GAMTOOS-BOERE DALK HOF TOE OOR KOUGADAM
BESPROEIINGSBOERE in die Gamtoosvallei is op die oorlogspad oor die Kougadam net 68% vol is.
Hulle is bekommerd dat waterbeperkings ingestel kan word as dit nie goed in die opvangsgebied reën nie. Dit volg nadat die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) hom nie gesteur het aan talle versoeke om water te bespaar nie. Die munisipaliteit is geregtig op 28% van die water uit die Kougadam.
“Beperkings sou dalk glad nie nodig gewees as die NMBM, wat ook ’n verteenwoordiger op die raad het, al in Julie verlede jaar gehoor gegee het aan die versoek om waterbeperkings van 15% in te stel nie,” sê mnr. Pierre Joubert, hoofbestuurder van die Gamtoos-besproeiingsraad.
“Dit is tot vandag nie gedoen nie en grens aan ’n strafbare oortreding. Ondanks harde woorde tussen verteenwoordigers van die Department van Waterwese en munisipale amptenare het daar niks gebeur nie.
“Die Nooitgedacht-skema, wat meer water aan die metro sal voorsien, se tweede fase moes al in 2013 voltooi gewees het, maar is steeds nie afgehandel nie. Dit plaas dus geweldige druk op ons stelsel. Indien die vlak van die Kougadam in so ’n mate daal dat waterbeperkings ingestel word en daar kan bewys word dat besproeiingsboere in die Gamtoos finansiële verliese ly, sal ons nie huiwer om eise teen die metro in te stel nie,” sê Joubert.
WERKSGELEENTHEDE
’n Opname wat Joubert gedoen het, toon dat 10 000 werksge- BO: REGS: leenthede in die vallei geskep word wanneer besproeiingsboere hul volle toegekende kwota water kry. “Met elke 10% waarmee die waterkwota verminder word, bly 1 000 werksgeleenthede in die slag.”
Hy wys ’n vinger na die munisipaliteit wat nie goeie waterbestuur toepas nie. “Sy interne verliese is onaanvaarbaar hoog. Klaarblyklik het hy nie genoeg geld om infrastruktuur in stand te hou en spoedig aandag te gee aan waterlekkasies wat aangemeld word nie.
“Dit is tyd dat die NMBM sy prioriteite regkry en sy hulpbronne beter gebruik, aangesien dit ’n regstreekse invloed op werkskepping en die ekonomie van die Gamtoosvallei het,” sê Joubert.
Die waterstelsel in die Gamtoos is só ontwerp dat die dam by Loerie as ’n balanseerdam moet dien. Daar moet altyd water in wees. Water word vanaf dié dam na Port Elizabeth herlei.
“Hoewel die metropool van Julie verlede jaar tot Februarie vanjaar reeds sy volle kwota opgeneem het, het hy sedertdien voortgegaan om daagliks water uit die dam te trek. Ons kyk nou na die moontlikheid dat die metro net ’n maandelikse pleks van ’n jaarlikse kwota kry.”
Die Nelson Mandelabaaimetroraad het nie teen druktyd gereageer op versoeke om kommentaar nie.
‘Dit is tot vandag nie gedoen nie en grens aan ’n strafbare oortreding.’