Minder melk maak meer geld
Bestuur jou voerkoste volgens die produksie en gewig van elke individuele melkkoei en bevoordeel só jou winsmarges. Dít is volgens mnr. Flip Human (foto), hoofbestuurder van Jacobsdal Dairy, die enigste uitweg vir die sukkelende melkbedryf. “Die melkery kan dus eerder minder melk lewer, maar elke liter maak geld.”
Presisieboerdery – danksy die Israeliese Afikim-melkstelsel en ’n Waikato-melkmasjien – het die winsmarge van die melkery drasties verbeter. Dit maak ook uitbreiding moontlik. Flip en sy twee regterhande, mee. Chané Cloete en Carine Brink, wil binne ’n jaar die 710 koeie, hoofsaaklik Jerseys, wat drie keer per dag gemelk word, tot 1 300 uitbrei.
Die gemiddelde produksie is 24 liter per koei per dag. “Ja, dis moontlik om 35 liter per koei per dag te melk, maar as jou bestuur reg is, kan jy meer geld maak met 24 liter.”
Flip is onverbiddelik oor die marge wat hulle bo voerkoste handhaaf. Die koeie word in groepe ingedeel volgens hul produksie as persentasie van die koei se liggaamsgewig. Hul gewig, melkproduksie en aktiwiteit word in ag geneem. Hul produksie én bottervet- en proteïenpersentasie word gevolglik teruggewerk na kilogram melk.
Só kan Flip vir sekere groepe ’n goedkoper rantsoen gee en steeds seker maak elke groep is winsgewend. “Dis die naaste wat ons daaraan kan kom om doeltreffend te voer. Ons maak elke dag duisende somme om presies te bepaal hoeveel kilogram kos per liter melk gevoer word. Die rede waarom ons dit na liggaamsgewig terugwerk, is omdat ’n groot koei baie meer vreet as ’n kleiner koei.”
Seleksie en teling het die melkery in die afgelope jaar gehelp om die produksie en hoeveelheid vastestowwe in die melk te verhoog. “Reeds van die versstadium word elke dier volgens haar produksie bestuur. Omdat voer so duur is, kan ons nie ’n dier oorsien wat nie in die prentjie inpas nie.”
Die doeltreffendheid en gemiddelde prestasie het toegeneem. “Laas jaar was ons kuddegemiddelde 19 liter, nou is dit 24 liter.”