Landbouweekblad

Teler se slim plan hou werkers selfs naweke aan diens

- NAVRAE: Dr. Marianne Thomson, e-pos:

Marianne Thomson vat nie nonsens nie. Dít kom mens gou agter as jy kuier op Ambiance Stud, haar 105 ha-plaas aan die voet van Worcester se Brandwacht-berge. Onopgesmuk in jeans en tekkies, haar rooi wolbaadjie se rits tot onder haar ken opgetrek teen die skraal herfsluggi­e, skud sy vriendelik jou hand terwyl haar wakker bruin oë jou opsom.

Marianne (74) is ’n bekroonde resiesperd­teler, perde- veearts en uitvoerder van Bon Chretien-en Forelle-pere. Sy gaan kuier ook soveel as wat die boerdery en haar besigheid toelaat op haar afgeleë plaas in die Karoo.

“Dis maar moeilik. Die ekonomie is swak,” sê sy terwyl sy koffie maak. “Die middelmark vir resiesperd­e koop, is in duie. Mense wat vroeër kon bekostig om ’ n paar perde aan te hou, kan nie meer nie. Maar dis ’n versla- wende ding. Nes ek dink ek het nou genoeg gehad, ek gaan die perde verkoop, sien ek weer ’n merrie wat die regte stamboom het.”

WERKERPLAN

Met tien werkers wat na die perde omsien, vyf permanente en ongeveer 22 kontrakwer­kers wat die kleinskaal­se peerboerde­ry behartig, is dit swaar trek, slim dink en uithouverm­oë om kop bo water te hou. Veral op haar ouderdom, want aftree-gedagtes spook gereeld, en sy het onlangs by die dood omgedraai ná ’n bloedklont deur die hart.

“Ja, ek het gelukkig besef wat besig was om te gebeur en toe sommer myself met ’n bloedverdu­nningsmidd­el ingespuit voor ek hospitaal toe gery het.”

Dit het haar opnuut laat besef dat sy sake in orde moet kry, dat daar mense is wat sonder ’n inkomste sal sit as sy skielik iets moet oorkom. Sy glo egter nie aan aalmoese nie. Sy glo ’n mens kry dít terug wat jy insit.

Dit is waar die eenvoudige stelsel vandaan kom wat sy ontwerp het om haar werkers by die perde te inspireer om nie lyf weg te steek nie. “Perde weet mos nie dis naweek nie. Hulle het elke dag sorg nodig. En ’ n mens kan nie dronk op ’n Saterdag opdaag en dink jy kan met perde werk nie.

Marianne koop ’ n ses maande tot agt maande oue vulletjie op ’n veiling en betaal al die koste om die perd groot te maak. Die werkers kry dan 20 aandele elk en moet seker maak hul “belegging”, asook die ander perde, word te alle tye goed versorg.

“As ’n werker nie opdaag nie of aangeklam is die dag, dan verloor hy een aandeel. En die verlore aandeel kom nie na my toe nie, dit gaan terug in die poel. Die ander werkers vind baat daarby. Dit kom neer op gesonde groepsdruk. Die volgende dag word die werker wat nie opgedaag het nie, deur die ander bedank vir sy aandeel.

“Ek weet nie wanneer ek laas iemand ge-

Worcester se resiesperd­teler en perde-veearts, dr. Marianne Thomson glo nie daarin om aalmoese uit te deel nie. Daarom het sy ’n unieke plan ontwikkel om te sorg werkers steek nie lyf weg nie.

had het wat weggebly het van die werk nie.”

Na ongeveer 15 maande word die perd op ’n veiling verkoop en kry die werkers die aandele van hul “belegging” nadat kommissie en ander veilingsko­ste afgetrek is.

“Dit werk nes ’n opemarkste­lsel” sê Marianne. “Ek glo nie aan Kommunisme, waar dieselfde vir almal uitgedeel word nie, ongeag of jy dit verdien of nie. Met my stelsel kry jy op die ou end waarvoor jy gewerk het.”

“Ja,” sê mnr. Andries Stevens, ’ n senior perdewerke­r wat al sewe jaar lank saam met sy gesin op die plaas bly, “dis ’n goeie stelsel, dit beteken baie vir mens se familie om die einde van die jaar daai ietsie ekstra in te kry.”

Later stap ons uit perdekamp toe, haar string honde agterna; van die klein worsie, Nossi, tot die enorme, saggeaarde Ierse wolfhond, Joe.

Terwyl sy in die kamp tussen haar perde deurloop, hier en daar ’ n vulletjie opjaag wat op die grond uitspan, vertel Marianne van haar seun, Ashley Freeman, wat saam met haar geboer het voor hy agt jaar gelede Kanada toe is. Van Desmond Sterley, haar voorman, wat in 2007 in sy huis doodgeskie­t is. Dit was donker tye, tye toe sy amper alles wou verkoop en toemaak.

“As dit nie was vir my passie om perde te teel nie, sou ek nie voortgegaa­n het nie.” Sy glimlag weer. “Maar perdekoop is soos dobbel, ek kan myself eenvoudig nie help nie.”

Sy tel ’ n hand vol lusern op en vee oor ’n hings se kop terwyl hy uit haar palm eet. “Perde is nes beeste. Hulle het roetine nodig, hulle moet elke oggend uitgevat word, vreet. Ek glo hoe meer hulle buite is, hoe gesonder is hulle.”

BEWYS HAARSELF OOR DIE JARE

Marianne is bekommerd oor die resiesperd­bedryf se toekoms; die duur lusern en hawer, die klomp uitgawes, die resessie.

“As ’n vrou het ek geleer om slim te werk,” sê sy. “As jy te veel krag gebruik, dan moet jy weet jy doen iets verkeerd.”

Sy onthou toe sy as jong vrou ’n Jerseybul op ’n plaas by Tulbagh moes onthoring omdat hy ’n werker in die hospitaal laat beland het. “Dit was voor die tyd van kalmeermid­dels. Die bul was behoorlik bedonnerd,” vertel sy.

Met die hulp van die boer, ’ n werker en twee bale lusern aan toue om sy horings vasgemaak, kry hulle toe uiteindeli­k reg om die bul in die hoek van sy klein kraaltjie vas te trek. Marianne spring toe oor die muur, spuit pynverdowi­ng in en saag sy horings af.

“Dit was rof daai tyd. Veral vir ’n vrou. Jy moes jouself gedurig bewys. Vandag sit ons met ander soort probleme: Jy sit meestal agter jou rekenaar en probeer die boeke laat klop, deur die hope administra­sie werk. ’n Mens is min tussen jou diere of op die landerye.”

Sy skud haar kop skielik. “Maar waar gaan ’n mens heen as jy aftree?” Een opsie is haar Karooplaas wat Marianne nege jaar gelede gekoop en waar sy gereeld gaan kuier.

“Ek het net die honde gevat en vir twee of drie dae daar gebly. My enigste vrees was dat die bakkie nie in die oggend sal vat nie. Ek was nooit bang vir pap wiele nie; ek kon nog altyd maklik my eie bande omruil, al die jare. Jy moet net die regte toerusting hê.”

Dit is egter te afgeleë om permanent daar te gaan bly. Deesdae is die genot wat sy put uit haar familie se kuiers daar saam met haar vir haar kosbaar. “Waar het jy gesien kinders vat hul tentjie en gaan kampeer alleen vir die aand in die veld? Dis ’n baie spesiale plek.”

Maar op die Sondagmidd­ag ná ’n naweek op die Karooplaas ruim sy die kliphuisie op, laai die honde in die Land Rover en gee vet dat die stof so staan op die plaaspaaie terug N1 toe. Want sy gaan maak gewoonlik eers ’n draai by Touwsrivie­r se kwarantyns­tasie waar sy bloedtoets­e moet doen op ’n klomp Hoëveldse resiesperd­e op pad na ’n Kaapse veiling toe. Wie weet, dalk is daar ’n vulletjie met ’n goeie stamboom tussenin.

‘As jy te veel krag gebruik, dan moet jy weet, jy doen iets verkeerd.’

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa