Kirsten: Nóg nuwe grondplanne
Afgesien van die 50-50-plan vir grondhervorming wat nou ANC-beleidstatus gekry het, het Agri SA ook ’n hervormingsplan ter tafel gebring. As laasgenoemde plan gefinansier kan word, sal grondhervorming aansienlik vinniger en goedkoper as met die ANC-plan a
In die vorige aflewering van my rubriek (“Keer die grondramp”, LBW, 30 Oktober 2015) het ek grondhervorming aangeroer en spesifiek die probleme rondom grondplafonne bespreek. Daar was egter weer twee geleenthede in Oktober waar “nuwe” planne vir grondhervorming ter tafel gelê is wat weer aandag verg.
Eerstens het die ANC op sy algemene raadsvergadering op 10-11 Oktober besluit dat die 50-50-voorstel waarvolgens boere die helfte van hul plase aan werkers moet afstaan, nou amptelik ANC-beleid is.
Die voorstel wat destyds deur mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, opgestel is, kom neer op ’n rigiede, gedwonge verbeurdverklaring van 50% van elke plaas volgens ’n vasgestelde formule vir oordrag aan werkers sonder regstreekse vergoeding aan grondeienaars, maar slegs oorbetaling aan ’n trust wat vir uitbreiding en ontwikkeling van die boerdery aangewend kan word.
Tweedens was daar op 15 Oktober Agri SA se bekendmaking van sy plan om grondhervorming te versnel deur die daarstelling van werkbare finansiële meganismes. Die voorsitter, mnr. Johannes Möller, het die dokument Providing enabling financial mechanisms to accelerate land redistribution voorgelê en dit is deur die kongres aanvaar.
PLANNE LEI NA DOOLHOF
Hoe meer ek my kop rondom die 50-50-idee en grondplafonne probeer kry, hoe meer besef ek hoe dié planne ons na gevaarlike en komplekse terreine lei. Dit is betreklik moeilik om hierdie idees in konkrete stappe en impak om te skakel omdat my eie landbou-ekonomiese logika sukkel om dit tot ’n werkbare proses te herlei.
Met hierdie onrealistiese beskouing is my voorspelling dat baie staatsgeld, energie en tyd aan hierdie onwerkbare planne bestee sal word en nie aan die huidige meer werkbare en getoetste planne nie. Dit is ’n jammerte, want al die lesse wat ons reeds geleer het, gaan nou verlore en kan nie gebruik word om huidige planne aan te pas en te verbeter nie.
Ek wil dus die ANC en ook Agri SA se plan aan ’n paar vrae onderwerp. Uiteraard is Agri SA se plan ’n poging om die 50-50-plan finansieel uitvoerbaarder te maak en om ook private kapitaal te mobiliseer om grondhervorming te help versnel deur ’n buigsamer benadering, en ook om grondeienaars die kans te gee om hul eie vennote te kies. In wese is Agri SA se plan net ’n fasiliteringsproses waarin nie ’n enkele model nagevolg sal word nie en wat