Die Regering wil teen aanstaande Julie wetgewing vir ’n minimum loon afhandel. JOYLENE VAN WYK berig oor die implikasies vir die landbou.
DIE FINALE BESLUITE oor die werking en bedrag van die nasionale minimum loon wat onlangs afgekondig is, sal binne die volgende maande bespreek en afgehandel word. Die doel van die loon is om armoedevlakke en ongelykheid te verminder.
Die georganiseerde landbou verwag dat dieselfde voorskrifte vir vergoeding in goedere, soos vervat in die sektorale vasstelling vir die landbou, sal geld.
Die voorgestelde minimum loonbedrag is R20 per uur en R3 500 per maand. Dié bedrag is vasgestel deur ’n paneel kundiges onder adjunkpresident Cyril Ramaphosa.
Ramaphosa het op die Nasionale Vergadering se laaste sitting van die jaar die Regering se denke, doelstellings en tydlyne rondom dié loon uiteengesit.
Hy het gesê die paneel het voorgestel dat wetgewing oor die minimum loon teen aanstaande Julie ingestel is. Die instelling van die R20 per uur moet gepaardgaan met ’n skikking oor hoe om dit in werking te stel. Vir die twee jaar waarbinne die loon ingestel word, sal geen boetes vir werkgewers opgelê word wat nie aan die vereiste voldoen nie.
Die loon sal dus teen 2019 ten volle betaalbaar moet wees.
LOONVLOER
Ramaphosa het gesê die voorgestelde bedrag is nie ’n bestaansloon nie, maar slegs die riglyn wat bepaal dat niemand in die land minder as dit mag verdien nie.
“Ons moet die syfer eerbiedig waarop ooreengekom is, want dit sal ’n impak op die inkomste van 7 miljoen mense hê. Die loon moet gesien word as ’n beginpunt vir ons mense om beter lone te verdien.”
Hy het gesê dit was belangrik vir die paneel om ’n balans te kry waar hoër lone betaal kan word sonder om grootskaalse werksverliese te veroorsaak.
“Werksverliese is ’n werklikheid. Dit is nie ’n rookskerm of ’n bogstorie nie,” was sy verduideliking oor waarom die paneel nie gehoor gegee het aan voorstelle vir ’n minimum loon van R12 500 nie.
Belanghebbendes in die maatskaplike sektor sal, noudat daar ’n aanduiding is oor die loonbedrag, samesprekings voer en met ’n finale bedrag vorendag kom, het hy gesê.
Hy het ook benadruk dat die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) grootliks reeds tot die voorgestelde bedrag van R20 per dag ingestem het. Dié liggaam gaan nou beraadslaag oor hoe die loon ingestel kan word om werksverliese tebeperk.
Om ’n prysnemende sektor, soos die landbou, te help om sy werkers die nasionale minimum loon te kan gee en werksverliese te beperk, word voorgestel dat die sektor vir die eerste twee jaar 90% van die minimum loon betaal, dus R18 per uur.
BYVOORDELE
Die paneel het aanbeveel dat die gebruik om werkers minder as die minimum loon te betaal in ruil vir byvoordele, soos behuising en kos, eerder beperk moet word, want hulle vrees dat werkgewers “betaling in goedere” kan misbruik.
WAT SA SE ARMSTES VERDIEN
Navorsing van die paneel wat adj.pres. Cyril Ramaphosa raad gegee het oor die minimum loon, toon slegs 36% van die armste Suid-Afrikaanse huishoudings het toegang tot werkgeleenthede. Diegene wat egter wel werk, verdien dikwels so min dat hulle nie vir hul afhanklikes kan sorg nie. Die bestaansloon vir werkendes word op R4 317 beraam.
Meer as 6,7 miljoen mense verdien minder as R4 000 per maand.
Meer as die helfte van werkende SuidAfrikaners verdien minder as R3 700 per maand en 4,6 miljoen mense verdien minder as R2 500 per maand.
Volgens die verslag van die paneel dek R2 500 slegs die minimum voedselvereistes van ’n gesin van vyf. Die minimum kalorieë van 2 100 per dag kos sowat R445,55 per persoon per maand. Altesaam 11 miljoen mense kan dit nie bekostig nie.
“Dié inligting skilder ’n duidelike prentjie van armoede wat ’n samestelling van lae lone en baie hoë vlakke van werkloosheid is,” sê die paneel. – JOYLENE VAN WYK
Me. Elize van der Westhuizen, bestuurder vir arbeidsverhoudinge by Agri SA, sê hulle verwag dat die sektorale vasstelling, wat diensvoorwaardes vir die landbou uitspel, steeds sal geld.
Voorbeelde daarvan is dat die werknemer nie gratis voedsel of enige betaling in goedere sal ontvang nie.
Plaaswerkers werk gemiddeld 45 uur per week, wat die maandelikse minimum loon tot R3 870 bring.
Tans is die landbou se sektorale vasstelling R14,25 per uur of R128,26 per dag en R2 778,83 per maand.
VERLIGTING?
Ramaphosa het benadruk boere wat nie die minimum loon kan betaal nie, kan ingevolge die Wet op Basiese Diensvoorwaardes aansoek doen om kwytskelding van ministeriële vasstellings, soos die minimum loon.
Hy het toegegee daar was werksverliese in ander lande wat só ’n loon ingestel het.
“Die vraag wat ons moet vra, is of ons vir altyd gaan voortgaan met ongelyke lone en of ons na ’n hoër vlak gaan beweeg waar ons minimum lone het wat mense na ’n beter lewe ophef.”
Die Wet op Werkgewersbelastingaansporing (Wet 46 van 2013), of jeugloonsubsidie wat werkgewers aanmoedig om mense tussen 18 jaar en 29 jaar oud in diens te neem, kan volgens Van der Westhuizen aan werkgewers ’n minimale en tydelike buffer teen die impak van die minimum loon bied.
Die jeugloonsubsidie is slegs in sekere omstandighede van toepassing en word ook nie regstreeks aan die werker betaal nie. Pleks daarvan moet die werkgewer die loon uit sy eie sak betaal. Hy kry dan, in sekere omstandighede, ’n belastingkorting of hy kan belasting terugeis.
Afgesien daarvan dat dié belastingaansporing ’n ouderdomsperk bevat, is dit ook slegs van toepassing op werknemers wat ná Oktober 2013 aangestel is. ’n Werkgewer kan ook net vir een kwalifiserende werker vir die eerste jaar van sy indiensneming die volle bedrag eis en in die tweede jaar slegs die helfte van die bedrag. Daarna val die voordeel weg, sê Van der Westhuizen.