‘KORINGMARK IS GESABOTEER’
Dit is 1 Desember 2016 en Suid-Afrikaanse meulenaars moet 50% van die koring en 30% van die mielies wat hulle benodig, invoer. Tog is die gemiddelde prys wat ’n plaaslike boer vir sy koring ontvang, R1 344 per ton, oftewel 30%, laer as wat dit ’n meulenaar vandag sal kos om koring in te voer na ’n meul aan die kus.
Die mielieboer se prys is gelyk aan die kusprys en R220/t laer as Randfontein-invoerpariteit.
Hoe is dit moontlik dat die koringmark so funksioneer in die lig van die groot tekort aan koring en die feit dat Suid-Afrikaanse koring van die beste gehalte ter wêreld is?
Koringboere was baie dankbaar toe die Regering drie jaar gelede ’n tarief op ingevoerde koring ingestel het. Die doel van dié tarief was om plaaslike boere te beskerm teen invoer uit lande wat hul koringboere subsidieer om koring te verbou. Dit was dus ’n manier om die speelveld tussen Suid-Afrikaanse en oorsese koringboere gelyk te maak.
Daar bestaan vandag vier groot meulenaars wat 80% van die koringmeelmark beheer. Hierdie meulenaars het hul markmag te danke aan die gereguleerde jare voor 1997 toe sommige van hulle as boeremaatskappye ontstaan het teen die mag wat Joodse graankopers gehad het.
Sedert 1997 het hierdie maatskappye hul markmag behou, terwyl boere hul koöperasies moes ontbind omdat dit as onmededingende instellings beskou is. Elke boer moes sedertdien SO BY MY KOOL sy eie koring bemark, terwyl die Meulenaarskamer vandag steeds funksioneer. As ’n mens in ag neem dat meulenaars verder beskerm word deur ’n tarief op meelinvoer, is dit duidelik dat ’n koringinvoertarief broodnodig was om die speelveld ook vir koringboere gelyk te maak.
Met die tariefbeskerming ingestel het Suid-Afrikaanse boere hul koringaanplantings in Mei vanjaar gedoen. In die middel van die produksietyd, ná die verswakking van die rand en ’n veldtog teen die koringtarief deur meulenaars (waarin die moontlikheid van stygende broodpryse as die speelbal gebruik is), het die Regering aangekondig dat die tarief op koringinvoer heroorweeg gaan word.
Hoewel die tarief vandag steeds wetlik op alle koringinvoer van toepassing is, verdiskonteer die JSE-termynmark (die plaaslike prysbasis) egter sedert hierdie aankondiging in Julie slegs 50% van die tariefbedrag. Gevolglik het die plaaslike koringprys met R750/t (of 17%) gedaal.
Dit is ironies dat dieselfde meel- en bakmaatskappye wat in 2007 skuldig bevind is aan samespanning om die broodprys vas te stel (“Broodkartel: Die storie agter die skandaal”, LBW, 8 Feb. 2008) nou die “stygende broodprys” as verskoning vir die afskaffing van die invoertarief op koring gebruik het. Dit is ook ironies dat sedert die Suid-Afrikaanse koringprys ses maande gelede met R750/t gedaal het, daar nog nie ’n daling in broodpryse plaasgevind het nie . . .
Die onreg teen koringboere hou nie hier op nie. Boere word onderwerp aan ’n onbedingbare aftrekking vir vervoer na ’n teoretiese verbruikspunt. Die JSE se vaste liggingsdifferensiale behoort slegs van toepassing te wees op koring wat aan die JSE gelewer word. Tog word dit gebruik as ’n standaardaftrekking tydens alle koringaankope wat by boere op hul plaas gedoen word. Die gevolg is dat alle plaaslike koring se prys bepaal word asof dit na Randfontein vervoer word.
Koringproduksie vind plaas in gebiede wat betreklik ver van hierdie teoretiese punt is. Die ge-