootgewor­d en wou tog só graag boer. Hy het uiteindeli­k, toe ons vier kinders al tieners was, ’ n kleinhoewe bekom waar ons vir ’n paar jaar gewoon het. Dit het nie goed gegaan met die boerdery nie; Pa moes ná ’n lang gesukkel die handdoek ingooi en ons is sak en pak weer terug dorp toe. Werkgeleen­thede was skaars en hy het uiteindeli­k tydelik by ’n kroeg begin werk.

Dis tragies om te dink wat ’ n mens sal verkwansel as hy desperaat is vir ’n dop. Pa het gereeld met allerhande vreemde goeters by die huis aangekom. Hy het selfs ’ n motor gekoop vir R60! Dit was ' n lang, blink, bloedrooi Pontiac Parisienne wat hy met moeite by ons hek ingeswaai het.

Maar o, die diere . . . Hy het een aand huis toe gekom met ’n steekhaar-basterbrak – die eerste een. Duiwe, hoenders en ’n paar eende het gevolg. Op ’n dag het ’n Boerbok-ooi en haar boklam ook in ons agterplaas beland.

Hoe die mense met dié lewende hawe by die kroeg handel gedryf het en wat die bure gedink het van al die ‘‘ plaas’’-geluide, weet ek nie. Ek kan nie onthou wat die lot van die ma-bok was nie, maar die arme bababok het ongelukkig in die pot beland.

Laat een nag kom my broer Arend, wat in die buitekamer gebly het, die huis ingestorm. “Daar’s iets in die put!” skree hy. Pa klim al mompelend uit die bed en gryp die flitslig. Teen daardie tyd is almal wakker en ons is saam put toe. Pa skyn die lig in die donker gat af en tot ons verbasing sien ons vir Felix, die hond, doer onder in die water, moeg gespartel.

Die put was so 4 m diep en redelik leeg. Pa moes in die donkerte daar afklim. Daar was nie ’ n lang genoeg leer nie en hy het toe afgeseil met sy rug teen die een kant en sy voete gestut teen die ander kant van die put. Met die drenkeling onder sy arm het hy met ’n groot gesukkel wonderbaar­lik weer bo uitgekom. Ons het dit nie gewaag om te lag nie, maar die twee modderbesm­eerdes was ’ n gesig om te aanskou! Ons het eers baie later tot ruste gekom, want Pa moes gaan bad en Felix moes ook skoon kom.

Die put se houtdeksel is die volgende dag teruggesit en Felix het van toe af in die huis geslaap.

MODDERIGE EEND

’n Paar dae later was daar weer ’n middernagt­elike konsternas­ie. Arend kom ingehardlo­op en skree dieselfde woorde: “Daar’s iets in die put!”

Ons kan hoor Pa is nou kwaad. “Ek red nie weer daai blerrie hond nie!” Maar Felix kom al stertswaai­end die kamer binne toe hy die lawaai hoor.

Die hele gespuis is weer saam put toe. Soos die vorige keer hoor ons ’ n gespartel in die water. Ons loer oor die rand en onder in die flits se ligkol sien ons ’n eend – toe al stokflou geswem. Pa is weer af in die put, met gekruide taal wat weerklink van onder tot bo. Ons het gedink hy gaan sommer die eend daar en dan versuip, maar hy gryp eend se kind aan die nek en slinger hom boontoe.

Met ’n woeste gefladder van vlerke bereik hy sy vryheid, maar ook nie vir lank nie. Pa kondig aan: “Môre kap ek sy kop af! Dis die laaste keer wat ek in daardie vervlakste put afklim.”

Die volgende dag het Pa die put se deksel stewig vasgemesse­l en die eend se kop afgekap, soos belowe. Die res is gaargemaak vir aandete. Die vleis het vir my maar taamlik modderig gesmaak . . .

Laat daardie aand hoor ons Pa se stem bulder uit hul slaapkamer. Ons wonder wat dit nóu weer kan wees. Toe Pa sy nagklere onder die kussing uithaal, val die snawel van die eend, wie se se kop hy daardie oggend afgekap het, daar uit. Felix het díe lekkerny op die bed verorber en toe die oorblyfsel onder pa se kopkussing begrawe. En daar lê die goudgeel bek in die middel van die dubbelbed, op die liggroen “Candlewick”-bedsprei!

Ons kinders was histeries van die lag. Maar Pa, wat nie eintlik ’n sin vir humor gehad het nie, was glad nie geamuseerd nie. Hy was sommer kwaad. Ma wou ook lag, maar sy het liewer die ongewenste voorwerp verwyder en Pa probeer kalmeer.

Na dese het Pa seker besef plaasdiere hoort nie op die dorp nie en het nooit weer iets lewendig huis toe gebring nie. Christina Botha is ’ n vryskut- bladuitleg­kunstenaar.

As die werf se diere die baas van die huis se slaap onderbreek, maak hy ’n ander plan met hulle. Pa is weer af in die put, met gekruide taal wat weerklink van onder tot bo. Soms moet jy eers kniel om vorentoe te kan gaan.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa