Hidroponika op steroïede
Twee broers het ses jaar gelede begin om ’n klimaatbeheerde-hidroponikastelsel te ontwerp wat die mikroklimaat vir elke plant haarfyn kan beheer en ’n mens in staat stel om tot 1 200 plante per vierkante meter per jaar te kweek. Dié klimaatbeheerde stelsel is nie goedkoop nie, maar dit is een van die tegnologies gevorderdste stelsels ter wêreld.
Mnr. Jacques van Buuren van Eden Green Hydroponics in Pretoria en sy broer, Eugene, het saam met mnr. Gerhard Ehlers ’n stelsel ontwerp wat vyf maal doeltreffender as konvensionele hidroponika en 20 maal doeltreffender as verbouing op landerye is.
“Omdat ons elke dag ’n optimale klimaat in die stelsel het, is dit moontlik om tien groeisiklusse van 30 dae tot 35 dae per jaar binne die stelsel te hê,” sê Jacques.
Die stelsel is in ’n kweekhuis ontwerp sodat die minimum energie gebruik word om die ideale klimaat te skep.
“Ons reguleer die klimaat in die kweekhuis, maar ons beheer slegs die mikroklimaat onmiddellik om elke plant. Met regulering bedoel ons dat die temperatuur en humiditeit met ventilasie so doeltreffend moontlik gereguleer word om so na as moontlik te kom aan die optimale klimaat wat die plant verlang.”
Die stelsel is toegerus met lugvloeikanale by elke plant. Die klimaat in die tonnel word gemeet en ’n mengsel van atmosferiese lug teen die ideale temperatuur en die nodige lugvog word by elke plant uitgeblaas. Selfs die suurstof- en koolstofdioksiedvlak kan gereguleer word.
“Ons kan dus die mikroklimaat om die plant akkuraat tot op ’n enkele graad Celsius en binne 5% humiditeit beheer om optimale fotosintese en transpirasie te verseker.”
Plante wat in die stelsel gekweek word, sluit die meeste soorte blaarslaai, kruie, rankvrugte (soos aarbeie) en kleiner soorte groente (soos uie) in. Een werker kan tot 4 000 plantjies per dag plant en tot 2 000 per dag oes.
Die stelsel kan ook in bestaande kweekhuise ingebou word. Met ’n oppervlakte van 650 m² kan ’n module gebou word wat 390 000 plantjies (39 000 x 10 oeste) per jaar lewer. Een module gebruik 4 000 liter water per dag en sirkuleer hierdie water tot 40 maal per uur deur die stelsel. Die UV-steriliseerder verseker dat die water suiwer bly.
Die rekenaarprogrammatuur, met behulp van elektroniese sensors, verseker dat die gehalte van die water (pH en suurstofinhoud) en die voedingstofinhoud van die water altyd op optimale vlakke is vir die spesifieke ontwikkelingstadium waarin die plante is. Mnr. Jacques van Buuren en vennote het ’n hidroponikastelsel ontwerp waarin tot 1 200 plante per vierkante meter verbou kan word.