Landbouweekblad

BUIG OM REGOP TE STAAN

- DS. KOBUS VAN DER WESTHUYZEN

Een van die tergendste vrae is: “Waar was God toe dít of dát gebeur het?” Habakuk en sy tydgenote het met dieselfde probleem geworstel. Hul lewens is deurmekaar gekrap en dit lyk asof God niks omgee nie. Daar’s onreg en geweld; ’n getwis en ’n bakleiery; onderdrukk­ing en ellende; die wet is sonder krag; slegte mense het die oorhand oor die goeie (Hab. 1:1-4). En God doen niks! (Hab. 1:13)

Dis teen dié agtergrond dat die vraag ontstaan: “Hoe reageer ’n mens as “die storms woedend om jou slaan en jy gans ontmoedig vrees om te vergaan?” Ja, ons sal teleurgest­eld wees, maar gewoonlik kom daar nog iets saam met die teleurstel­ling. Jy kan opstandig raak, vloek, verwyt en jou rug op God draai. Toe ’n deel van Suid-Afrika jare gelede in die wurggreep van ’n kwaai droogte was, is ’n boer en sy gesin gedwing om die plaas te verlaat. Hy ’t die toegangshe­k met ’n draad vasgedraai en ’n plaat teen die hek vasgebind waarop geskryf was: “Hier is nie mense nie en hier is ook geen God meer nie.”

Habakuk moes ’n dergelike situasie hanteer en hy doen dit in sy bekende “Al sou . . . nogtans”-uitspraak. Lees dit weer: “Al sou die vyeboom nie bot nie, en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die land geen oes lewer nie; al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie, en die beeskraal sonder beeste wees, nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in God my Redder.” (Hab. 3:17-18) Dit klink pragtig, maar pas dit eers self toe!

Soms moet ’n mens eers buig voordat jy weer regop kan staan; eers kniel om vorentoe te kan gaan. God wil soms hê ons moet eers buig voor sy beskikking­swet.

Al sou die winde van beproewing hoe sterk waai, nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in God. Dís wat Job gedoen het toe hy gesê het: “Ek weet my Losser leef . . .” (Job 19:25) En dieselfde geld Paulus en Silas toe hulle in die tronk was met hul voete in boeie. Teen middernag het hulle gebid en die lof van God besing (Hand. 16:25).

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa