Landbouweekblad

NUWE, VEILIGER SKEERKAM

-

’n Nuwe skeerkam wat genoeg wol op die skaap agterlaat om die dier in koue toestande te beskerm, is pas deur die landboumaa­tskappy BKB uit China ingevoer en landwyd getoets. Mnr. Johannes Pienaar, hoof van BKB se skeerdiens op Zastron, sê hulle is tevrede met die voorlopige resultate.

Die nuwe kam pas tussen ’n somer- en ’n winterkam in.

Die kam se funksie is drieledig. Dit laat genoeg wol op die skaap agter om dit in koue toestande te beskerm, die skape doen minder skeerbeser­ings op en dit sorg vir ’n gladde, afgeronde voorkoms.

“Dit laat ’n betreklik lang wollaag op die skaap se vel sonder om onegalige skeerhale agter te laat,” sê hy.

Een van die voordele van die nuwe kam is dat skeerders wat die kam slyp, nie die tande ook dunner en skerper maak nie. Beserings word dus beperk.

Die tande van die nuwe kam, wat as die hoogloop- kam bekend staan, is effens na bo gebuig. Dit laat ’ n bykomende wollaag van sowat 7 mm agter, teenoor die ou kam waarvan die punte mettertyd baie skerp kan raak en beserings kan veroorsaak.

BKB het die kamme op ’n onlangse besoek aan China bekom met die oog daarop om gaandeweg die handskeer van skape uit te skakel.

Mnr. Isak Staats, hoofbestuu­rder vir wol en bokhaar by BKB, sê ingevolge die maatskappy se beleid oor skeeroplei­ding en die indiensnem­ing van ál meer plaaslike skaapskeer­ders word groter klem op veilige skeermetod­es en -hulpmiddel­s gelê.

“Vir BKB is die welstand van skape baie belangrik. Ons probeer om deurlopend nuwe metodes te vind om stres en beserings in die skeerprose­s te verminder,” sê hy.

Hy voeg by dat die skeeraksie met die nuwe kam vir skeerders ietwat anders is en dat dit ’n aanpassing­stydperk kan verg.

– JOHAN NORVAL

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa