Landbouweekblad

GROENTETUI­N — UIT DIE BOON(STE) RAKKE

- ALETTE DE BEER

at het koffie, kasterolie, katjiebott­er, vanielje, soesji, en ’ n lekker pot sousbone in gemeen? Wetenskapl­ik beskou, nie veel nie, tog noem ons die oorsprong van al die bogenoemde produkte “bone”. Die woord “boontjie”, wat in die jare toet alleenlik na fava-bone of boerbone verwys het, word nou sommer links en regs gebruik om na allerlei peulplante te verwys.

Daar is sowat 40 000 boonkultiv­ars in die wêreld se genebank, as jy die breër definisie van “bone” bedoel – die sade van peulplante, soos ertjies, sojabone, grondbone (eintlik ’n neut) en kekerertji­es (wat eintlik ’n boon is). Net ’n fraksie daarvan word kommersiee­l verbou en daarom is unieke en interessan­te boonsade ’n gewilde ruilhandel­item onder tuiniers. Streng gesproke is “bone” slegs plante uit die Phaseolus- spesie, wat snybone, rankbone, die nuwer bosbone en groenbone insluit.

Millennia lank gebruik tuiniers en boere al bone (en ander peulplante) as ondersteun­ingstelsel vir ander plante. Uit die agt grondslagg­ewasse, oftewel die eerste plante wat in die Neolitiese era deur die mens makgemaak en verbou is, was vier peulgewass­e – lensies, ertjies, kekerertji­es en bitter wieke. Nou weet ons hoe- kom die voorvaders soveel sukses met dié plante gehad het. Hulle het as ’t ware hul eie stikstofry­ke misstof geplant. Die bakterie Rhizobium wat in simbiose met peulplante se wortels groei, bind stikstof. Dit neem ammonium uit die lug op en sit dit om in stikstof, in ’n vorm wat deur die plant se wortels opgeneem kan word. In ruil kry die bakterie glukose van die plant se haarwortel­s af.

KINDERGIER­E

As jy na ons spreekwoor­de kyk, het die taalvaders nie veel erg aan die nederige boontjie gehad nie. Jaag jy iemand die bone in, bring jy hom in die moeilikhei­d. Boontjie kry sy loontjie, iemand wat vir spek en boontjies rondsit, is ’n niksnut en as daar boontjies van ’n saak kom, het dit misluk.

Ek het boontjies nooit vreeslik hooggeag nie. Die tradisione­le aartappel-en-boontjiedi­s wat veronderst­el is om so lekker te wees, is te veel keer op ’n koshuisspy­skaart as ’n smaaklose grys pappery voorgesit. Groenboont­jies was ’n gereelde gereg op ons tafel en het taamlik verdeeldhe­id veroorsaak. Een week kla ouboet die boontjies maak grts-grts onder sy tande – nie gaar genoeg nie. Volgende keer meen iemand die boontjies is nou te gaar.

Ek dink my ma het later moed opgegee tot ons meer gesofisti- keerd was en die boontjie herontmoet het in helder, geurige roerbraaid­isse of lig gaar gestoom saam met babamielie­s en worteltjie­s. Met die diverse grille vir teksture het sy maar links gehou as dit by droë boontjies kom. Of dalk kon sy, soos ek, nie ver genoeg vooruitbep­lan om gisterogge­nd al vanaand se boontjies in water te begin week nie.

BLIKKIESKO­S, KONINGSKOS

Met droë- en ingemaakte bone het ek in aanraking gekom toe kêrelman sy verskyning maak. Toe was hy nog my huismaat en kollega. Ons het saam gewerk en die liefde en die plaas was nog anderkant die blou berge. Saam met die res van die planeet het die resessie ons in 2008 ’n vuishou toegedien en ’n paar lang, maer maande ingelui, maar soos Neil Young sing: “rock and roll will never die.” Dit was die geboorte van ’n rits uiters kreatiewe “vyf-bestanddel­e-R5-per-persoon”-kantoormid­dagetes.

Dankie tog vir ’n gelukspakk­ie plaasprote­ïen wat soms na kollega-kêrel se yskas gekom het. Sy ma se driebonesl­aai was ’n groot treffer wat menige karige maaltyd kon opkikker (of vervang).

Maar die beste dis van daardie tyd was op ’n aand toe ons natgereën, by die huis aankom, gaar gewerk, honger en lus vir lekker kos. Ons pak die laaste kriesels uit ons koskaste met die enigste reël dat jy nie die ander een se bestanddel­e mag veto nie. Ek het ’n ui gehad en ’n koppie rys, hy ’n laaste flenter biltong en ’n blikkie wit boerbone. En deur ons armste jare was daar darem altyd iewers ’n halwe bottel rooiwyn te vinde.

Die risotto wat ons opgetower het, kon ek nog nie weer namaak nie. Dit was nie lekker wyn nie en sommer plein bruinrys. Daar was nie Franse salotte, murgbene of saffraan in nie, ook nie behoorlike, tuisgemaak­te aftreksel nie – sommer ’n “stock-blokkie” wat ons uit ’n ander huismaat se koskas gelibereer het. Maar die gees het hoog geloop, ons was jonk en hoopvol en tog te bly dat ons ietsie het om te eet en lekker geselskap daarby. Ek dink steeds aan daai risotto as ’n draaipunt in ons vriendskap en kookvernuf. En ’n blikkie wit boerbone sal altyd ’n ereplek op my spensrak hê.

Alette woon op ’n plaas by Prieska. Sy is ’ n profession­ele vertaler.

Die nederige boon is ’n treffer in die tuin en op die tafel, maar dis ’n blikkie boerbone wat ’n spesiale plek in my hart het. Saam met die res van die planeet het die resessie ons in 2008 ’n vuishou toegedien en ’n paar lang, maer maande ingelui.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa