Droog neute snags met sonkrag
Hitte-energie word op ál meer vindingryke maniere benut om neute te droog.
Suid-Afrika se groeiende neutbedrywe, en veral die ontluikende makadamiabedryf, het ’n gemeenskaplike probleem, naamlik hoë koste en deesdae ook onbetroubare kragvoorsiening. Die afgelope paar jaar is in die makadamiabedryf spesifiek etlike planne beraam om die stygende elektrisiteitskoste aan bande te lê. Daaronder tel byvoorbeeld die brand van makadamiadoppe om water in ’n groot kookketel te verhit. Die warm water vloei dan deur ’n pypnetwerk om die neute te droog. Die voordele is dat dit ’n gawe manier is om van ’n lastige afvalproduk ontslae te raak en dat dit beslis die elektrisiteitsrekening verklein. Die nadeel is dat dit weens die verbrandingsproses nie altyd so omgewingsvriendelik is nie en dat dit slegs deur verwerkingsaanlegte waar die neute ontdop word, gebruik kan word.
Nóg ’n manier om die hoë elektrisiteitskoste te beperk, is om die son se hitte-energie te gebruik. Die uitstraling van die hitte-energie word eenvoudig in die plafon se dak versamel en met waaiers deur ventilasiepype na die neuthouers in die droogkamers gedwing. Hierdie stelsels is eenvoudig en redelik goedkoop, maar werk uiteraard nie doeltreffend genoeg op bewolkte dae en in die nag nie.
Dit was min of meer die situasie toe Valley Macadamias van Kiepersol sy nuwe ontvangs-, droog- en sorteereenheid by Alkmaar naby Nelspruit in Mpumalanga moes ontwerp.
Mnr. Roelof van Rooyen, besturende direkteur van Alkmaar Valley Macadamias, sê die enigste manier om winsgewend in die landbou te bly, is om stygende produksiekoste te beperk deur voortdurend doeltreffendheid regdeur die waardeketting te verhoog.
Hierdie aanleg, wat uiteindelik 6 000 ton ongedroogde neute in die dop per jaar van boere sal ontvang, is vir twee fases ontwerp. Die eerste fase, met ’n vermoë van 3 000 ton ongedroogde neute in die dop, word reeds gebruik. Die aanleg voldoen aan die hoogste ISO22000- en HACCP-standaarde. Die hoofdoel is om makadamianeute te ontvang, te droog, te sorteer, te verpak en na hoofsaaklik Asië uit te voer.
BESTAANDE ENERGIESTELSEL
Roelof sê met die oog op energiebesparing het die maatskappy mnr. Dorran Bungay, ’n bekende landbou-energiekonsultant van Nelspruit, aangestel om die ontwerp van die aanleg te behartig.
Dorran moes ’ n stelsel ontwerp wat makadamianeute binne 10 dae van ongedroog in die dop, met ’n voginhoud van tot 18%, kon droog tot ’n voginhoud van 5,5% (neut-in-dop), wat omtrent ooreenstem met ’ n neutkern- voginhoud van sowat 2,2%. Die voorvereistes vir die stelsel was dat die neutgehalte deurgaans behou moes word, die bedryfskoste laag moes wees, die stelsel ’ n lae kapitaalbelegging moes verg en dat dit eenvoudig moes wees om te bestuur én in stand te hou.
Dit was juis in hierdie ontwerp wat Dorran bestaande sonhitte-energiestelsels, met gebreke en al, as vertrekpunt geneem en daarop voortgebou het.
Hy het begin deur 400 m² van die aanleg se dak swart te verf om sodoende die grootste hoeveelheid hitte-energie moontlik gedurende die sonskynure per dag in die “plafon” te versamel. Slegs 10% van hierdie hitte-energie word gedurende die dag se sowat nege sonskynure deur ventilasiepype na die droogeen-
‘In die 2014-produksiejaar het die son se hitte-energie in sowat 85% van ons hitte-behoefte vir droging voorsien.’
heid herlei om die neute te droog. Die ander 90% van die beskikbare hitte-energie word terselfdertyd deur wisselverhitting met ventilasiepype herlei na ’n geïsoleerde vertrek, of ’ n sogenaamde “hittebattery”, waar dit 540 ton gestapelde beton- lugstene verhit. Die hitte word dan in die stene opgeberg.
Wanneer die son ondergaan, word opgebergde hitte-energie in die hittebattery outomaties met rekenaarbeheer (PLC/Scada) na die droogeenheid herlei om die droogproses deur die nag voort te sit. Hoewel die oorskakeling outomaties deur die rekenaar gedoen word, kan ’n operateur dit aanpas, soos wanneer te min hitte- energie beskikbaar is en die elektriese drogingselemente geaktiveer moet word.
Dié drogingsmetode van Dorran sorg vir doeltreffende hittebestuur en die optimale beheer van die drogingsproses tot die gewenste droog-in-dop-voginhoud van 2%, sê Roelof.
Afhangende van heersende weerstoestande versamel die hittebattery hitte-energie van tussen 25 º C en 30 º C. ( Die laagste omgewingstemperatuur in Julie verlede jaar was 2 ºC.) Die stelsel is ontwerp met ’n teoretiese bergingsvermoë van 2 500 HE (hitte-eenhede), maar dit het gedurende Julie al tot bykans 2 700 HE opgeberg.
85% VAN HITTE-BEHOEFTE
Verreweg die meeste van die hitte-energie wat tydens ’n normale nege uur lange sonligdag in die plafon versamel en in die hittebattery opgeberg word, word met sononder vir die volgende 15 uur na die droogeenhede herlei. “In die 2014- produksiejaar het die son se hitte-energie in sowat 85% van ons hitte-behoefte vir droging voorsien. Die bykomende 15% is deur elektriese hitte-elemente voorsien,” vertel Roelof.
Die werklike koste van Eskom- elektrisiteit vir droging was minder as R0,05/ kg droog- in- dop teen 2%-voginhoud. Van die energieverbruik van die hele aanleg word sowat 45% vir droging gebruik, terwyl die res deur motors, vervoerbande, waaiers, ligte en lugversorging in beslag geneem word.
“In hierdie stadium lyk dit of ons die vestigingskoste van die hitte-energiestelsel binne twee produksiejare sal kan verhaal uit die besparing aan elektrisiteitskoste wat ons daardeur bewerkstellig,” sê Roelof.
Die koste van Eskomelektrisiteit vir droging was minder as R0,05/kg.