Kleinjan maak boerderygeskiedenis
Mnr. Kleinjan Gasekoma (68, foto onder) van die plase Bruintjiesfonein en Klein Quaggablatt naby Reivilo in die Noord-Kaap is die eerste swart boer in Suid-Afrika wat as Voermol se Beesboer van die Jaar aangewys is. Hy het binne 13 jaar die pad van kommunale boer tot kommersiële boer gestap.
“Ek het dit nie verwag nie, maar is baie bly dat hulle raaksien dat ons opkomende boere ook waarde vir die land het. Ons werk baie hard om kommersiële boere te word,” sê Kleinjan, wat by die spoorweg se pakkette-afdeling in Pretoria gewerk het, maar van 2001 af begin plaas soek het. Twee jaar later het hy saam met 25 ander mense op die plaas Nouvlakte by Amalia begin boer ingevolge die Regering se destydse program vir die herverdeling van grond vir landbou-ontwikkeling (LRAD). Hy wou egter alleen boer en het in 2007 by die staat aansoek gedoen om Bruintjiesfontein en Klein Quaggablatt (1 233 ha altesaam) te huur.
In 2006 het die Braunvieh-genootskap ’n stoetbul en -vers op die Vryburg-skou aan hom geskenk, wat Kleinjan aangespoor het om ook ’n Braunvieh-stoetteler te word. Hy het vir die herkapitaliseringsprogram in aanmerking gekom en daarop aangedring dat mnr. Cois Harman van Marico-Bosveld, mede-eienaar van Agristart, as sy mentor aangestel word. Met verdere staatshulp het hy geregistreerde Braunvieh-beeste met Cois se hulp by verskeie ander telers gekoop.
Kleinjan se Braunvieh-stoetkudde bestaan uit sowat 100 beeste en die kommersiële kudde uit ’n verdere 100 diere. Hy brei die kuddes uit deur die beste versies te behou. Hy gebruik vier stoetbulle.
Sy inkomste kom hoofsaaklik uit die verkoop van speenkalwers.
Onder Cois se leiding het hulle heinings, gange, ’n dam, opvangkrale, veesuipings, lekbakke en hanteringsgeriewe vir 350 beeste op die plase bou. Hy boer ook met Boerbokke.