Landbouweekblad

DIT REËN!

- Durbanvill­e

“Dit reën” – twee eenvoudige woorde gelaai met dankbaarhe­id en blydskap. Die mens en dier reageer met uitbundigh­eid op hierdie kosbare gawe van Bo.

Ná maande van bid, smeek en staar na die hemel op soek na wolke, het ons ons sondes bely, vergifnis gevra en belowe om voor te begin. En toe kom die reën. Nie net kol-kol nie, maar oor die wydte van Suid-Afrika. Dit het vergesigte en moed gebring vir môre en daarmee saam die belofte dat El Niño verdryf is, asook blinkvol damme, golwende, groen vlaktes en ’n goeie oes.

Ons bel mekaar en sê dit aan mekaar en aan onsself: Die Here was ons genadig. Saam met mnr. Eddie Palm en sy seuntjie op LBW se voorblad van 25 November (sien die hieronder) wil ons ook baldadig in die reën speel. Dié foto verwoord almal se binneste. Ek glo dit is die begin van groot water wat Suid-Afrika en sy mense so nodig het en dat die Here die hele land met milde reën sal seën.

Dit is musiek vir ons ore, balsem vir die binneste en lafenis vir die gemoed om te gaan slaap met ’n simfonie op die dak, weerligstr­ale in die wolke, die tik-tik van druppels teen die ruite, die spoelgeraa­s in die geute en die aroma van die nat aarde. Ons kan saam met die digter G.A. Watermeyer uitroep: “Die wendam stoot sy uitloop oor. Blink breek my ploeg die middelvoor.”

Mag ons nie vergeet om dankie te sê nie. Mag die landbouers van Suid-Afrika Jabes se seën oor hulle ondervind. PEET PIENAAR

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa