Kalifornië se megadroogte: Só raak dit jou
Die Amerikaanse deelstaat Kalifornië beleef tans die ergste vier jaar lange droogte in sy geskiedenis. Dele van die deelstaat se grondvlak daal skynbaar tot 61 cm per jaar weens ál groter volumes water wat uit ’n akwifeer gepomp word wat ernstig krimp. (’n Akwifeer is ’n grondwaterdraer.)
Die droogte het begin toe ’n hoogdruksone oor die Stille Oseaan gevorm het en reën van Kalifornië na Alaska weggekeer het. Meteoroloë sê dié hoogdrukrif is ongekend in moderne aantekeninge oor die weer. Dit het op een plek gebly en gekeer dat storms die deelstaat bereik.
Daar is ook geen vooruitsig op ’n onmiddellike wending nie weens die El Niño-verskynsel wat tans heers, hoewel dié verskynsel normaalweg droogte vir oos-Australië (sien die KASSIE “El Niño in Australië” op bl. 58) en reën vir Kalifornië beteken.
Mnr. Brad Rippey, ’n meteoroloog by Amerika se departement van landbou, sê byna 70% van Kalifornië is nou in ’n uitsonderlike droogte gewikkel.
Die Universiteit van Kalifornië in Davis sê die deelstaat se landboubedryf van $44 miljard (R584 miljard) word deur erger verliese in die gesig gestaar as verlede jaar se daling van $1 miljard (R12,5 miljard) se inkomste weens die droogte.
Die ekstra koste verbonde aan die uitpomp van grondwater kan meer as $500 miljoen (R6,2 miljard) wees. Die hoeveelheid grondwater wat uitgepomp word, verdubbel nou op party plekke, veral in die San Joaquin-vallei, waar die grondvlak volgens die Amerikaanse agentskap vir geologiese opname (USGS) van 23 cm tot 61 cm per jaar daal.
Hoewel die grondwater help keer dat verliese in die landbou buite beheer raak, waarsku mnr. Jay Lund oor die grondwaterreserwes. Hy is ’n medeskrywer van die USGS se geologiese opname en die direkteur van die universiteit se sentrum vir waterskeidingswe- tenskappe. “Ons moet die grondwater oppas vir toekomstige droogtes.”
VERLIES AAN WERK
’ n Ontleding van Nasa- satellietdata wys dat 4 km³ water nodig sal wees om van die droogte te herstel. Terselfdertyd wil Kalifornië oor die volgende drie jaar sowat 472 000 enkel- en veelvoudige gesinsbehuisingseenhede op sowat 8 100 ha ontwikkel. Die deelstaat se bevolking gaan na raming met meer as 11 miljoen toeneem en sal teen 2050 ongeveer 50 miljoen mense bereik.
Die Universiteit van Kalifornië se verslag beraam ’n verlies aan 17 100 seisoenale en deeltydse werkgeleenthede weens verlede jaar se droogte. Luidens die verslag het die droogte die deelstaat $2,2 miljard (R27,4 miljard) gekos weens produksie wat gestaak is op 173 205 ha (5% van besproeide landbou- grond in die sentrale vallei, aan die sentrale kus en suid-Kalifornië).
Verliese in die melk- en veebedryf weens minder weiding en die hoër produksiekoste van hooi en kuilvoer beloop $203 miljoen (R2,5 miljard) aan verlaagde inkomste.
Die nasionale oseaniese en atmosferiese administrasie (NOAA) se klimaatsvoorspellingsentrum sê El Niño sal “voortgaan en sterker word”. Die kans is groter as 90% dat dit vanjaar deur die Noordelike Halfrond se herfs sal voortduur, met ’n 85%-kans dat dit deur vanjaar se winter en volgende jaar sal duur.
“Die temperatuur- en neerslagimpak van El Niño sal na verwagting oor die hele Amerika minimaal bly in die Noordelike Halfrond se somer. Dit sal in die laat herfs en winter begin toeneem,” het ’n NOAA-woordvoerder aan Landbouweekblad gesê.
Volgens die NOAA se droogtevooruitskat-
Meer as twee derdes van Kalifornië, die broodmandjie van Amerika, is in ’n kwaai droogte vasgevang. Dié streek se landboubedryf, groter as Kanada en Mexiko s’n, is onder die toptien op die wêreldranglys van landbouproduksie. Die droogte is dus verreikend, skryf ALAN HARMAN.
ting sal die droogte in Kalifornië en groot dele van die Weskus voortduur. “Kalifornië is nou in sy droë seisoen tot minstens Oktober. Herstel is dus dalk nie moontlik tot die begin van die volgende reëntyd nie,” sê die woordvoerder.
“Volgens weervoorspellers kan Kalifornië se somer vanjaar warmer as die gemiddelde wees. Die verband tussen El Niño en reënval in Kalifornië hang af van hoe sterk die verskynsel in die reëntyd gaan wees. ’n Sterk El Niño gaan dikwels gepaard met oorvloedige neerslae. Vir gebeure wat in die algemeen met El Niño verband hou, is daar die hoogste waarskynlikheid van reën in suid-Kalifornië.”
GRONDVLAKKE LAAGSTE NÓG
Intussen het die toenemende onttrekking uit ondergrondse waterreserwes party van die reserwes tot die laagste vlak laat daal oor die tydperk waarvoor aantekeninge bestaan. “Dié lae vlakke kan lei tot die verdigting van die waterdraerstelsel en uiteindelik veroorsaak dat die grond permanent verskuif,” sê die USGS. Die water wat uitgepomp word, skep dus leë ondergrondse holtes wat veroorsaak dat die grond daarbo insink.
“Grondverskuiwings kan veroorsaak dat grondvlakke op verskillende plekke teen verskillende koerse daal, wat moontlike skade aan infrastruktuur, soos paaie, brûe en kanale, kan veroorsaak,” waarsku die USGS.
Die sentrale vallei, wat as die broodmandjie van Amerika bekend staan, is ’ n waterintensiewe landboustreek wat al jare lank grondwater pomp teen ’n hoër koers as wat die grondwater natuurlik aangevul word. ’n Soortgelyke situasie is algemeen in die hele deelstaat.
Die USGS sê die grondwatervlakke bly daal tot die laagste vlakke tot nog toe in party dele van die vallei. Daarom is die omvang en koers van grondverskuiwings wat in hierdie opname vervat is, te verwagte.
Kalifornië se Stanford-universiteit sê ongeveer 60% van die staat se waterbehoeftes word nou uit grondwater aangevul, ’n styging van 40% teenoor jare met normale reënval.
Dit gebeur omdat Kalifornië se grondeienaars op hul eie grond soveel water mag pomp as wat hulle wil. Boormanne maak sakke vol geld, met ’ n jaar lange waglys van kliënte. Namate die grondwaterdraers krimp, raak dit egter ál moeiliker om water te kry. In die sentrale vallei moet boorgate wat normaalweg op 150 m water gekry het, nou 300 m of dieper geboor word.
Aantekeninge oor Kaliforniese boorgate word geheim gou en daar is geen staatsbeleid wat die gebruik van grondwater beperk nie. Hoewel die deelstaat se wetgewers nou na voorstelle kyk om die gebruik van grondwater te beperk, sal dié reëls nie voor 2020 in werking tree nie.
Ondanks dié ernstige bedreiging bly die staat se inwoners water mors. Toe goewerneur Jerry Brown byvoorbeeld verlede jaar gevra het dat Kaliforniërs vrywillig 20% water bespaar, het hulle net 9% bespaar.
Deelstate, soos Kalifornië, is baie afhanklik van sneeuval om grondwater aan te vul. Die laag sneeu op die Siërra Nevada het egter tot byna nul gekrimp en die reservoirvlakke in suid-Kalifornië het binne ’n jaar van 3,33 miljoen megaliter tot 1,48 miljoen megaliter gedaal. Bykans 161 874 ha se land- bougrond in wat eens ’n lowerryke, sentrale vallei was, is nie bewerk nie.
Toe die San José-watermaatskappy egter planne aangekondig het om van die staat se strengste waterbewaringsreëls tot nog toe toe te pas, het meer as 350 mense opgedaag om te betoog. Hulle het kapsie gemaak teen regulasies wat elke huis tot ’n vaste maandelikse watertoelaag beperk en dit as onregverdig, onredelik en diskriminerend jeens mense met groot erwe en gesinne beskryf. Amptenare van die maatskappy het voet by stuk gehou en geweier om die reëls te verander.
Vir Julie, Augustus en September sal elke woning 13 eenhede water per maand kry.
’n Eenheid is 2 831 liter. Verbruik bo dié toelaag sal boetes van tot $7,12 (R88,71) per eenheid beteken.
KWAAI BESNOEIINGS
Die kommersiële landbou in baie dele van die deelstaat is reeds in kennis gestel van kwaai besnoeiings in die watervoorraad wat op kontrak deur die staat en federale waterprojekte gelewer word. Dekoratiewe waterfonteine wat nie water sirkuleer nie, word nou verbied. Dit is ook verbode om binne 48 uur ná meetbare reënval buite water te lei.
Die bevel verbied selfs restaurante om wa- ter aan kliënte te bedien, tensy dit spesifiek versoek word. Hotelle en motelle moet nou ’n opsie vir gaste prominent ten toon stel om nie daagliks hul beddegoed en handdoeke te laat was nie.
Die waterraad het verpligte waterbesparings bekend gestel, gerugsteun deur boetes van $10 000 (ongeveer R124 617).
Die metropolitaanse waterdistrik van suid- Kalifornië het sy waterbesparing- rabatfonds tot $ 450 miljoen ( R5,6 miljard) opgestoot sodat hy huiseienaars $2 (R24,92) kan betaal vir elke 929 cm² grasperk wat verwyder word, tot en met 278 m². Los Angeles se departement van water en krag betaal huiseienaars selfs meer – $3,75/m² (R46,72 vir elke 929 cm²). Besighede wat kunsgras installeer, het glo nou drie keer meer werk.
Die waterraad het eienaars van waterregte wat tot voor 1914 strek, beveel om op te hou om water weg te keer weens onvoldoende natuurlike vloei en dreig met boetes van $2 500 (R31 154) per 1 233 481 liter weggekeer en R121 786 per dag.
Mnr. Paul Wenger, voorsitter van die Kaliforniese plaasburofederasie, kla dat die ekstra besnoeiings van water vir voedsel- en plaasproduksie die droogte se impak op die
staat se landelike dele sal vererger. “Namate watervoorraad krimp, is daar meer mense wat swaarkry,” sê hy. Watertekorte ondermyn landelike ekonomieë en dié ekstra tekorte sal die impak na meer mense op meer plekke versprei. Paul sê Kalifornië se watertekort moet opgelos word deur daadkragtige pogings om die watervoorraad te verbeter.
KOSPRYSE NIE KWAAI GERAAK
Ondanks die erns van die droogte en Kalifornië se oorheersende markaandeel in Amerika se produksie van vrugte, groente en boomneute, het dit verlede jaar slegs ’n klein uitwerking op voedselpryse gehad.
Ontleders sê verbruikers gaan vanjaar waarskynlik nie veel van ’n impak op pryse bemerk nie. Dit is omdat die afname in besproeide gebiede meestal ’n uitwerking het op landery-gewasse, soos rys, katoen en hooi.
Terwyl die krisis vererger, het regeringsagentskappe, soos Amerika se departement van landbou, meer as $110 miljoen (R1,37 miljard) se finansiering aangekondig vir steun aan werkers, boere en landelike gemeenskappe wat geknel word deur die droogte en om veldbrande, wat ál meer voorkom, te bestry. Dit is naas die meer as $190 miljoen (R2,36 miljard) wat die regering al vanjaar belê het.
Deur sy Veeweidingsplan sal Amerika se departement van landbou in die boekjaar 2015 minstens $1,2 miljard (R14,6 miljard) se bystand aan veeboere voorsien. Die plan bied vergoeding aan boere wat weiding weens die droogte of brande verloor het.
Mnr. Tom Vilsack, Amerika se minister van landbou, het aangekondig dat $130 miljoen (R1,62 miljard) beskikbaar gestel is om die bolope van Kalifornië se Siërra Cascade te bewaar en te herstel. Die Siërra Cascade voorsien 25 miljoen Kaliforniërs van drink- water en verskaf baie van die landboubesproeiingswater in die Sacramento- en San Joaquin- vallei. Kalifornië sal ook $ 81 miljoen ( R1 miljard) bestee aan die herstel van ekostelsels in die Siërra Nevada. Nóg $ 13,7 miljoen ( R170 miljoen) is deur ’n aansporingsprogram vir omgewingsgehalte bewillig vir Kaliforniese boere en veeboere, en $6 miljoen (R74,7 miljoen) vir droogtegeteisterde gemeenskappe met ’ n noodbystandstoelae vir gemeenskappe se water.
Die dilemma wat Kalifornië nou in die gesig staar, illustreer wat in Australië gebeur het toe ’n kwaai droogte van 2002 tot 2012 oor die grootste deel van dié vasteland plaasgevind het. Dié land se BBP-groeikoers is met ’n halwe persentasiepunt verminder weens waterbeperkings, laer produktiwiteit, werkloosheid en verminderde uitvoer.
Die Kaliforniese regering sê die vermindering van ’n halwe punt in die BBP-groeikoers is beduidend. As dit in Kalifornië sou gebeur, sou die kumulatiewe staatsuitset met sowat $500 miljard (R6,23 biljoen) verminder oor dieselfde tydperk van 10 jaar. Alan Harman is ’n vryskutjoernalis.