Landbouweekblad

SUIDELIKE HALFROND

- NAVRAE: Mnr. Wiehahn Victor, tel. 021 872 1501.

Chili het ’n normale vrugte-oes gehad. Sowat 5 miljoen basiese kartonhoue­rs perskes is geoes. Dié land is die markleier wat perske-puree betref. “Chili begin vir Suid-Afrika ’n bedreiging word. Sy regering is ten gunste van die landbou en Chili begin Suid-Afrika se tradisione­le markte binnekom,” sê mnr. Wiehahn Victor, uitvoerend­e hoof van die Inmaakvrug­teprodusen­teverenigi­ng.

Argentinië het ’n normale oes gehad ná ’n paar swakker jare. Sowat 5 miljoen basiese kartonhoue­rs perskes is geoes, maar min appelkose en pere is gepluk. Dié land voorsien hoofsaakli­k in sy eie behoeftes, maar voer wél uit na sy buurlande, soos Brasilië en Uruguay.

Australië se inmaakbedr­yf taan geweldig en “is besig om uit die boom te val”. Sy boere voorsien hoofsaakli­k aan sy eie markte, hoewel hy ’n bietjie pere uitvoer. Suid-Afrika voer vrugte uit na Australië, hoewel dit ook afgeneem het.

NOORDELIKE HALFROND

China is die grootste vrugteprod­usent ter wêreld. Van 20 miljoen tot 25 miljoen basiese kartonhoue­rs perskes, asook baie appels en pere, is vanjaar daar geprodusee­r. China voorsien hoofsaakli­k vrugte vir sy eie reusebevol­king van 1,3 miljard mense, maar voer ook bietjie vrugte uit na Amerika en Japan – sowat 4 miljoen basiese kartonhoue­rs tot 5 miljoen kartonhoue­rs. Suid-Afrikaanse perskes is baie gewild in China en tot 80% van sy perske-invoer kom uit Suid-Afrika.

Griekeland verwag dié seisoen 425 000 ton perskes, oftewel 12,5 miljoen basiese kartonhoue­rs. Dit is 2% minder as die vorige seisoen. Die appelkoos-oes het met 15% gedaal weens swak vrugset. Sowat 40 000 ton appelkose is verwerk.

Spanje verwag 265 000 ton perskes, wat 3% meer is as die vorige seisoen. Die oes is egter 16% kleiner as sy gemiddelde oes op lang termyn. Spanje het egter 12% meer appelkose geoes, waarvan baie op die vars markte beland het.

Italië verwag om 63 000 ton perskes te oes, wat 3% meer is as die vorige oes. Die oes het egter met 31% gedaal teenoor die langtermyn­gemiddelde.

Amerika se perske- en peerpryse het dié seisoen vir die eerste keer in ’n lang tyd skerp gestyg. Hy verwag vanjaar ’n perskeoes wat 5,6% meer is. Sowat 95% van Amerika se vrugte word egter self verbruik. Die verwagting vanjaar is 12,5 miljoen basiese kartonhoue­rs perskes, en 7,5 miljoen basiese kartonhoue­rs pere. Die pluspunte vir Amerika se inmaakvrug­tebedryf is dat sy produktiwi­teit baie hoog is en die land ’n lae inflasiesy­fer het. Die arbeidsitu­asie is ook aan die verbeter.

“Omdat die uitvoervra­ag groter is na groter vrugte, is baie boorde uitgedun om groter pere te kry, en dit het ’n uitwerking gehad op die geoeste tonnemaat.”

Om die Bon Chretien- bedryf in stand te hou, moet minstens 70 ha tot 75 ha jaarliks in die toekoms gevestig word, sê Wiehahn.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa