SLAAPWANDEL
Ons besoek onlangs een van SuidAfrika se bekende vervaardigers van landbouwerktuie in ’n nywerheidsgebied noord van Petoria, omring deur ’ n uitgestrekte township.
Die eienaar vertel ons hoe die gebied net 10 j aar gelede nog 25 000 werkgeleenthede gebied het, meestal in die klein vervaardigingsektor. Vandag is daar skaars 2 000. Toe die gerug onlangs versprei is dat ’n fabriek sy deure in die gebied sou oopmaak, het só ’n groot skare een oggend opgedaag in die hoop om werk te kry dat almal gedink het ’n massiewe optog is onderweg.
Vroeër die week maak David Shapiro van Sasfin oor die radio die verstommende opmerking dat die land se goudmynbedryf al só erg gekwyn het dat hy deesdae soveel werd is soos Woolworths, terwyl die platinumbedryf vandag maar so groot is soos Nedbank.
Dis nie net die primêre mynbedrywe wat kwyn nie. Al die maatskappye wat goedere en dienste aan hulle verskaf, ly ook — van die werktuie van Caterpillar en Barloword tot die plofstowwe van Omnia en AECI. Dan is daar natuurlik ook die kleiner, plaaslike ondernemings — van skoonmaakdienste tot sekerheidsmaatskappye — wat in die hek duik as myne hul bedrywighede inperk. En ’n mens het nog nie eens begin praat oor die duisende mynwerkers wat toenemend hul werk kwyt is nie.
Dieselfde geld die l andbou. Toe daar sprake was dat ’n steenkoolmyn in Limpopo se Vhembe-distrik gevestig sou word, het ZZ2 se Philé van Zyl gesê die steenkoolmyn sal ’n skamele 1 000 werksgeleenthede skep, en net solank hy operasioneel is. Dit bring nie die erge grondwaterbesoedeling in berekening nie.
As die staat eerder die landbou in die gebied met dieselfde ywer wou bystaan, kon ZZ2 alleen sowat 200 000 werkgeleenthede geskep het. Dit is werkgeleenthede wat oor geslagte heen sou strek in ’n bedryf wat veel minder besoedelend is as ’n steenkoolmyn.
Die staat kan gerus na boere, soos Philé, luister, want ondanks die menige struikelblokke wat gedurig in die landbou se pad gerol word, neem die bedryf steeds sowat 900 000 mense in diens, volgens Statistieke SA se beraamde syfers.
Oor die jare is werkgeleenthede deur onbesonne wetgewing verwoes. Dit lyk of die betreklik goeie tye vir eers verby is. Die ekonomie staar ’n verbysterende reeks uitdagings in die gesig.
Die onlangse droogte kos die landbou miljarde, en ’n sterk El Niño word vir die komende produksiejaar voorspel. Die help ook nie dat die wêreld homself in ’n siklus van lae landbouprodukpryse bevind, terwyl die pryse van “harde kommoditeite” (grondstowwe) ook tuimel weens swak vraag uit China nie. Beleidsonsekerheid is orals te bespeur, van swart bemagtiging tot die aanslag op eiendomsreg, terwyl die hupstoot van die staat se beloofde belegging van miljarde in die land se infrastruktuur ook nie gematerialiseer het nie. Dit is deesdae beperk tot die instandhouding van bestaande infrastruktuur, soos ons vloot verouderde steenkoolkragsentrales.
Soos Shapiro tereg sê: Wat hom regtig bekommer, is dat dit nie lyk of enigiemand anders regtig bekommerd is nie.
–