‘Elliot se misdaadplan is voorbeeld vir ander’
DIE manier waarop boere, sakelui, taxi-operateurs en ander inwoners van die Oos-Kaapse dorp Elliot misdaad saam met AfriForum bestry, is ’n model wat ook in ander gemeenskappe in Suid-Afrika gebruik kan word.
Só sê dr. Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV).
Hy het by ’n gesamentlike nuuskonferensie van dié instituut en AfriForum gesê dit wat in Elliot gebeur het, wys “misdaad het nie ’n kleur nie. Dit het die hele idee van misdaadbestryding verander.”
Cronjé het ’n verslag, Hoe om die oorlog teen misdaad in Suid-Afrika te wen, bekend gestel, waarin ’n nuwe benadering tot gemeenskapspolisiëring voorgestaan word. Dié verslag, deur SAIRV-ontleders, is deur AfriForum gefinansier.
Cronjé het gesê hoewel Suid-Afrika se moordsyfer die afgelope 20 jaar met meer as 50% gedaal het, die land steeds een van die gewelddadigstes is.
Suid-Afrikaners het drie beskermingsalternatiewe tot die polisie: Privatisering, eie reg gebruik (vigilante-optrede), en buurtwagskemas.
OPSIES
Privatisering vind reeds plaas en private veiligheidsondernemings het ’n groot rol in die afname van transitorooftogte gespeel, maar weens die koste is sulke dienste net sake-ondernemings en ryk mense beskore.
Die neem van reg in eie hande, in die verslag “township-straatgeregtigheid” en “vigilantisme” genoem, “is die sterkste denkbare argument vir diepe en dringende polisiehervorming, maar dit is nie ’n aanvaarbare oplossing vir misdaad nie”.
Mnr. Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê enigeen is welkom by hul meer as 80 buurtwagte.
“Ons maak dit baie duidelik dat ons ’n trots Afrikaanse organisasie is, maar terselfdertyd ’n waghond vir alle minderhede . . . ons het swart lede oor die land heen. As enigiemand in ons struktuur rassisties optree, word hy onmiddellik geskors,” sê hy luidens die verslag.
DIENSTE
In ruil vir lidmaatskapgeld van R50/maand rus AfriForum buurtwaglede met hulpbronne, soos handradiostelle, toe. Hulle ontvang ook regshulp.
Cameron sê lede word onder meer opgelei oor hoe hulle ’n huis moet nader as daar nog verdagtes is, hoe om slagoffers te help, en hoe om nie bewysstukke op ’n misdaadtoneel te vernietig nie. Polisiekantore werk volgens hom meestal goed met die buurtwagte saam.
Cronjé sê die ideaal is dat plaaslike private sekuriteitsvoorsieners en polisiekantore by buurtwagskemas betrek word.
In die verslag word daar aanbeveel dat buurtwagte uitbrei en die polisie steeds hervorm word.
–