SKANDERING VAN RAMLAMMERS VERBETER SELEKSIE
Berekende tomografie-skandering (computed tomography )vanramlammerskanhelpom buitengewone diere in ’n ras te identifiseer.
Dit kan ook die doeltreffendheid waarmee diere geselekteer word, op die plaas verbeter.
Mnr. Gwawr Parry, bedryfsontwikkelingsbeampte by Hybu Cig Cymru, die Walliese vleisbevorderingsorganisasie, sê die skandering lewer heelwat nuttige data op. “Dit lewer metings van die gewig en die persentasie vet, spiere en bene in die karkas. Data kan ook verkry word oor die verspreiding van spiere in die lende, boud en bors.
“Noudat vleisverwerkers meer betaal vir diere met sekere eienskappe wat nie altyd met die blote oog sigbaar is nie, word die ontleding van teelramme selfs belangriker om boerderye se winsgewendheid te ondersteun,” sê Parry.
Berekende tomografie-skandering (die sogenoemde CAT-scan) is nie dieselfde as magnetiese resonansie-skandering (MR-skandering) wat op mense gedoen word nie. Berekende tomografie gebruik kragtige X-strale om 360º-foto’s van inwendige organe, die rugstring en werwels te neem. Deur die X-strale met ’n rekenaar te kombineer, word deursnitbeelde van die liggaamsdeel wat geskandeer word, geproduseer. MR-skandering kombineer ’n sterk magneet met radiogolwe en rekenaars om beelde te skep. — AMELIA GENIS
http://goo.gl/EKZYcF