Landbouweekblad

Luislange maak boere skrik

- – JASPER RAATS

MNR. MARIUS KOEKEMOER, ’n slangkundi­ge van Reptile Rescue in Lephalale, sê hy en sy kollega, mnr. Henko Janse van Rensburg, word ál meer deur wildboere gekontak om slange, veral luislange, in die teelkampe van hul skaars wildsoorte te vang.

Koekemoer, wat hoofsaakli­k in Limpopo se westelike Bosveld werk, sê hy het hierdie somer al meer as 60 luislange uit wildkampe gaan verwyder. Tien van die slange was langer as 4 m.

Hy is egter bekommerd oor die groot aantal slange wat vermoedeli­k net doodgemaak word. “Ons is seker daar word duisende slange doodgemaak, en dit is te verstane. ’n Mens wil nie ’n groot luislang duld in ’n kamp waar peperduur swartwitpe­ns- of goue wildebeesk­alwers aangehou word nie.”

Hy doen egter ’n beroep op boere om eerder iemand te bel, soos hy, wat kosteloos na plase ry, die slange vang en hulle in ’n veilige habitat vrylaat. Hy verwelkom wel skenkings vir sy moeite en brandstof.

ONGEDIERTE­S

Koekemoer wys daarop dat dit nie altyd net sleg is om slange op jou grond te hê nie.

“Volgens my ervaring vang ’n luislang dalk een wildsbok, hetsy ’n kalf of lam of uitgegroei­de, kleiner spesie per jaar. Dieselfde luislang vang in dieselfde tydperk honderde jakkalse, rooikatte en ander probleemdi­ere.”

Hy verduideli­k dat luislange en probleemdi­ere om dieselfde ou erdvarkgat­e as skuiling meeding. “As ’n luislang daar ’n werpsel rooikatte of jakkalskle­intjies kry, byt hy almal dood en sluk hulle in. As die ouers terugkom, is hulle ook op die spyskaart. Dieselfde geld mambas en kobras.”

Terwyl uile en katte enkele diere vang wat hul paaie op die oppervlak kruis, seil slange in hierdie knaagdiere se neste in en wis hele kolonies in ’n oogwink uit.

Koekemoer raai aan dat boere en selfs dorpsbewon­ers slange in en om hul huise en opstalle laat verwyder, maar slange in die veld met rus laat.

“Slange is territoria­al, as jy weet daar is ’n groot mamba of luislang in ’n spesifieke omgewing, kan jy maar rondom dit bestuur. Daardie slang is lewend meer werd as dood.”

Hy doen ook ’n beroep op grondeiena­ars in Limpopo wat slange goedgesind is, om hom te kontak. “Ons is altyd op soek na plekke om slange vry te laat.”

‘As ’n luislang daar ’n werpsel rooikatwel­pies of jakkalskle­intjies kry, byt hy almal dood en sluk hulle in. As die ouers terugkom, is hulle ook op die spyskaart.’

072 174 6970; 084 586 0234.

 ?? FOTO:VERSKAF ?? Mnre. Marius Koekemoer (regs) en Otto Bousema van Limcroma Safaris, met ’n luislangwy­fie wat op 27 Januarie gevang is – die 100ste slang wat hy sedert die begin van die jaar in die Lephalale-omgewing gevang het.
FOTO:VERSKAF Mnre. Marius Koekemoer (regs) en Otto Bousema van Limcroma Safaris, met ’n luislangwy­fie wat op 27 Januarie gevang is – die 100ste slang wat hy sedert die begin van die jaar in die Lephalale-omgewing gevang het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa