‘HOU AFRIKANER DIE PERFEKTE VELDBEES’
Bekroonde wynboere wen óók met kanola
Mnr. Pieter van der Walt is gebore op sy oupa se plaas, Somerset Noord, nie ver van waar hy nou op Wegdraai in Thabazimbi naby Sentrum woon nie.
Toe hy omtrent ses jaar oud was, het sy pa, mnr. Tjaart van der Walt, geld geleen gekry om ’n stukkie grond naby Rooibokkraal te koop. Hy onthou hoe die eertydse minister van lande, mnr. J.G. Strijdom, wat later eerste minister geword het, sy pa gehelp het met ’n £1 000-Landraadlening om die 1 025 morg te koop teen 1% rente.
Pieter onthou daar was baie blaargif op die grond. “Dit was moeilike jare. Ons was almal bestaansboere en brandarm. Donderdae het die spoorwegbus ons room kom haal. Met die room se geld het ons koffie, suiker, kragparaffien en materiaal vir klere gekoop. Die res moes ons hier op die plaas produseer.”
Tog het dié plasie die Van der Walts ’n vastrapplek gegee van waar hulle kon wegspring om later gerekende beesboere in die omgewing te word. “Ons het sommer ’n klein roubaksteenhuisie gebou om in te woon. Ons wou eerder beeste as weelde bymekaarmaak en ná ’n paar jaar het ons ’n kudde van omtrent 60 beeste gehad – Afrikaners.”
Die blaargif het egter die boerdery teruggehou en in 1974 het Pieter se pa die grond verkoop en die plaas Wegdraai gekoop. Dit is hier waar Pieter en sy seun, Tjaart, vandag nog boer. Oor die jare het hy plase bygekoop, eers sommer enige plaas in die omgewing wat hy kon bekostig. Later het hy só gekoop en verkoop dat hy van die plase wat te ver van Wegdraai af was, kon verkoop om grond te koop wat aan syne grens.
“So het ek my grond ál groter gemaak.” Hy sê nie presies hoeveel grond hulle nou besit nie, maar los ’n paar knope oor grondplafonne as mens hom daaroor uitvra. Wat hy wél sê, is dat dit alles te danke is aan sy geliefde Afrikaners. Hy het oor die jare baie boere en baie beesrasse sien kom en gaan.
AFRIKANERS WAS EERSTE
“In die begin was daar nie ander beeste in dié geweste nie, net Afrikaners.” Pieter sê die omgewing se beesboere kon aanvanklik nie kampe bekostig nie. Daar was ook gewoonlik net op een plek water op elke plaas.
Beeste wat nie lank sonder water kon bly nie, het al om panne of suipings gewei en kon nie die hele plaas se weiding benut nie. Afrikaners kon dit doen omdat hulle langer sonder water kon bly en dus verder van die riviere en panne kon wei. Die gemiddelde plaasgrootte het destyds gewissel van 400 ha tot 2 500 ha.
Pieter onthou hoe die eerste ander beesrasse in die 1950’s in die omgewing van Steenbokpan en Sentrum aangekom het. Eers was dit Herefords en Hereford-kruisings, toe Braunvieh. Later het die Shorthorns van Natal aangekom, toe Brahmane en daarna die Bonsmaras. “Hulle is nog hier, maar nie meer so baie soos altyd nie. Daar is nie meer geld in beeste nie. Mense boer nou met wild.”
Die Van der Walts het ook ’n stewige wildboerdery danksy die Afrikaners opgebou, maar sê die Afrikaners bly die ruggraat en eerste liefde van hul boerdery. “Dit gaan nou goed met die wildbedryf, maar daar kan weer ’n tyd kom wat ons geliefde Afrikaners ons deur die moeilike tye moet trek,” sê Pieter.
Die Van der Walts se geloof in hul Afrikaners is onwrikbaar. Tjaart wys na statistiek van die Omatjenne-beesnavorsingsentrum in Namibië om hul vertroue in die ras te steun. ’n Tien jaar lange proefneming met verskeie rasse, sê hy, het gewys dat die Afrikaner van die beste vleis en wins per hektaar opgelewer het. Hy wys daarop dat die Nguni die Afrikaner intussen in dié proef verbygesteek het.
MOENIE KARRING NIE
Pieter en Tjaart sê hulle hou van die Afrikaner nes hy is. Hulle stem nie saam met boere wat meen daar moet ander bloed in die ras gebring word om Afrikaners met groter agterkwarte te teel nie. “Ons Afrikanerbeeste se stamboom is so oud soos die Afrikaner self, vanaf 1912,” sê Pieter.
Vir hom het dit tussen 1940 en 1960 begin. “Ek het mooi Afrikanerkoeie van goeie gehalte van my oupa Hans Theunissen bekom en ook van my pa se diere oorgeneem. In die 1940’s het ons teelbulle gekoop by wyle mnr. Petrus Erasmus van Pienaarsrivier.”
In 1973 het Pieter die Jee Lee-stoetery van wyle mnr. Kosie Lee bekom. (Sy beeste was reeds voor 1912 al raseg geteel.) “Dit was van die mooiste en suiwerste Afrikaners wat bestaan. Dié geel en rooi beeste is oorspronklik geteel uit die Kromkuil-stoetery van wyle mnr. Vaal Ernst van Biljon van Hoopstad.”
Ná 1974 het Pieter ook topbulle, soos Penkop, Boetman en Penkop Poela, van wyle mnr. Jan Jordaan bekom, wat uit Doornspruit Spore geteel is. Doornspruit Sonskyn was die eerste Afrikanerkoei, en later die bul, Doornspruit Spore, wat die Kamer van Mynwese se goue beker van 1 000 ghienies kon wen as opperste vleisraskampioen. Die Van der Walts het later topbulle, soos Doornspruit Klinker en Hertzog, van wyle mnr. Attie Geldenhuys gebruik.
“Die laaste 20 jaar teel ons slegs met ons eie bulle. Ons teelbeleid is 100% rasegte, natuurlik van die veld af geteelde Afrikaners met horings. Die natuur selekteer en ons hou slegs die bestes. Ek het nog altyd aangehou met goed wat vir my reg gelyk het.”
Pieter sê hul diere is eerstens geteel vir hul raseienskappe en tweedens vir vrugbaarheid en melk. “Mense het baie te sê oor die spitsgat-Afrikaner, maar, onthou, dit was ’n trekos. Hulle het ons volk van Kaapstad tot in Bulawayo geneem. Geen ander bees kon dit doen nie, behalwe dalk die Nguni.
“As ons dus na die standaard van volmaaktheid kyk en telers praat van beeste wat net kop en horings is, moet jy onthou dit was ekonomies gedrewe om vir dié eienskappe te teel. Die Afrikaner was ook soms bont (rooi-en-wit), maar diere met ’n rooi vel en ’n mooi kop het net beter pryse verdien as ander. Dus is daar vir dié eienskappe geselekteer, selfs die spitsgat.” Pieter wys na ’n paar beeste in ’n kraal. “Vir my is daar genoeg vleis aan dié agterkwarte.”
MAKLIKE BEES, MOEILIKE WÊRELD
Tjaart sê die Afrikaner se goeie moedereienskappe, vermoë om droogtes te oorleef en sorgvrye boereienskappe vergoed vir enige
‘Mense het baie te sê oor die spitsgat-Afrikaner, maar,
onthou, dit was ’n trekos.
ekstra vleis wat ander beeste dalk kan dra.
“Jy hoef ’n Afrikaner nie drie keer per dag te sien nie. Jy hoef ook nie elke dragtige koei of vers kraal toe te laat kom om haar te help kalf nie. Nee, as jy weer sien, het jou koei sommer in die veld gekalf en dan loop haar kalf langs haar. Dis die perfekte veldbees.”
Hy glo ook dat Afrikaners met aansienlik minder en swakker voeding as ander beesrasse steeds goed kan presteer. “Ek het al gesien hoe 48 kruisverse net soveel lek oor dieselfde tyd vreet as 120 Afrikanerkoeie.” Hy gee sy beeste ’n lekmengsel van beenmeel, P12, sout, fosfaat, geel mieliemeel en ureum.
Pieter en Tjaart het nie ’n spesifieke dektyd nie. Sporadiese droogtes maak dit moeilik om dek- en kalftye te volg. Die nadeel is dat daar soms laat kalfies is wat deur die winter moet kom, maar hulle kom deur, sê Pieter.
Hy aanvaar ook dat koeie soms oorslaan. “Jy sal vind dat ’n koei vir vier of vyf jaar elke jaar kalf en dan een jaar oorslaan. Dit is maar ’n 18 maande-rustyd wat sy vir haarself neem en jy moet haar dit gun. Die volgende seisoen en daarna loop sy weer elke jaar met ’n kalf.” Die meeste koeie speen self hul kalwers, maar in Augustus keer Tjaart die kalwers uit, behalwe die kleintjies wat laat aangekom het.
GROOT HORINGS
Hulle onthoring nie hul beeste nie. As ’n koei dragtig is, onttrek sy kalsium uit die beenpit in haar horings, sê Pieter. As sy nie horings het nie, onttrek sy daardie kalsium uit haar tande. “Sulke beeste is op 10 jaar of 12 jaar klaar en dan moet jy hulle vervang. Ek het koeie wat op 18 jaar tot 21 jaar nog teel soos jong beeste.”
Hy glo ook die koeie met horings beskerm hul kalwers suksesvoller teen ongediertes en dat dit bydra tot sy lae verliese in ’n wêreld waar daar geen tekort aan ongediertes is nie. Boonop is die horings mooi. Hulle spog met van die langste Afrikanerhorings in die rekordboeke.
Dit het begin toe mnr. H.B.K. Opperman, ’n Afrikanerkeurder, in die 1970’s een aand by Pieter gekuier het. Hy het kom beeste keur en die aand sommer oorgeslaap. Hy noem toe dat die rekord-horingspan vir ’n Afrikaner 102 duim wyd is – 2,59 m.
Met trofeejagtersbloed wat deur sy are bruis, het Pieter dit as ’n uitdaging beskou en besluit om die rekord te verbeter. Opperman was skepties, maar Pieter het sommer die volgende week in sy ou 2.2-diesel Isuzu Hoopstad toe gery. “Dis mos die Afrikaner se hartland.”
Daar was egter niks wat hom beïndruk het nie, maar hy onthou toe van ’n bul van mnr. Jan Jordaan, ’n teler van Kroonstad. “Ek ry toe soontoe en vra hom oor dié bul, Pula. Ook net betyds, want die bul het sy agterpoot gebreek en Jan sou hom die volgende dag van kant maak.” Pieter het dadelik ’n stokkie voor Jordaan se plan gesteek en Pula gekoop. Die trein het die bul al die pad van Kroonstad af tot op Thabazimbi gebring en vandaar het hy met die “spoorwegbus” tot op die plaas gekom.
“Ek het toe 40 van my koeie met die mooiste horings uitgesoek en deur hom laat dek. Die volgende jaar spog ek toe met 19 verse en 21 bulkalfies wat ek almal gekastreer het. So het die wag en kyk begin. Ná 15 jaar het ek twee osse gehad met horings van onderskeidelik 118 duim en 122 duim.”
Dit het vir Pieter en Tjaart ’n stokperdjie geword. Daar loop tans vier osse met sulke tamaai horings op Wegdraai, maar nie vir slag nie. “Dis sommer net vir die mooi en omdat ons vir hulle lief is,” sê Pieter.
genadet@hotmail.com