Nuwe tande in ‘Esta’-wet kan landbou duur te staan kom
WYSIGINGS aan die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Esta, Wet 62 van 1997) kan eiendomsreg inkort en bevat vaaghede waaroor duidelikheid gekry moet word, waarsku die landbousakekamer Agbiz in ’n voorlegging aan die Parlement. Agbiz is ook bekommerd oor die uitwerking wat dié maatreëls op die landbousektor se finansiële welsyn kan hê.
Die Parlement se betrokke portefeuljekomitee oorweeg tans kommentaar op wysigings aan dié wet wat die regte van grondbewoners verder reguleer.
Dr. John Purchase, hoof- uitvoerende beampte van Agbiz, sê in die voorlegging die koste-implikasies van die wet vir die bedryf is reusagtig.
“Daar kan nadelige finansiële implikasies wees by die herverkoop van eiendomme as grondeienaars nie kan waarborg dat die voornemende kopers besit neem van ’n vakante eiendom en dit volledig voordelig kan gebruik nie,” sê hy.
“Landbouskuld, of plaasskuld, is nou naby aan R160 miljard, en primêr (nagenoeg 60%) versekureer deur grond. As grondwaardes in die gedrang gebring word weens die aftakeling van eiendomsreg, sal dit ’n uiters nadelige effek op die finansiële instellings hê, aangesien die sekuriteit wat hulle hou, dan beduidend minder werd sal wees as waarop dit aanvanklik gewaardeer was.”
SUBSIDIE
Purchase sê daar is vaaghede in die wet oor die mediasieproses wat ’n uitsetting voorafgaan, en die presiese aard van die regsverteenwoordiging waarop plaasbewoners geregtig is.
“Ons steun die geleentheid om buite die hof te bemiddel, maar ons vra dat erkende bemiddelaars aangestel word omdat hulle ingelig en ervare is.”
Verder plaas ’n nuwe klousule in die wet nóg ’n las op die boer deur die reg op ’n toelae vir alternatiewe behuising toe te staan aan bewoners wat voorheen van die grond afgesit is, asook huidige bewoners.
Purchase sê daar is geen tydsraamwerk of beskrywing van wie in aanmerking kom as ’n “voormalige bewoner” nie, wat ’n “reuselas” op grondeienaars én die staat plaas, soos waar ’n eiendom talle kere van eienaar verwissel het sonder dat ’n uitsetting aan ’n koper bekend gemaak is.
VERTEENWOORDIGING
Die Regering dring aan dat ’n hof die plaasbewoner se saak móét aanhoor voor ’n uitsettingsbevel toegestaan word. Agbiz meen egter dié klousule beperk die jurisdiksie van die hof in situasies waar die betrokke staatsdepartement nie sy pligte nakom nie.
“As die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming nie die regsteun en geld voorsien wat die wetsontwerp vir ’n uitsettingsverhoor stipuleer nie, kan die grondeienaar ernstig blootgestel word, aangesien die hof dan dalk nié ’n uitsettingsbevel toestaan nie. As die uitgesette persoon ’n moeilikheidmaker of misdadiger is, en nie ’n wettige uitsettingsbevel teen hom kry nie, kan dit die plaaseienaar benadeel omdat dié persoon dan op die plaas aanbly,” sê Purchase.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, sê kragtens huidige wetgewing kan die boer hom na die hof wend vir ’n uitsettingsbevel sonder dat die betrokke party sy kant van die saak stel.
“Dit is onregverdig. Die betrokke party moet by wees wanneer die versoek om ’n uitsettingsbevel aangehoor word.”
REKORD
Nkwinti meen dié proses sal help dat plaaswerkers en -bewoners nie van plase afgesit word sonder dat die Regering daarvan weet nie.
“Jy moet weet daar kom ’n uitsettingsbevel en as jy weet, weet ons ook. Ons sal ’n prokureur kry om jou saak in die hof te stel sodat daar ’n gebalanseerde siening van die kwessie is voor die hof ’n besluit neem,” het hy gesê.
“Ons wil die gaping toemaak sodat die hof albei kante gehoor het wanneer hy sy bevinding maak. –
‘Landbouskuld is nou naby aan R160 miljard, en primêr versekureer deur grond.’