AANMELDING VAN SAKE PROBLEMATIES, SÊ CLACK
Al wat sal help om veediefstal in Suid-Afrika hok te slaan, is om élke veediefstal by die SA Polisiediens aan te meld, sê mnr. Willie Clack, voorsitter van die nasionale Veediefstalvoorkomingsforum.
STATISTIEKE SA het in 2011 gemeld dat 36,3% van veediefstalsake nie deur die slagoffers aangemeld is nie. Dié syfer het in 2012 tot 40,1% gestyg, in 2014 tot 64,4% en verlede jaar tot 67,7%.
Clack sê dit is onmoontlik om die regte prentjie van die ware omvang van veediefstal in Suid-Afrika te skets omdat ’n oormaat raaiselagtige inligting – wat eintlik niks beteken nie – aan besluitnemers beskikbaar gestel word.
“Die SA Polisiediens (SAPD) het ’n verandering in sy statistieke aangebring wat die indruk wek dat veediefstal besig is om te daal. Daarteenoor meld boere in tot 68% van die gevalle nie veediefstalsake aan nie. Dit plaas die SAPD se syfers onmiddellik in ’n twyfelagtige lig,” sê Clack.
Volgens hom is dit egter nie moontlik om die 68% by die huidige syfers van die SAPD te bereken nie, aangesien die werklike syfers van nie-aanmelding onbekend is.
Hy sê daar is teenstrydighede in die jongste statistieke van die SAPD en die statistieke wat op 29 September verlede jaar beskikbaar gestel is. In gesprekke met beamptes van die SAPD is aangedui dat “ongegronde sake” van die stelsel verwyder is. Ongegronde sake hou egter net soveel speurders besig as wat die geval is met geldige sake. “Dit is dus net so belangrik in die waardeketting van misdaadstatistieke.”
Misdaadstatistieke speel ’n rol met die toewysing van poste en eenhede by polisiekantore. Die verminderde getal misdade sal dus ’n impak hê op die getal speurders wat aan die veediefstaleenhede toegewys word. “Dit is hartseer dat al die provinsiale veediefstalvoorkomingsforums voortdurend moet pleit vir meer hulpbronne en personeel,” sê Clack.
“Dit is ’n kenmerk van Suid-Afrika dat groot getalle ekonomiese misdade nooit by die owerhede aangemeld word nie en veediefstal is geen uitsondering nie.”
REDES
Die nie-aanmelding van veediefstalsake deur vee-eienaars kan aan verskeie oorsake toegeskryf word. Eerstens word 31,8% van veediefstalsake nie aangemeld nie omdat daar ’n gebrek aan vertroue in die SAPD is om die gesteelde vee terug te kry of om die saak suksesvol te vervolg.
Dié siening is te verstane gesien in die lig daarvan dat slegs 4% van slagoffers daarvan in kennis gestel word as iemand in hegtenis geneem word of as gesteelde vee teruggevind is, sê Clack.
Meer as 30% van vee-eienaars meen dat veediefstal nie ’n misdaad is wat belangrik genoeg is om by die owerhede aan te meld nie. “Dit kan die geval wees met pluimvee, soos hoenders, maar nie in die geval van vee met ’n hoë geldwaarde nie.”
Talle van die veediefstalslagoffers gebruik ander metodes om die misdade op te los, soos om dit by die plaaslike owerheid of die buurtwag aan te meld. In die armer, landelike gebiede word dié metode meestal gevolg aangesien daar steeds ’n sterk sin van gemeenskapsreg is.
Nóg ’n rede is dat die SAPD in 8,8% van die gevalle nie beskikbaar of bereikbaar is nie.
Talle kommersiële boere meld nie veediefstalsake aan nie omdat vee in Suid-Afrika, met die uitsondering van sommige stoettelers, nie verseker is nie. Versekeringsmaatskappye bied nie dié soort dekking nie. As dit wel aangebied word, is dit baie duur. In die geval van die meeste ander eiendomsverwante misdade is die produk verseker. As die eienaar vir skade wil eis, moet die saak by die SAPD aangemeld word – wat nie die geval is met die diefstal van vee nie.
Die vee-eienaar kan ook bang wees om ’n boete te kry as die vee nie in ooreenstemming met seksie 7 van die Wet op die Identifikasie van Diere (Wet 6 van 2002) gemerk is nie. Vee-eienaars weet dit is problematies om diere terug te eis wat nie geïdentifiseer kan word nie.
Sommige boere laat ook na om diefstal aan te meld omdat hulle nie seker is hoeveel vee vermis word nie. Hulle reken dit is ’n mors van tyd om die misdade aan te meld omdat daar nie bewys sal kan word dat dit hul vee is wat gesteel is nie. Die vergelyking tussen die aantal gesteelde vee en die aantal sake wat aangemeld is, toon twee duidelike neigings. Die aantal vee wat gesteel is, neem toe, maar in teenstelling daarmee daal die aantal sake.
“Die enigste afleiding wat daaruit gemaak kan word, is dat die modus operandi van veediewe verander het,” sê Clack.
Waar gesteelde vee voorheen oorwegend vir die pot geslag is, het die misdadigers se werkswyse verander in ’n winsgewende, ekonomiese misdaad waarby georganiseerde misdaadsindikate betrek is.
Die teenwoordigheid van sulke sindikate is bevestig nadat 160 beeste in vyf verskillende voorvalle vanaf einde Junie 2013 tot middel Augustus 2013 in en om Gauteng gesteel is. Die waarde van die gesteelde beeste word op R2,2 miljoen bereken. In al vyf gevalle is dieselfde vragmotor op die misdaadtoneel deur middel van sy buitebandspore en verf by die laaikrale geïdentifiseer.
Die getal vee wat in elke aangemelde geval gesteel is, het van 4 in 2002-’03 tot 7,4 in 2014-’15 gestyg. Volgens Clack steun die styging die aanname dat misdaadsindikate betrokke is.
Voorlopige navorsing dui daarop dat diere wat vir die pot geslag word, deesdae net 13% van alle veediefstal verteenwoordig. Volgens Clack kan tot 87% van alle veediefstal aan misdaadsindikate toegeskryf kan word.
Hy sê gevalle wat nie aangemeld word nie, kan ’n uitwerking hê op die aantal vee wat in elke geval gesteel word.
“Daar kan egter ook aangevoer word dat die sake waartydens klein getalle vee gesteel word, nie aangemeld word nie.”
‘Tot 87% van alle veediefstal kan aan misdaadsindikate toegeskryf word.’