WAARDEER JOU ERFENIS – ’N LES UIT DIE KAROO
Nadat my dogter op Stellenbosch gestudeer het, is sy Kanada toe om by ’n ski-oord in Whistler, Brits-Columbië, te gaan werk. Wat sy daar ervaar het, het my laat besef hoe onbeduidend die wêreld dink Suid-Afrika is.
Wanneer sy gesê het sy is van Suid-Afrika, het mense al van bakens en bekendes, soos Kaapstad, Tafelberg, oud-pres. Nelson Mandela en die Springbok-rugbyspan gehoor. Maar as iemand nie eens van ’n plek genaamd Johannesburg weet nie, besef jy hul lewe draai om ander sake.
Vreemd genoeg, as jy iemand vra of hulle al van die grasvlaktes in Noord-Amerika of Rusland gehoor het, het hulle gewoonlik al. Nog vreemder is as jy hulle vra of hulle bekend is met die term “Karoo”, en die meeste mense sê hulle is, al het hulle geen benul van waar in die wêreld dit is nie.
OORLEWING
Die Karoo is deel van Suid-Afrika se erfenis en ’n trotse deel daarby. In ’n skoolatlas sal jy sien die Karoo word as ’n halfwoestyn aangedui. Die eienskappe van ’n halfwoestyn is ongereelde reënval, drastiese verskille tussen somer- en wintertemperature, langdurige droogte, oorstromings, kort tydjies van oorvloedigheid, ensovoorts. In dié harde, meedoënlose klimaat groei die karoobossie, wat so eie is aan die gebied.
Terwyl ek nou oor hierdie merkwaardige bossie praat, hier is sommer sy wetenskaplike naam sodat ons die erfenis so goed kan ken as wat ons dit behoort te ken: Pentzia incana (ankerkaroo). Die plant het ’n groenerige, grys kleur, geel blomme en ’n tipiese bossieen kruidagtige reuk wanneer ’n mens die blare vryf, hetsy dit droog of groen is.
Die bossie het ’n paar ander eienskappe, waarvan oorlewingsinstink een is. Somertemperature so reg uit die hel, haelstorms, oorbeweiding, Karooruspes, langdurige droogtes, ysige winters, veldbrande . . . noem maar op, die Karoo het dit alles gesien, ervaar én oorleef. Ek het nog nooit gesien of gehoor dat ’n karoobos vanself vrek nie, wat beteken dit verstaan geloof.
Dit sal uithou en aanhou tot die reën kom en dan sal dit groei. Karoobossies bevraagteken nie of God reën sal stuur nie. Hulle maak
Hoewel ’n karoobossie op sigself nie eintlik baie kos verskaf nie, nie eens naastenby genoeg om een skaap behoorlik te voed nie, is die Karoo die plek waar die beste skaapvleis ter wêreld vandaan kom.
’n Karoobossie groei nie hoër as 30 cm nie, selfs nie in baie nat jare nie. Dit is tevrede om te wees wat dit bedoel was om te wees – ’n karoobossie. Dit probeer nooit om ’n mielieplant of ’n vyeboom te wees nie omdat dit die omgewing ken waarin dit voorkom en die las moet kan dra wanneer tye verander.
Wanneer die karoobossie oud en die takke lank raak, is die plant nie meer smaaklik nie omdat dit houtagtig raak. In sulke gevalle, ongeveer drie weke nadat dit gereën het, broei Karooruspes uit wat die blare van die plante af vreet, maar die lang takke los. Dié takke bied dan weer beskerming aan ’n nuwe geslag plante van verskillende soorte wat ontkiem en wortelskiet.
Ek wil julle aanmoedig om die karakter van die nederige Karoo aan te neem. Hou vas aan geloof, want dit help ’n mens om te oorleef. Om karakter te hê, is om te weet wanneer om te lag en wanneer nie, en dit is om te verstaan dat integriteit van jou vereis om op die regte tyd “nee” te sê.
Die lewe in die stad is geneig om gasvryheid soos ons dit in die Karoo ken, te versmoor. Leer om só te lewe dat jy in meer belang stel as net jouself.
’n Seun van die Karoo laat as ’t ware ’n aangename, blywende geur by die mense agter met wie sy pad kruis. Suid-Afrika het baie diverse mense. Saam kan ons so goed wees soos die Karoo se skaapvleis (al is daar groot struikelblokke om te oorkom). Wees ’n trotse Suid-Afrikaner, en ander sal jou beny vir wie jy is. Laastens, wees ’n waardige mentor en koester, beskerm en moedig diegene aan wat jou sal volg. Dan sal hierdie land jou trots maak.
Julle wat van die Karoo af kom, omarm jul erfenis. Julle kom van trotse mense. Hou altyd ’n karootakkie by jou sodat jy onthou waar jy vandaan kom. Ons het mense soos julle nodig. — JIMMY TRUTER
Mnr. Jimmy Truter is verbonde aan die Zuurberg-landbouvereniging. Hy boer in die distrik Kommadagga in die Oos-Kaap. Chris Burgess is tans met sabbatsverlof en sal binnekort sy rubriek hervat.