‘SPAN EMOSIE IN VIR BEHOUD VAN LANDBOUGROND’
“ONS as landbouers sal moet begin om ons boodskap op emosionele vlak oor te dra.”
Só sê mnr. Hein Lindeman, wetenskaplike bestuurder van natuurlike hulpbronne by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se direktoraat vir grondgebruik en bodembestuur, oor die behoud van landbougrond in mededinging met ander bedrywe.
Lindeman het op Agri SA se kongres op ’n paneelbespreking terugvoer gegee oor konsepwetgewing om landbougrond te beskerm. Hy het gesê die landbou kan oor die gebruik van emosie by die Departement van Omgewingsake gaan kers opsteek.
Dr. Gerhard Verdoorn, direkteur van die Griffon-gifinligtingsentrum, het gesê: “Soos ek boere ken, is hulle vol emosie, maar as dit by baklei kom, is dit net feite.”
Mnr. Derek Light, ‘n prokureur van Graaff-Reinet wat LINKS: REGS: Mnr. Karoo-grondeienaars verteenwoordig wat skaliegasontginning teenstaan, het gesê boere moet die bedryf se aansien verhoog en beleid probeer beïnvloed. Politieke wil is nodig om die landbou se belangrikheid te erken en die nodige hulpbronne te beskerm. “Ek dink nie die landbou verkoop homself hard genoeg nie,” het Light gesê.
VETOREG
Mnr. Koos Pretorius, voorsitter van die Federation for a Sustainable Environment, het gesê die Departement van Landbou het sedert Junie verlede jaar, kragtens nuwe wetgewing ’n vetoreg om te keer dat munisipaliteite landbougrond hersoneer.
“Ons weet van vier gevalle waar die departement toestemming geweier het op grond van voedselsekerheid. Indien die departement genoeg gemotiveer kan word om eenvoudig ‘nee’ te sê elke keer as daar ’n aansoek is om hoëpotensiaal-landbougrond te hersoneer, sal dit die einde van die saak wees. Miljoene rande kan bespaar word.”
Hy het ook syfers aangehaal wat wys Suid-Afrika het vir sy toekomstige energiebehoeftes net nodig om 10% van sy steenkoolreserwe te ontgin. Die vraag is nou: “Watter 10% van steenkool ons gaan uithaal, en watter ons in die grond gaan los”.
Mnr. Wayman Kritzinger, voorsitter van Agri SA se beleidskomitee vir natuurlike hulpbronne, sê die organisasie wil ’n omgewingsfonds stig wat gebruik kan word om prospekteer- en mynaansoeke te beoordeel.
–