Empatie en toegewings nodig in onderhandeling
IN ’N debat op Agri SA se kongres oor hoe grondhervorming kan slaag, was die konsensus dat dit intense onderhandelinge en toegewings van alle kante verg.
Mnr. Masiphula Mbongwa, raadgewer by die Ministerie van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het gesê almal moet met oplossings vorendag kom om vorentoe te beweeg, met die vereiste dat produksie nie versteur moet word nie en almal ná die tyd beter daaraan toe is.
Mnr. Ernest Pringle, voorsitter van Agri SA se beleidskomitee vir landbouontwikkeling, het gesê vertroue tussen die Regering en boere is nodig.
Begunstigdes moet wettige eienaarskap van die grond kry, beter gekeur word en sterk ondersteuningstelsels hê.
Een van die modelle wat weer getoets gaan word, is dié van die Nasionale Ontwikkelingsplan (bekend as die Karaanplan), wat behels dat gevestigde boere en begunstigdes (meestal plaaswerkers) elk 50% aandele in ’n nuwe boerdery het. Die staat finansier die begunstigdes se aandeel.
’n Ooreenkoms tussen die Regering en die Land Bank oor ’n uitbetalingsmeganisme vir die staat se 50% bydrae tot sulke projekte maak dit moontlik.
Dr. Theo de Jager, voorsitter van Agri Limpopo se transformasiekomitee, het gesê daar word nou gekyk na vyf nuwe projekte in die provinsie. Die eerste 5050projek was ’n sitrusplaas in Burgersfort, wat in 2014 deur Bosveld Sitrus aangekoop en ontwikkel is. Deur die loop van die jaar het ’n spesiale ondersoekeenheid met die Valke, die Batebeslagleggingseenheid en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) saamgewerk om beslag te lê op altesame 29 plase van R470 miljoen ná onwettige transaksies tussen korrupte amptenare, plaasverkopers en oordragprokureurs.
Die plase is nou aan die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming terugbesorg en die mikpunt is om dit voor einde Desember aan nuwe, verdienstelike begustigdes te oorhandig.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het die ondersoeke aangevra ná onreëlmatighede by grondhervormingsprogramme uitgelig is.
Nóg 40 voorvalle rakende die onreëlmatige oordrag van plase ter waarde van R400 miljoen word ondersoek. Dit is 19 plase in die WesKaap, 12 in die Vrystaat en 9 in Limpopo en Mpumalanga.