‘Sentrums vir statistiek is al hoe nodiger’
In die komende feestyd word ’n toename in misdaad verwag, sê die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO).
Die maatskaplike toestande van bewoners in landelike gebiede wat agteruitgaan, kan daartoe lei dat mense hulle tot misdade wend in ’n stryd om te oorleef. Dit het dus noodsaaklik geword dat alternatiewe maniere en strukture ingestel word om die polisie – en veral die veediefstaleenhede – se hande te versterk om dié veediefstal hok te slaan. Volgens die nasionale Veediefstalforum blyk dit dat veediefstal al hoe meer georganiseerd deur middel van sindikate bedryf word.
Die forum moedig dus alle veediefstaleenhede van die SA Polisiediens aan om veediefstalinligtingsentrums te stig. Provinsiale forums teen veediefstal en die boerderygemeenskap word ook versoek om by sulke sentrums betrokke te raak.
Volgens mnr. Willie Clack, voorsitter van die nasionale forum, maak die hoë voorkoms van veediefstal en die feit dat meer vee op een slag gesteel word, dit noodsaaklik om sulke inligtingsentrums in sekere gebiede te vestig. Die Veediefstalwet maak voorsiening vir die vestiging van inligtingsentrums wat deur veediefstaleenhede en met die samewerking van die RPO se Veediefstalvoorkomingsforum en boere bedryf kan word. Die doel van die inligtingsentrums is: Die versameling en ontvangs van inligting met betrekking tot veediefstal, verdagtes, verdagte voertuie en misdaadneigings. ’n Inligtingstuk ten opsigte van georganiseerde misdaadsindikate, met gepaardgaande strategieë om hulle doeltreffend te hanteer, met die suksesvolle vervolging in die howe as uiteindelike doelwit. Skakeling met die SAPD, veediefstaleenhede en aanklaers om skuldigbevindings te verseker. Groter organisatoriese beheer, kontrole en skakeling om misdaadinligting en verwante risiko’s na ’n sentrale punt te stuur. Só ’n inligtingsentrum behoort volgens Clack uit die volgende belanghebbendes te bestaan: Die bevelvoerder van die veediefstaleenheid, die polisiekommissaris, ondersoekbeampte(s) van die veediefstaleenheid, boere, die staatsaanklaer en gekoöpteerde kenners in die om gewing, wat ook die plaaswagstruktuur insluit.
Die belangrikste doel van misdaadinligting en aanmelding is om boere en boerderygemeenskappe vroegtydig oor sekere verdagtes, asook verdagte voertuie en misdaadneigings in te lig sodat hulle waaksaam en meer oplettend kan wees om hulself, hul gesinne, hul werkers en hul eiendom te beskerm.
Die Landelike Beveiligingsplan maak ook melding van die uitbreiding en vestiging van inligtingsinsamelingsnetwerke en gesamentlike netwerke in landelike gebiede. Boere moet hul kommunikasiekanale met hul werkers uitbrei sodat enige inligting oor misdadigers se betrokkenheid by toekomstige optredes aangemeld kan word. Plaaswagstrukture kan ook toenemend betrokke raak by die uitbreiding van netwerke om inligting saam met hul plaaslike polisie in te samel.
Die oogmerk van die ontleding van misdaadsyfers is daarop gerig om voorvalle te voorkom, of te verskuif na ander gebiede waar doeltreffende strategieë en polisiëring ontbreek. Die doel is ook om individue en groepe wat misdade pleeg, vas te trek. Misdaadinligting moet in verwerkte, gekonsolideerde vorm (databasisse) ingevoer word om die dinamika van misdaad doeltreffend te verduidelik en dan moet dit voorkomend aangewend word.
Die uitruil van inligting is noodsaaklik om georganiseerde misdaad te keer. Dit help die SAPD en die Nasionale Vervolgingsgesag om misdadigers te stuit wat van een geografiese gebied na ’n ander verskuif.
Maatskaplikdemografiese inligting handel oor die eienskappe van individue en/of groepe, soos hul geslag, ras, inkomste, ouderdom en opvoedkundige kwalifikasies.
Visuele tentoonstellings van misdaadneigings en die verbintenis met ander gebeurtenisse en geografiese ligging is belangrik om die aard van misdade te verstaan.
Die laaste deel van misdaadontleding is om die polisie te ondersteun om misdadigers te vang, misdaad te voorkom en om misdaad te laat afneem.
Daar is vyf goeie redes waarom misdade by die polisie aangemeld moet word: Die polisie se prestasie op plaaslike vlak is regstreeks gekoppel aan misdaadstatistieke. Die aanmelding van sake stel ontleders in staat om op plaaslike, distriks en provinsiale ontledings van misdaadneigings saam te stel. Dit help om te bepaal hoe misdade manifesteer, asook hoe om dit dan deur middel van polisiëring doeltreffend te hanteer. Met ’n laer aanmeldingsyfer kan misdaadneigings nie opgestel word nie en ook nie strategieë saamgestel word om dit op te los nie. Dit is belangrik om te bepaal of sekere misdade georganiseer word deur sindikate wat oor geografiese grense optree. Die aanmelding kan hulle verbind met sekere sake. Dié inligting kan onder die aandag van die SAPD se topbestuur gebring word vir die registrasie van misdaadprojekte om dié soort misdaad doeltreffend hok te slaan. Ondersoekbeamptes kan nie doeltreffend borgtog vir kriminele teenstaan as misdaadsyfers nie toon dat ’n misdaad ’n probleem in ’n sekere geografiese gebied is nie. Die ontbreking van aanmeldingsyfers vergemaklik dus die toestaan van borgtog deur landdroste aan misdadigers. Dit kan daartoe lei dat hulle dieselfde misdade weer pleeg as hul op borgtog vrygelaat word. Bewyse van ’n toename in misdade in ’n sekere gebied stel howe in staat om swaarder vonnisse op te lê. Misdadigers kan dan swaarder gestraf word as hulle misdade pleeg in ’n gebied met ’n hoë misdaadvoorkoms, aangesien dit ook die ekonomie benadeel. Dit is belangrik dat inligting van die plaaswagstrukture aan die inligtingsentrums gestuur word. Talle private sekerheidsmaatskappye se veiligheidskoördineerders is ook die veiligheidskoördineerder vir die plaaslike branden/of landbouvereniging.
Samewerking tussen die SAPD, boere, gebiedskantore, die RPO en plaaswagstrukture moet verbeter om misdade, risiko’s, bedreigings en veral veediefstal vroegtydig hok te slaan.
‘Ondersoekbeamptes kan nie doeltreffend borgtog vir kriminele teenstaan as misdaadsyfers nie toon dat ’n misdaad ’n probleem in ’n sekere geografiese gebied is nie.’