DIÉ WEEK IN DIE LANDBOU
SITRUSVRIENDELIK
Suid-Afrika se tariefvryetydperk vir uitvoer na die Europese Unie (EU), wat tans jaarliks op 16 Oktober tot ’n einde kom en daarna tot 16% styg, gaan oor die volgende 10 jaar geleidelik langer word. Dit is volgens ’n nuwe samewerkingsooreenkoms tussen die Suider-Afrikaanse Doeane-unie en die EU wat binnekort onderteken word. Volgens mnr. Justin Chadwick van die SA Sitruskwekersvereniging sal die tariefvryetydperk tot einde November duur en die tarief sal jaarliks met 1,8 persentasiepunt daal. Oor tien jaar sal die tarief dan nul wees.
MEGA-MALUMA
Maluma-avokado’s toon groot potensiaal in droogtetoestande, berig Fresh Fruit
Portal. Dr. André Ernst, eienaar van die Allerbeste-kwekery buite Tzaneen, sê heelwat boere stel belang in dié kultivar omdat dit groter vrugte lewer as Hass. Dit is ’n groot voordeel in gebiede wat vatbaar vir droogte is. Hy sê vanjaar het 40% tot 60% van die Hass-oes se vrugte 200 g of minder geweeg, maar Malumas het nie dié probleem gehad nie. Omdat daar so ’n groot verskil tussen normale grootte en klein avokado’s is, kan ’n boer met Malumas meer per hektaar verdien as met Hass.
DRAADSITTERS
Die Regering gaan nie kant kies tussen Brittanje en die Europese Unie (EU) as handelsvennote ná Brexit nie, het die Parlement se portefeuljekomitee vir internasionale betrekkinge en samewerking verlede week gesê. Die Regering ondersoek ná die Brexit-stem verskeie opsies om handelsbetrekkinge met Brittanje te beskerm. ’n Kwart van Suid-Afrika se landbou-uitvoer gaan daarheen. Die komitee het aanbeveel dat die Regering so gou moontlik met die Britse regering vergader. (Sien ook die berig op bl. 22.)
WILD-KUIER
Die geleentheid A Wildlife and Wine Affair, wat op 24 en 25 September by die Leriba-hotel-en-spa plaasvind, bied iets vir die hele gesin. Deel van die opbrengs gaan aan Agri SA se droogterampfonds. Kom kyk na talle wildsplase, ekotoerismebestemmings en wynplase se aanbiedinge, smul aan wildsvleisgeregte en proe van die land se beste wyn. Die ereveldwagters van Sanparke bied ook wegbreek- en werksessies aan. Landbouweekblad gee vier kaartjies weg. Stuur jou naam en kontakbesonderhede aan
Rechelle.Jarrett@media24.com en merk dit Wildlife & Wine Affair-kaartjies. Wenners sal die week voor die fees gekontak word. Kaartjies kos R185 en kinders jonger as 12 jaar kry gratis toegang.