Grondminerale hou die balans
Elkeen stry daagliks met ’n groot finansiële vraag: Hoe balanseer ek die behoefte aan kontant met die nodigheid om iets vir die lang termyn te bou? Die twee, kontant en bate, is natuurlik verwant, aangesien kontant nodig is om ’n bate aan te skaf en ’n bate se verkoop nodig is om kontant te in te bring.
As ons slegs op kontant klem lê, kan ons goed leef, maar ongelukkig ook net ’ n ruk lank. As ons daarenteen slegs op die batekant klem lê, gaan ons dalk ryk dood, maar sonder dat ons geleef het. Ons het albei nodig, in ’n fyn balans met mekaar, maar ook ondergeskik en terselfdertyd aanvullend tot die doel van ons onderneming.
Dit is ook die geval met grondvrugbaarheid en die debat oor anorganiese teenoor die aanvulling van organiese gewasvoedingstowwe.
Navorsers reken tot 50% van die wêreldbevolking ly aan mikrovoedingstoftekorte. In ten minste 60% van bewerkte grond is probleme wat plantgroei beperk. Dit kan vereenselwig word met tekorte aan mineraalvoedingstowwe en toksisiteit.
OES IS SOM VAN DIE OMGEWING
Alle lewe op Aarde – plante, diere of mikrobes – bestaan uit dieselfde basiese reeks mineraal-elemente. Dit is slegs die verhouding van die onderskeie voedingstowwe wat in die organismes verskil. As ’n tekort of oormaat aan ’ n mineraal- element beskikbaar is, sal die hele hoër orde voedselketting in daardie omgewing dieselfde kenmerkende tekort of oormaat weerspieël.
Bewyse toon dat landbouprodukte die afgelope 70 jaar ’n mediaanvermindering van tussen 5% en 40%, of selfs meer ten opsigte van sekere minerale, vitamiene en proteïene ondergaan het. Die stand van sake het beduidende gesondheidsgevolge vir die mens. Dit is dan seker geregverdig om te sê dat daar sekerlik iets fundamenteels verkeerd is in die landbou.
Plante het ’n hoë toleransie vir voedingstoftekorte en toksisiteit, en genadiglik so, anders het ons groter probleme gehad. Plante het die vermoë om te groei in ’n wye verskeidenheid toestande en omstandighede, maar die gehalte van hul oes is uiteindelik ook die som van hul omgewing.
’ n Deel van kos se vermindering in voedingstofdigtheid kan verduidelik word aan die hand van ’n omgekeerde verwantskap met die groter wordende oes. Die res is egter die gevolg van ons bestuurstrategie van voedingstowwe.
Ons voedingstofbestuur lê sterk klem op sekere van die plant se strukturele elemente (N,P, S, Ca, en onregstreeks ook Si, O,C, H) en dan sekere van die elektrolitiese elemente (K, Na, Ca, Cl, Mg), maar min aandag word gegee aan die ensiematiese elemente (Mg, Fe, Zn, Cu, Mn, Co, Cr, Mo, Se, Sn, F, I, Ni, V, B).
Die gevolg daarvan is dat iemand ’n vars produk kan koop wat identies lyk aan dié van ’n ander verskaffer, van dieselfde kultivar en ook gesond voorkom, maar met ’n groot verskil in mineraalvoedingstofdigtheid.
WIE MOET DIE SKULD DRA?
Die hoofrede vir die kommerwekkende alledaagse scenario kan voor die deur van die eksklusiewe gebruik van anorganiese kunsmis gelê word. Dit is die gevolg van die skeiding van organiese koolstof met verloop van tyd en in die plek van die natuurlike voedingstofsiklusse van stikstof, fosfor en swael. Dit veroorsaak ’n afname in die plant- en mikrobies bemiddelde prosesse wat verantwoordelik is vir die oplos van die ander noodsaaklike voedingstowwe.
Ten spyte daarvan kan ons met die korrekte oesvoedingstofdigtheid steeds ’n aansienlike verhoging in opbrengs verkry as ons ’n ten volle geïntegreerde, holistiese stelsel van bestuur as benadering volg en nie slegs klem lê op die opbrengs op kort termyn nie (sien “Intensief en ekologies: Kan dit saam bestaan?”, LBW, 26 Junie 2015).
Die ander goeie nuus is dat gronde in Suid-Afrika beduidende hoeveelhede opgebergde voedingstowwe bevat. Die voedingstofreserwes is vir die meeste elemente, met die uitsondering van stikstof (waar dekades ter sprake is), in die ordegrootte van honderde tot duisende van jare.
Die probleem is die opgebergde voedingstowwe is grootliks plant-onbeskikbaar aan plante. Die verskil tussen die algehele grondvoedingstofreserwe en die plantbeskikbare voedingstofpoel kan egter verminder word deur bestuurspraktyke wat klem lê op groter wordende grondvrugbaarheid en dan spesifiek ook die biologiese komponent daarvan.
Ons moet weer organiese koolstof koppel aan die proses van ekologiese voedingstofsirkulasie. Dit kan slegs bereik word met die toediening en terugplasing van organiese materiaal in die grond. Hoe meer en hoe hoër die gehalte van die teruggeplaaste organiese materiaal en hoe groter die wisseling van die materiaal se koolstof-tot-stiktof-(C:N) verhouding, hoe beter.
DIE DOELWIT VIR ELKE BOER
Dit behoort elke boer se doelwit te wees om
Die voedingswaarde van landbouprodukte het die afgelope 70 jaar met tot 40% verminder. Dié verlies kan omgekeer word deur ’n aktiewe mikrobiese gemeenskap wat groot reserwes voedingstowwe in landbougrond makliker aan gewasse beskikbaar stel. Navorsers reken tot 50% van die wêreldbevolking ly aan mikrovoedingstoftekorte . . .
die organiese koolstofpersentasie van die bewerkte grond optimaal te verhoog. Slegs met ’ n genoegsame hoeveelheid organiese koolstof in die grond kan die verhouding van toegediende kunsmis tot die uiteindelike plant-opgeneemde hoeveelheid aansienlik verbeter word. En dan kan die verliese van voedingstowwe as gevolg van afloop en vervlugting wesenlik verminder word.
Die boonste 10 cm van die grondprofiel voorsien in 95% van die plante se voedingstofbehoeftes en bepaal dus in ’n groot mate die sukses wat in saadontkieming, plantvestiging, groei en uiteindelik die oes behaal sal word.
Die oplossing vir die produksie van ’ n deurlopende hoë oes en voedingstofryke produkte lê in die verbetering van grondvrugbaarheid. Die sleutel is om weer die koolstofsiklus aan produksie te koppel en die metode is deur gereeld ’ n genoegsame hoeveelheid, wisselende organiese materiaal die in die grond terug te plaas.
Elk boer behoort die maksimalisering van grondorganiese koolstofvlakke as ’ n doel te hê. Slegs met voldoende grondorganiese koolstof kan ons die doeltreffendheid van voedingstofgebruik en die verlies aan voedingstowwe weens loging beperk.
Organiese materiaal is egter nie ’n volledige vervanging vir minerale kunsmis nie en behoort ook nie as sulks beskou te word nie. So ’n uitgangspunt sal net eindelose frustrasie veroorsaak. Grondorganiese materiaal het ’n belangrike rol in die langtermynvolhoubaarheid van die boerdery-onderneming (die bate) maar so ook het anorganiese kunsmisgebruik (om kontant te genereer).
’n Voedingstofpoel wat vir die voedingsbehoeftes van die gewas sowel as die mikrobes voorsiening maak, verskaf die polsslag en bepaal uiteindelik die lewensverwagting van die onderneming.