DIE ANDER SÊ
Meer as 30% van Suid-Afrika se water gaan verlore weens lekkasies, wat beteken verspreiders kan geen inkomste daaruit put nie. Teen 2030 sal die gaping tussen beskikbaarheid en vraag sowat 2,7 miljard kubieke meter wees, met ’n algehele vraag van 17,7 miljard kubieke meter. Staatsbesteding aan water het egter gedaal, en staan tans op R2,9 miljard per jaar, terwyl R58 miljard per jaar nodig is.
Só sê mnr. Fred Platt, uitvoerende hoof van die genoteerde infrastruktuurgroep Accéntuate, wat betrokke is by waterinfrastruktuurprojekte.
Hy meen Suid-Afrika behoort sy benadering tot water te verander. Dit geld veral die landbou, wat 60% van die land se water verbruik. “Tans is dit net ’n item op ons inkomstestaat, wat dikwels saam met elektrisiteit gegroepeer word.”
Hy sê voorts water behoort as ’n nasionale bate beskou te word, en die prys daarvan behoort belegging aan te moedig. In dié verband sal die Regering se prysstrategie en witskrif leiding gee, sowel as die toepassing van beginsels soos “gebruiker betaal” en “besoedelaar betaal”.
In sommige gebiede is die prys van water tans te laag, en daar is geen meganismes om ondernemings aan te slaan vir afloopwater nie. Verder het die land net ’n enkele waterstandaard – drinkwater – sonder differensiasie tussen verskillende gebruike.