Die lewe het gebeur
ie 29ste September 2001. Dit was ’ n windstil, wolklose, kristalhelder lentedag in die prentjiesmooi Ceres. Net so voor drieuur die middag, in die NG kerk se moedergemeente, het my bruid bevestigend geantwoord op al die leraar se vrae. Op my beurt het ek self my kop met oorgawe op en af geskud. ’n Halfuur later het die bruilofsgaste ons buite die kerk ingewag om ons met konfetti en pienk roosblare te verras.
Ná die onthaal het ons die pad aangedurf Karoo toe om die res van ons lewens saam as man en vrou te begin. Êrens tussen Laingsburg en Beaufort-Wes het ’n aangename, gemoedelike stilte oor ons neergedaal. My vrou het met ’n effense glimlag om haar mondhoeke die dorre Karoovlaktes ingestaar. Sy het haar nuwe lewe as getroude vrou en moeder voor haar sien afspeel en haar verbeel hoe haar lewe 15 jaar vorentoe gaan lyk.
Op ’n rustige Sondagmiddag in haar ruim, smaakvolle woning lê die liefdevolle gesinshond rustig langs die kaggel en slaap. In die kamer langsaan sit haar drie begaafde kinders stroopsoet en speel op die rekenaar – ’n nuwe opvoedkundige speletjie wat hul koördinasie en reflekse beproef.
Die oudste, Imke, moet die pakkie suikervrye vrugtelekkers tussen hulle drie verdeel. Haar twee broers stem onomwonde saam dat sy die oudste is en dus geregtig is op twee meer lekkers as hulle. Terwyl sy die lekkers verdeel, sing die twee seuns die pragtigste kinderlied, foutloos en perfek. Dit alles gebeur natuurlik onder die wakende oog van haar topfiks lewensmaat wat bene gekruis in die groot leerstoel sit en die nuutste uitgawe van Finansies en Tegniek lees, sy swart fluweellangbroek en polo-gholfhempie pas perfek en beklemtoon sy goeie fisieke toestand.
Mettertyd vat hy ’n langerige sluk van die goudbruin Skotse inhoud van die kristalglas in sy regterhand en loer hy oor sy silwerraambril. Hy laat sak die tydskrif so effe en met weldeurdagte woordkeuses tik hy haar liggies oor die kneukels omdat haar Griekse mengelslaai nie betyds gaan wees as hy die R250/kg stuk beesfilet van die rooster gaan afhaal nie. Sy spring dadelik op, stap die breë gang af, kyk terug oor haar regterskouer, knipoog liefdevol vir my en begin die slaai maak. Dit alles terwyl die vuurtjie voortknetter in die kaggel.
DIE HEDE
31 Mei 2015. Op ’n koue, mistroostige wintersdag in die Swartland kan die gesinshond, Sebastiaan, net nie na genoeg aan die vuur se hitte kom nie. Ná my vrou hom die derde keer geskel het om weg te kom van die rooi matjie wat ons op ons wittebrood gekoop het, staan hy lui op, kyk so ’n keer of wat in haar rigting en gaan doen dit wat hy gewoonlik buite op die grasperk doen, net daar in die kombuis, tussen die stoof en die oorvol vullisblik!
In die televisiekamer word die stilte skielik verbreek met my oudste seun, De Wet, se histeriese gille. Die rede is die taamlike groot, snelgroeiende knop op sy voorkop – danksy sy suster, Imke, se nuwe hokkiestok. Sy het hom oor die kop gefoeter omdat hy twee van haar Smarties gesteel het. Du Preez, ons jongste, kondig luidkeels aan hoe ongelukkig hy is dat hy nie verder Disney Channel mag kyk nie. Sy gehuil bereik genadiglik nie dieselfde toonhoogtes as sy broer se gegil nie.
My vrou se oorgewig, dikgat-man lê rustig uitgestrek op sy rug met die koerant. Hy laat val byna die pak sout-en-asyn-tjips en blikkie bier toe hy skielik opvlieg, sy uitgerekte sweetpakbroek regtrek en met wysvinger in die lig aankondig wat met elk van die drie kinders gaan gebeur as hulle nie summier ophou raas nie. Die predikant sal nie sy taalgebruik Sondag in die preek kan aanhaal nie.
Terselfdertyd trap hy sommer sy vrou uit omdat haar “op special”-rys nie dieselfde tyd as sy goedkoop hoenderpot gaan gaar wees nie. Sy vervies haar summier, stap die gang af met ’n gesigsuitdrukking wat ’n stormende, gekweste olifant in sy spore sal stuit en loer oor haar regterskouer na my net voor sy die slaapkamer binnegaan. Dit alles terwyl die vuurtjie voortknetter in die kaggel.
So ’n ruk gelede het ’n bekende versekeringsmaatskappy ’n televisie-advertensie gehad wat eindig met die woorde: “Want die lewe gebeur . . .” Gelukkig knetter ons vuurtjie van liefde, lojaliteit, bewondering en wedersydse respek steeds voort. Haarwurm is ’n tegniese verkoopsadviseur van veemedisyne wat op Malmesbury woon.
Die lewe loop in skewe draaie. Maak dus seker jy stook jou lewensvuur met die regte hout. Sy het haar nuwe lewe as getroude vrou en moeder voor haar sien afspeel.