Restitusie moenie sluitingsdatum hê
OM WERKLIK reg aan restitusie te laat geskied, moet dit van ’n “vyfjaarprojek” na ’n tydlose program verander, meen
Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
Hy sê restitusie se swak punt is die feit dat dit ’n projek is. Indien dit ’n program is, hoef dit nie gesien te word as “iets wat môre voltooi moet word” nie.
SÓ het Nkwinti voortgebou op sy aankondiging ná die Staatsrede dat die Regering grond sonder vergoeding wil onteien.
“As dit ’n lewenslange program van restitusie word wat grondregte aan ons mense herstel, kan daar op ’n regverdige manier gewerk word. As jy diskriminasie toepas, moet dit billike diskriminasie wees.”
Dit is daarom ook belangrik dat die Nasionale Grondeisekommissie herontwerp en in ’n Artikel 9-instelling verander word, soos die Onafhanklike Verkiesingskommissie, die Openbare Beskermer en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie. Nkwinti het reeds aangedui dat ondersoek ingestel sal word na wat billike diskriminasie in die Grondwet beteken. Indien restitusie sonder vergoeding binne die perke van die Grondwet kan geskied, hoef die Grondwet nie gewysig te word nie.
Me. Annelize Crosby, regsen-grondbeleidsadviseur vir Agri SA, sê Artikel 25 van die Grondwet praat nêrens van billike diskriminasie nie. Dit praat slegs van billike en regverdige vergoeding. Artikel 9 van die Grondwet (die gelykheidsklousule) bevat die term “onbillike diskriminasie”, maar dit is nie duidelik wat dit met vergoeding by onteiening te make het nie.
Restitusie is reeds nie net ’n vyfjaarprojek nie. Dit duur al langer as twintig jaar.
“Die Regering self het in ’n stadium begin om spertye vir die afhandeling van restitusie te stel.”
Boere se grootste kommer oor restitusie is die onsekerheid wat onafgehandelde eise meebring, en die nadelige gevolge vir belegging.