Sosiale media laat klere vir kinders van rakke vlieg
Hul gespook om kinderklere te kry waarin hul kinders lekker kan speel en ook modern lyk, het die vriendinne Ingrid Uys en Leilani Conradie van Robertson aangespoor om hul eie kinderklerereeks, Kaalvoetkind, te begin.
Hoe het die idee vir Kaalvoetkind ontstaan? Ek en Leilani is al jare vriendinne en self ma’s van onderskeidelik drie seuntjies (5, 3 en 1) en ’n dogtertjie (4) en ’n seuntjie (2). Ons het gesukkel om klere te kry waarmee kinders in die modder kan speel, maar wat ook modern lyk. Ons het gesels oor ’n kinderklerereeks en op ’n dag besluit, hoekom nie? Wat keer ons om te begin? Die reeks bestaan uit klere vir seuntjies en dogterjies van 2 tot 9 jaar oud.
Was dit moeilik om die onderneming te begin? Ons het lank na naaldwerksters gesoek, en op die ou end vier baie betroubare vroue gekry. Saans, nadat al die kindertjies in ons huise gaan slaap het, het ons met pen en papier gaan sit en begin ontwerp. Dit was ’n lekker stokperdjie, maar ons sou nooit kon droom Kaalvoetkind sal so suksesvol wees nie.
Waar verkoop julle die klere? Ons het uitstalkaste in Roots op Robertson en Bederf op Moorreesburg. Die meeste mense bestel sommer klere deur sosiale media. ’n Mens besef nie watter krag sosiale media het tot jy so iets op die been bring nie. Dit het ons tussen die oë getref. Ons het ook ’n agent in Kaapstad aangestel, Gretchen Zaayman, wat Facebook-bestellings bestuur. Watter wenke het julle vir mense wat hul ondernemings op sosiale media wil bemark? Maak seker dat dit wat jy bemark, beskikbaar is. Hou die Facebook-bladsy aan die gang deur kort-kort iets nuuts daarop te plaas sodat dit mense se belangstelling hou.
Kaalvoetkind is ’n pragtige naam. Hoekom het julle daarop besluit? Ons het een aand gesit en werk aan ontwerpe terwyl ons kinders om ons rondgehardloop het. Dit was Meimaand en hulle was warm aangetrek, maar nie een het skoene gehad nie. Net daar en dan het ons besluit op Kaalvoetkind. Dis boonop trots Afrikaans!
Julle het ook ander loopbane. HEEL BO: BO: Die beskikbaarheid van hulpbronne is ’n groot struikelblok. Daar is nie groot materiaalwinkels naby nie en naaldwerksters is skaars. Ons het dit egter van die begin af geweet, daarom het ons vir Gretchen in die Kaap aangestel. Sy kan materiaal aankoop en vir ons met ’n koerierdiens stuur. Ons prosesse word dus met ’n dag of twee vertraag, maar ons bou dit in in ons vervaardigingsproses. Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.
Wens jy daar was iets wat jy geweet het voor jy met die onderneming begin het? Ons sou meer navorsing wou doen en meer voorraad opbou voor ons klere bekend stel. Dis nooit ’n goeie idee om ’n nuwe produk dadelik op sosiale media bekend te stel as jy nie genoeg voorraad het nie.
Het julle enige uitbreidingsplanne? Baie! Ons ontwerp tans ’n somerreeks. Daar is ook plattelandse dorpies wat ons klere wil verkoop en ons werk volstoom daaraan. As ons so aanhou droom, is ons eie klein fabriek dalk eendag nie meer net ’n droom nie. 082 353