Grondeise-wet moet van voor af begin
DIE gewysigde Wet op die Herstel van Grondregte moet heeltemal van voor af begin, het die Parlement verlede week gehoor.
Dit volg ná die Grondwethof onlangs die gewysigde Wet op die Herstel van Grondregte (Wet 15 van 2014) ongeldig verklaar het omdat die Parlement, spesifiek die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), versuim het om behoorlike openbare verhore te hou in sy haas om die wetgewing voor die 2014-verkiesing afgehandel te kry.
Die Parlement het 24 maande om die wetgewing reg te stel.
BEGIN WEER
Me. Annelize Crosby, regs-en-beleidsadviseur van Agri SA, sê dit lyk of die hele proses oorgedoen moet word.
By die vergadering van die Parlement se portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming het sekere lede gemeen dat die wetgewing net na die NRP terugverwys kan word.
Adv. Nathi Mjenxane, parlementêre regsadviseur, het egter aan komiteelede verduidelik dat die wetgewing ná die Grondwethof-uitspraak nie meer bestaan nie.
Dit kan dus nie na die NRP verwys word om te verseker dat die proses van openbare verhore behoorlik gedoen word nie. Dit moet van nuuts af by die Nasionale Vergadering ingedien word.
“Waarskynlik is alles nou weer oop vir debat,” sê Crosby.
“Daar kan weer kommentaar gelewer word op enige aspek van die wysigingswetsontwerp, hoewel die spesifieke kwessie waarop die hof klem gelê het, die prioritisering van ou eise was.”
Die NRP het die provinsiale wetgewers net twee weke, pleks van ses weke, toegestaan om openbare verhore te doen.
Die hof het bevind die tyd wat toegestaan was, is heeltemal onvoldoende.
PROSES
Die portefeuljekomitee het sy voorsitter, me. Phumuzile Ngwenya-Mabila, die mandaat gegee om verdere inligting te bekom oor hoe die proses van stapel gestuur moet word.
’n Kabinetsminister, adjunkminister, parlementêre komitee of lid van die Parlement (LP) kan ’n wetsontwerp voorstel.
Lede van die publiek kan ’n LP of die geskikte parlementêre komitee nader om ’n wetsontwerp voor te stel.
–