BOEKEKUIER MET JOHAN VAN WYK
Die gesoute joernalis Johan van Wyk se stories oor die Hantam, het oor die jare gereeld in Landbouweekblad verskyn. Sy tweede versamelbundel, So is dit nou, het pas verskyn.
Hoekom bly die Hantam, en die plaas Zandkraal, jou so inspireer? Ek is op Zandkraal (vandag met ’n “S”), langs die Renosterrivier tussen Calvinia en Williston, gebore. Dié harde, droë wêreld van eensame verlatenheid het ’n onuitwisbare indruk op my gemaak en bekoor en inspireer my steeds. Deur daarna terug te gryp en dit te koppel aan wat ons nou in Suid-Afrika beleef, hou ek die bittersoet herinneringe aan ’n verbygaande tydperk in stand.
Pretensie en aansitterigheid het jou nog altyd geïrriteer. Waarom steek jy graag draak daarmee? Die waarheid duld nie die bak van mooi broodjies nie. As joernalis moet jy vreesloos kan standpunt inneem. Dis ’n kuns om dit met humor te doen.
Teen 2012 het jy glo al 7 400 rubrieke en 5 miljoen woorde geskryf. Raak die skryfproses makliker? Dis harde werk wat streng dissipline verg, maar ervaring en ’n liefde vir my moedertaal maak dit steeds ’n vreugde. Dit neem nou net ’n bietjie langer as toe ek jonk was! Ek maak daarop aanspraak dat nie bloed nie, maar drukkersink in my are vloei.
Jy is dol oor motorfietsry. Waar kom dié liefde vandaan? Ek ry al meer as 50 jaar motorfiets en het meer as 600 000 km tot die uithoeke van Suid-Afrika en Namibië op vyf verskillende motorfietse afgelê. Niks sluit jou beter af van die wêreld nie. Dis ook my dinktyd.