KOMMERSIEEL & KOMMUNAAL? JA!
Binne vier jaar het die bemagtigingsmaatskappy Wiphold ’n kommersiële kommunale boerdery op die been gekry en produseer vanjaar droëlandmielies op meer as 670 ha kommunale grond saam met meer as 650 gesinne.
Al word die voormalige Transkei as een van die vrugbaarste boerderygebiede in die land geag, het daar tot nou toe min boerderysuksesverhale uit die kontrei gekom.
Drie jaar gelede het ’ n vrou besluit om dié stigma die stryd aan te sê. Me. Gloria Serobe is ’n stigter en uitvoerende direkteur van Wiphold, ’ n bemagtigingsmaatskappy van Johannesburg. “Die uitdaging is nie grond nie, maar mense en menseverhoudinge,” verduidelik sy.
Wiphold is ’n akroniem vir Woman’s Investment Portfolio Holdings Limited. Meer as 60% van die werknemers is vroue.
Gloria, wat ’n B.Com.-graad aan die Universiteit van Transkei en ’ n MBA aan die Rutgers-universiteit in Amerika verwerf het, was van 1996 tot 2001 die finansiële direkteur van Transnet.
Sy het daarna Wiphold gestig, wat onder meer Nedbank se bemagtigingstrategie in werking moet stel.
Volgens me. Debra Marsden, hoof van transformasie en korporatiewe aangeleenthede by Wiphold, was die besluit om te begin boer nie sonder struikelblokke nie.
“Ons is ’n klomp vroue, almal stadsjapies, wat in 2012 in Transkei betrokke geraak het om ’n sukses van mielieboerdery te maak.” Gloria se benadering is anders. Sy het besef die gemeenskap moet verantwoordelikheid vir die projek aanvaar en self die sweet van boerdery ervaar. “Wiphold het nie hier aangekom as die gesaghebbendes wat hiet en gebied nie, maar as vennote wat ’n geleentheid wil help ontgin.”
MENSWAARDIGHEID DIE SLEUTEL TOT SUKSES
Volgens Gloria strek die behoefte van die arm mense in hierdie gebiede ook baie verder as bloot finansiële welvaart. “Die grootste behoefte van die mense wat hier woon, is menswaardigheid. Dit loop hand aan hand met selfvertroue. As ons nie hierdie twee aspekte as grondslag vir ons betrokkenheid gebruik nie, is dit net ’ n kwessie van tyd voor ons misluk.”
In 2012 het Wiphold eers by die tradisionele leiers, hoofmanne en -vroue en daarna by die gemeenskappe aanvoorwerk begin doen. “Eerstens wou ons hê die tradisionele leiers moes die grond identifiseer wat vir akkerbou geskik is. Daarna het ons na die gemeenskappe gegaan en hulle gevra wat hulle wil verbou. Dit was dus uit die staanspoor die gemeenskap se besluit,” sê Gloria.
Aangesien mielies die stapelvoedsel in die landelike Oos-Kaap is, was dit oral die eerste keuse. Daar is toe ooreengekom dat elke huishouding vyf sakke mielies van 40 kg elk as grondhuur sal ontvang nog voor die eerste pit in die grond was.
Dit het duidelik geword dat die gemeenskap nie langtand wou wag tot die oes inkom nie. “’n Mens kan dit maklik verkeerd interpreteer, maar as jy in ag neem hoeveel projekte al hier begin is wat uiteindelik nie ’n sent aan die gemeenskappe betaal het nie, het ’n mens begrip vir hul vrese.
“Dié 200 kg mielies per huishouding was ons teken van vertroue en verbintenis tot die projek en die gemeenskap. Net so was die eerste stap van die produksieproses om al die landerye te omhein,” sê Debra.
Sy sê Wiphold het die onderdele van die heinings gekoop met die ooreenkoms dat die gemeenskap die heining sonder betaling sal oprig en in stand hou. “Dit was húl teken van verbintenis en toewyding tot die projek.”
PASSIEVOLLE LEERMEESTER
In die eerste twee jaar het Wiphold die produksieproses saam met ’n plaaslike kontrak- teur, mnr. Jacques du Preez, bestuur. “Om Jacques by dié projek betrokke te hê, is ’ n groot seën. Hy loop hordes ekstra myle sonder dat dit van hom verwag word. Hy maak die trekkerdrywers touwys oor hoe om die trekkers te onderhou en te bestuur.
“Hy gaan uit sy pad om ons almal die verskillende bestuursaktiwiteite op die regte tye in die boerdery te laat begryp. Dit het ons bewus gemaak van die noodsaaklikheid van ’n toegewyde boer by projekte soos dié,” sê Debra.
Jacques se pa het op ’ n plaas by Peddie geboer. Toe dié grond deur die voormalige regering geoormerk is as deel van die Ciskei-tuisland, het hulle ’n plaas 70 km buite Oos-Londen, naby die voormalige Transkei, gekoop. Hy boer sedert 1980 al op dié plaas. Aanvanklik het hy met pynappels geboer. Hy was die pynappelboer wat op die hoogste vlak bo seespieël met dié gewas geboer het.
Later het hy na veeboerdery uitgebrei en boer tans met beeste, skape, mielies en soja. Aangesien hy al jare suksesvol in dié klimaat boer, het die Regering hom bykans 15 jaar gelede genader om as mentor op te tree vir landboubemagtigingsprojekte in die voormalige Transkei.
VAN MAATSKAPLIK TOT KOMMERSIEEL
In 2012 is die hele oes van 60 ha mielies aan die gemeenskap uitgedeel om daarmee te maak wat hulle wou. Toe Gloria en haar span in 2013 die groot klomp mielies op 340 ha geoes het, was dit chaos op ’n goeie manier – daar was meer as 2 ton mielies vir elke huishouding.
“Ons het ná die oes vyf 40 kg-sakke mielies aan elke huishouding gegee en die res verkoop om die produksielening terug te betaal,” sê Debra. “Dit was ’n groot verrassing en ons moes vinnig leer oor leweringskontrakte en mieliepryse. Dit was egter ’n goeie les en ook ’n vroeë kans om die gemeenskap deel te maak van die delg van skuld en om voorsiening vir die toekoms te maak. “Ons het toe besluit om die korporatiewe maatskaplike belegging om te skakel in ’ n volskaalse kommersiële boerdery. Die projek was mos duidelik ’n sukses wat pa kon staan vir die koste. Tot in dié stadium het Wiphold sowat R25 miljoen belê sonder die verwagting om dit terug te verdien. Ná verlede jaar se seisoen boer ons egter streng volgens kommersiële beginsels en die produksielening moet terugbetaal word,” sê Debra.
VERDELING VAN WINS
Volgens Wiphold se model word die verdienste op drie maniere verdeel. Eers word die grondhuur betaal, wat die deelname van die individuele grondgebruikers verseker. Daarna word die produksielenings, wat kontrakteurs, banklenings en konsultante insluit, terugbetaal. Laastens word die wins onder die hele gemeenskap verdeel.
“Dié wins word in die Centane-gemeenskapstrust oorbetaal. ’n Deel daarvan word regstreeks in elke gemeenskapslid se bankrekening inbetaal en die res word aangewend om die gemeenskap te help ontwikkel.
“Alle gemeenskapslede is egter nie mielieboere nie en hul grond word nie vir mielieproduksie aangewend word nie. Hulle kry dus nie grondhuur nie. Daarom is dit noodsaaklik om hulle deel te maak van dié projek se wins. Ons wil soortgelyke
kommersialiseringsprojekte met lewende hawe doen. Dan sal die wins van daardie projekte op dieselfde drie vlakke verdeel word. Só word wedersydse respek en waardering tussen die verskillende boere gekweek,” sê Debra.
Die boekjaar 2013/’14 was nog ’n korporatief-maatskaplike beleggingsjaar. Tog het die verskillende gemeenskappe besin oor hoeveel van die wins uit die mielies aan die huishoudings uitbetaal moet word. Die een gemeenskap wat die beste opbrengs gekry en die beste na hul mielies gekyk het, het besluit dat R3 000 van die wins per huishouding uitbetaal moet word. Die res van die wins is teruggehou om skuld te delg en produksiemiddele vir die 2014/’15-seisoen te koop.
Volgens me. Pinky Matanzima, Wiphold se bestuurder in die Oos-Kaap en lid van die koninklike Matanzima- familie, is die konsep van terughouding en begroting nie so ’n probleem soos verwag nie. “Dit is iets wat verkeerdelik as ’n vreemde instelling in kommunale gemeenskappe beskou word. Tradisioneel is terughouding en voorsiening vir volgende seisoen die ingebore wyse waarop kommunale gemeenskappe oorleef.
“Dit het ons aandag gevestig op die gevaar van aannames oor die onkunde van landelike gemeenskappe. Die prosesse en besluitnemingstrukture binne die gemeenskaplike leefwyse is ’n belangrike deel van die kommunale kultuur. As ’n vennootskap, soos dié een waarby ons betrokke is, gaan slaag, moet daar respek wees vir dié kultuur,” sê Pinky.
By die eerste vergadering met die Dondashe- en Kente- gemeenskap, onder leiding van me. Nkosi Nomlindelo Gloria Dondashe, het Gloria en Pinky vir bykans drie uur lank geduldig vrae beantwoord. Dié twee gemeenskappe is deel van die grond waarop Wiphold later vanjaar meer as 1 500 ha mielies gaan saai.
“Elkeen moet die kans kry om sy of haar sê te sê. As jy nie die kans gebruik om jou vrae te vra nie, het jy later geen verweer as jy ongelukkig is nie. As jy as vennoot nie vir mense die tyd vir dié vrae gun nie, het jy nie ’n voet om op te staan as die ongelukkigheid in skade oorspoel nie,” sê Pinky.
“Dit was en bly ’n reuse-uitdaging, maar dit is hoe dinge hier gedoen word. Die vertrouensverhouding wat deur dié geduld gevestig is, is wat van hierdie projek ’n sukses gaan maak,” sê Gloria.
LEIERSKAP IS DIE UITDAGING
Vanjaar se seisoen sal waarskynlik beter as enige van die voriges wees. Dit is danksy die uitstekende bestuur van die Technoserve- span wat saam met Jacques die produksiebestuur behartig.
Technoserve se streekbestuurder, mnr. Samson Tauzeni, is verantwoordelik vir die hele Oos-Kaap en in Centane bestuur mnr. Johannes van Zyl die daaglikse bedrywighede. Die oogmerk is om die ondersteuningstrukture al minder te maak tot dié gemeenskappe volhoubaar op hul eie kan voortboer.
Volgens mnr. Jerry Lambie, hoof- tegniese adviseur van Technoserve in Suid-Afrika, is leierskap uiters belangrik. “Al die kennis en toegang tot hulpbronne, soos kopers en konsultante, word nou hier gevestig. Dit gaan egter van ’n leierskapstruktuur in die gemeenskap afhang om volgehoue produksie in die toekoms te verseker en ook om dié hulpbronne en kontakte te koester.”
Dit is dié uitdagings wat tans nog werk verg. Die projek en die kennis van die ge- meenskap én Wiphold het egter die grootste treë vorentoe gegee in oomblikke van chaos.
“Toe ons te veel mielies gehad het, het die chaos ons vinnig geleer oor koopkontrakte. Ek vermoed volgende jaar se oes gaan ons nog ’n paar lesse leer, want om in een jaar van 670 ha tot 1 500 ha uit te brei, is enorm. Maar ons leer uit die chaos. Solank ons die gemeenskappe se menswaardigheid en selfvertroue as ’n voorrangsaak koester, sal die leiers genoeg selfvertroue hê om ook uit dié chaos na vore te tree,” sê Gloria.