GEWASVERBOUING
Laasjaar was dié Karooboer in die nuus met ‘n rekordmielie-opbrengs van 22,5 ton per ha. Vanjaar is hy as die wenner (mielies onder besproeiing) in die Weeg en Wen-kompetisie van DuPont Pioneer (en LBW as mediaborg) bekroon met ‘n opbrengs van 20,58 ton/h
Mnr. Zirk Scheepers van Cradock verskuif telkens die doelpale met rekordmielie-oeste — dié keer met ’n opbrengs van 20,58 ton in vanjaar se Weeg en Wen-kompetisie van DuPont Pioneer.
Nadat ’n artikel in Landbouweekblad verskyn het waarin vertel is hoe mnr. Zirk Scheepers (43) van Wonderkop by Cradock daarin geslaag het om 22,5 ton mielies per hektaar in die 20 ton-mielieklub-kompetisie van Cradock Saad te stroop (“Karoo-mieliekoning stel SA rekord op”, 2 Oktober 2015), is hy oorval deur oproepe vanoor Suid-Afrika. Baie mense wat gebel het, was saam met hom bly oor dié prestasie en wou weet wat sy geheim is.
Maar daar was ook dié wat sinies was omdat hy nie ’n groot saaiboer is nie. (Zirk is ’n veeboer en kontantgewasse verteenwoordig net 15% van sy boerderyinkomste.)
Erg beskeie oor sy prestasies, het Zirk met LBW se besoek aan sy plaas gereël dat mnr. Thinus de Lange, ’n landboukundige van Cradock Saad, die tegniese aspekte van sy verbouingsmetodes verduidelik.
SÓ WERK ZIRK SE SOM
Thinus, wat die graad B.Tech. aan die Ohio-staatsuniversiteit in Amerika verwerf het, sê die eerste ding wat die meeste mense wil weet as iemand so ’n kompetisie wen, is hoeveel geld die deelnemer in sy sak steek nadat alle koste verhaal is. “Dit is een ding om ’n uitsonderlike opbrengs te kry, maar ’n ander som om te bepaal of die hoeveelheid ekstra geld wat aan bemesting, onkruid- en plaagbestryding bestee is om die beter opbrengs te lewer, ekonomies geregverdig is.
“Om by die antwoord uit te kom, moet die regstreekse produksiekoste (saad, misstof, onkruiddoders en mikro-elemente) asook die vaste koste (plantkoste, water, elektrisiteit en stroopkoste) bepaal en afgetrek word van die opbrengs per hektaar en die heersende mielieprys in die stadium wanneer die oes bemark word.”
In Zirk se geval het sy vaste en regstreekse koste in 2015-’16 sowat R20 000/ha beloop. Teen ’n gemiddelde mielie-opbrengs van 20,58 t/ha op die land, wat hy teen R3 450/t op ’n Februarie-Safex-kontrak verkoop het, het hy vir elke rand wat hy bestee het, R3,25 (320%) skoon in sy sak gesteek. As die prysgeld van R100 000 van die Weeg en Wen-kompetisie en oesreste wat hy verkoop het, in berekening gebring word, meen Thinus dat Zirk se opbrengs op kapitaal sowat R3,90 vir elke rand was.
“Om binne sewe maande dié klas inkomste op ’n plaas te kry, wil gedoen wees. Wat dit merkwaardiger maak, is dat die dagtemperature tydens die hoogtepunt van El Niño in Desember verlede jaar verskeie kere tot bo 40°C gestyg het. Zirk moes gevolglik sy besproeiingsprogram baie noukeurig dophou,” sê Thinus.
Zirk onthou dat hy ná een so ’n warm dag in Desember toe hy by die huis kom, vir sy vrou, Angelique, gesê het dat hy nie ’n kans staan met die kompetisie wat hom R1 000 gekos het om in te skryf nie. “Hoewel die mielies in daardie stadium deur ál die kritieke groeifases was, het dit op 31 Desember begin reën en was daar weer lig in die tonnel.”
Nadat die 2 ha mielies wat Zirk vir die kompetisie ingeskryf het, reeds weg was om geweeg te word, het die monitor op die stroper getoon dat daar ’n gedeelte van die land was waar die opbrengs noemenswaardig hoër was.
Thinus vertel dat dit kompetisies, soos dié van DuPont Pioneer en Cradock Saad,
is wat help om baie saaiboere nuut te laat dink. “Waar hulle mielies onder besproeiing verbou en voorheen byvoorbeeld net vir ’n opbrengs van 12 t/ha bemes het, besef hulle nou dat dit die koste loon om teen die huidige mielie- en kunsmisprys eerder vir ’n oes van 16 t/ha te bemes en sodoende nog meer geld per hektaar in hul sak te steek.
“Die voorvereistes is egter hoëpotensiaalgrond, voldoende water en oesversekering om die risiko wat daarmee gepaardgaan, beter te verskans. Boonop moet die mielieprys darem billik wees en die boer ’n goeie jokkie wees wat sy lande daagliks besoek om dadelik te sien as daar iets skort,” sê Thinus.
Zirk sê die lekkerste is om vroegoggend voor sy werkers opdaag na sy lande te ry
om waarnemings te doen en te besin oor wat hy gaan doen. “Dit kan wees om meer of minder water te gee, die toediening van mikro-elemente te verhoog of dalk nog ’n gifbespuiting te doen. Vir my gaan dit nie oor hoeveel geld ek kan bespaar nie, maar oor wat die beste gaan wees om ’n optimale oes te verseker.
“Dit geld ook vir die res van my boerdery. Elke hektaar grond en elke ooi-eenheid is deurslaggewend om my wins te verhoog. Doen ek dit nie, gaan ek onderdeur wees,” sê Zirk.
GEEN KITSRESEP NIE
Thinus benadruk dat daar nie ’n kitsresep vir sukses is nie.
“Ek kry hoeveel oproepe van boere wat my bel nadat hulle die suksesverhale gelees het en daarop aandring dat ek aan hulle ’n program verskaf om dieselfde resultate te behaal. Dan moet ek hulle meedeel dat daar ander faktore, soos organiese materiaal en die diepte en samestelling van die grond, is wat eers wetenskaplik bepaal moet word voordat daar aanbevelings gemaak kan word.
“In Zirk se geval het hy byvoorbeeld
reeds drie jaar gelede begin om die organiese materiaal in sy lande met die toediening van beesmis te verhoog. Elke 1% wat die humus in die grond verhoog, gee ’n ekstra vogvashouvermoë wat gelykstaande is aan 17 millimeter water. Dan is daar nog die NPK en lewende organismes in mis wat voordele inhou.
“Die vervoer en die uitstrooi van beesmis is ’n groot werk, maar die moeite werd as jy gelukkig is om ’n melkboer as buurman te hê van wie jy die mis kan koop.”
HELE SA KAN BAAT VIND
Oor die kompetisies sê Zirk dat dit vir hom ’n grensverskuiwende ervaring was.
“Cradock Saad en DuPont Pioneer het iets beet waarby die hele Suid-Afrika se saaibedryf kan baat vind. Ek glo as meer boere deelneem, sal hulle ook, soos ek, agterkom wat die ware potensiaal van die grond is wanneer die regte kunsmis, saad en gifstowwe gebruik word en daar op goeie grondvoorbereiding klem gelê word.
“Verhoogde opbrengste kan ook ’n groot bydrae tot voedselsekerheid in Suid-Afrika lewer en Suid-Afrika minder afhanklik van graaninvoer maak,” sê hy.
“Toe ek meer as 18 jaar gelede hier begin boer het, was die gemiddelde opbrengs sowat 8 ton/ha. Die beste boere het toe 10 ton/ha behaal.
“Net soos motors al beter gebou word, is dit ook die geval met saaiboerdery. Daar is vandag soveel nuwe tegnologie, soos mikro-elemente, beter saad en kunsmis, beskikbaar. Die kuns is hoe om alles saam in die pot vir optimale produksie te voeg en wanneer die stroper die dag sy neus in die land steek, te weet jy het jou beste gegee,” sê Zirk.