ROOIVLEISPRODUSENTE VRA NASIONALE VEESENSUS
’N PLAN vir ’n nasionale veesensus gaan deur die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye ingedien word om akkurater data oor huidige veegetalle oor die land heen in te vorder.
Die RPO het op sy onlangse nasionale konferensie die dagbestuur afgevaardig om só ’n sensus te ondersoek en aan die Regering voor te lê.
Die laaste formele veesensus is in die 1990’s uitgevoer. Tans word slegs skattings deur Statis- tieke Suid-Afrika gebruik om die huidige veegetalle te bereken.
Hierdie sensus sal uitgevoer word volgens metodes wat deur die Universiteit van die Vrystaat (UV) ontwikkel is.
BYSTAND
Mnr. Walter van Niekerk, ’n landbou-ekonoom in die navorsingseenheid aan die UV, sê daar is verskeie redes vir die noodsaaklikheid van betroubaarder data oor veegetalle.
“As die Regering opkomende en kleinboere wil bystaan, is die sensusdata belangrik om te bepaal hoeveel mense moet gehelp word en om hulp aan die regte mense te verskaf,” sê Van Niekerk. “As daar nou bek-enklouseer uitbreek, is daar geen betroubare data wat vir die staatsveeartse ’n aanduiding kan gee van hoeveel medisyne vervaardig moet word nie.”
Daarby kan hierdie data aangewend word om die omvang van die informele rooivleissektor te bereken en om veediefstal te beveg, asook vir beleidsvorming, handelsdata, kuddebestuur en roofdierbestuur.
Van Niekerk sê die probleem met die huidige data is nie hoe dit ingevorder word nie, maar die gehalte daarvan.
“Daar bestaan ongelukkig wantroue onder die boere wat die data deurgee aan die organisasies wat dit insamel en gebruik. Boere is byvoorbeeld onder die indruk dat veedata teen hulle gebruik kan word met die toepassing van grondhervorming. Daarom verskaf hulle nie noodwendig altyd die regte data oor hul veegetalle nie.”
KOSTE
Van Niekerk sê as so ’n sensus vroeër uitgevoer is, sou hulp aan droogtegeteisterde gebiede beter gekoördineer en akkurater verskaf kon word.
Die koste van hierdie voorgestelde sensus sal volgens Van Niekerk etlike miljoene rande beloop as dit landwyd uitgevoer word.
Volgens die RPO rus die verantwoordelikheid by die nasionale en provinsiale departemente van landbou om Statistieke SA met dié sensus by te staan, maar daar is ook geleentheid vir ander departemente om betrokke te raak. –
‘As daar nou bek-en-klouseer uitbreek, is daar geen betroubare data wat vir die staatsveeartse ’n aanduiding kan gee van hoeveel medisyne vervaardig moet word nie.’