Kos en katels vul gaping in Karoo
Ek doen al tien jaar lank spyseniering en ek gebruik vleis, pampoen, spinasie, wortels en aartappels van die plaas af. Ek doen sowat 80% van my werk by die huis en vervoer dan die produkte na die onthaal waar ek die laaste werkies aanpak. Die afgelope twee jaar bedryf ek ook die Vetmuis-Karoohuis op die plaas. Dis ’n pragtige ou vierslaapkamerhuis met plankvloere, ’ n Aga- stoof, kaggels en antieke meubels. Dis ’n plek waar gesinslede mekaar weer kan vind. In die Vetmuis-plaaskombuis op die dorp verkoop ons kontreikos, soos tuisgemaakte konfyt, blatjang, beet, koekies, beskuit, nageregte, ingemaakte produkte en vleisprodukte. Ons verkoop ook wolklere en pantoffels.
Waar kry jy al die sake-idees?
Ek het ’n sjefkursus by Silwood Kitchen in Kaapstad gevolg en op ’n jagplaas gewerk. Daar het ek baie geleer, veral van vleis. My ma het spyseniering gedoen en ek hou daarvan om in die kombuis te werk. Daar was ’n vraag na ’n gastehuis in die omgewing en ook ’n leemte op die dorp vir ’n plaaskombuis – ’ n plek vir geskenke koop, koffie drink en lekker eet. Ek het die gaping gesien en ons deure is nou al drie jaar lank oop. Vyf werkers help met die spyseniering, twee by die Vetmuis-plaaskombuis en een by die Vetmuis-Karoohuis. Hulle kom meesal van die plaas af. Ek leer hulle alles – van tafel dek, bediening, nuwe resepte, spyskaarte en om met mense te werk. Hulle geniet hul werk. Ek gee hulle verantwoordelikheid, en hulle vra as hulle vashaak.
Wat was jou grootste uitdagings?
Aanvanklik het ek gesukkel om vars produkte in die hande te kry. Vervoer op die grondpaaie is ook nie maklik nie, en die afstande is ver. Beplanning is noodsaaklik, want bestellings wat op die laaste minuut afgestel word, was ’n probleem.
Hoe verhoog jy produktiwiteit in die werkplek?
Deur nooit my naasbeste te gee of te doen nie. Ek lewer nooit ’ n produk wat nie op standaard is nie. Werk in harmonie met jou werkers en pas hulle op. Gee vir elkeen ’n verantwoordelikheid en doelwit.
Wat maak jou onderneming uniek?
Die spyseniering en plaaskombuis maak ’n verskil aan die gemeenskap en toeriste wat deur die dorp beweeg, want die dorp het so iets nodig gehad. Egte, vars voorbereide produkte uit ons omgewing maak die verskil. Die gehalte bied ook waarde vir jou geld. In die Karoo kan ’ n mens nog R140 per kop vra vir ’n driegang-ete.
Wat is die beste raad wat jy tot dusver gekry het?
Die beste raad is ver van jou goed, naby jou skade. Doen slegs dit waarvan jy kennis het en waarvan jy hou. Omring jouself met optimistiese mense. Glo in jouself.
Watter belangrike lesse het jy geleer?
Om ’n sakevrou te wees, het my geleer om te luister. Geduld is ook iets wat ek aangeleer het. Jy leer baie oor menseverhoudings. Maar die heel belangrikste wat ek geleer het, is wie nie waag nie, sal nie wen nie.
Janine Viljoen bedryf sommer drie ondernemings – ’n gastehuis en spysenieringsdiens op hul skaapplaas Slaaifontein naby Richmond en ’n plaaskombuis op die dorp waar mense haar watertand-lekkernye en gesogte wolprodukte koop.
Gee vir elke werker ’n verantwoordelikheid en doelwit.